Snowden ontken dat hy geheime aan Rusland, China gelek het

snowden2Die voortvlugtige Amerikaanse spioen Edward Snowden het ontken dat hy geheime dokumente aan Rusland of China gegee het.

Die voormalige spioenagentskap-kontrakteur het al die geklassifiseerde dokumente wat in sy besit was, aan joernaliste gegee wat hy in Hongkong ontmoet het. Hy het daarna na Moskou gevlieg, het Snowden aan die New York Times gesê.

Rusland het in Augustus tydelike asiel aan Snowden toegestaan. Hy het nie die dokumente na Rusland geneem nie, “want dit sou nie in openbare belang wees nie”.

Snowden beweer ook hy het die dokumente van die Chinese intelligensiedienste weerhou omdat hy geweet het waartoe hulle in staat is.

“Daar is geen kans dat die Russe of Chinese enige dokumente ontvang het nie.”

Amerikaanse owerhede het hul kommer uitgespreek dat Snowden dalk geheime dokumente aan buitelandse intelligensiedienste oorhandig het. – Sapa/AFP