Die Gautengse regering moet R700 miljoen aan die Gautrein se operateurs oorbetaal. Die Gautrein-bestuursagentskap (GMA) verwag egter ’n toename van sowat 10% – sowat 5 000 passasiers – wanneer die e-tolstelsel ingestel word.
Die GMA beplan voorts om die bestaande Gautrein-stelsel met nuwe roetes na Soweto en die Oos-Rand uit te brei.
Die GMA moet glo bykomende onvoorsiene koste, soos die finalisering van grondeise, regskoste weens voortslepende arbitrasie en beplanningskoste vir toekomstige uitbreidings aan die Gautreinstelsel dek.
Die gelykbreekpunt vir die Gautrein is 110 000 passasiers per dag, maar die Gautrein vervoer tans net sowat 51 000 passasiers per dag.
In 2006 het die Gautengse regering ’n waarborg gegee dat die Gautrein-uitgawes gedek sal word indien hulle nie die vereiste aantal passasiers vervoer nie.
Die Gautengse regering subsidieer dié vervoerstelsel met sowat R1,5 miljard met 50 000 mense wat daagliks pendel.
Errol Braithwaite, woordvoerder van Bombela, het gesê die Gautrein se winsgewendheid en afhanklikheid van dat staatsubsidies, verteenwoordig nie ‘n krisis nie.
“Die Gautrein is ’n openbare vervoerdiensstelsel soos die metrobusstelsel en werk in baie opsigte soos rioolaanlegte en staatshospitale. Dié stelsels word nie bedryf om wins te maak nie, maar eerder om te verseker dat die samelewing behoorlik funksioneer.”
Braithwaite sê groot stede kan nie sonder doeltreffende vervoerstelsels uitbrei nie.
Hy sê in soortgelyke treinstelsels oorsee maak net 10% van die treinstelsels genoeg omset om bedryfskoste te dek. “Nêrens maak enige stelsel genoeg geld om kapitaalkoste ook te dek nie. Dit sal naïef wees om te glo die Gautrein moet anders wees.”
Die provinsie sal in 2013 sowat R820 miljoen aan waarborge betaal om te verseker die operateur sy koste verhaal.
