Watter "suksesse" sou dit wees? Die "sukses" van ongebreidelde geweldsmisdaad wat reeds die lewens van 500 000 mense geëis het? Of die "sukses" van omgekeerde rassisme in die vorm van transformasie en rassevoorkeure wat kundige blankes uit die land verdryf en ons jeug se kanse op universiteitsopleiding bederf?
Of verwys die voormalige president dalk na uitkomsgebaseerde onderwys en die algemene ineenstorting, veral in swart onderwys, waar linkse en polities korrekte figure soos Mamphele Ramphele en Wendy Luhabe reeds verklaar het dat die destydse Bantoe-onderwys hulle veel beter vir hul loopbane in die akademiese en sakewêrelde toegerus het?
Mnr. De Klerk het 'n eenpartystelsel nagelaat wat deur die radikale groep ballinge oorheers word aan wie hy holderstebolder oorgegee het. Na sy mening is dit seker ook 'n reuse-"sukses". Die huidige skommelinge in die regerende party kom neer op 'n kapteinskapsverwisseling aan boord van die Titanic.
Mnr. De Klerk se lafhartige oorgawe sonder om hoegenaamd enige van Suid-Afrika se politieke of historiese geskille op te los, het Suid-Afrika in die drukgang na 'n Zimbabwe geplaas. Hy het ook verraad teen sy eie mense gepleeg en ons hele toekoms in 'n kranksinnige waagstuk oor sy eie vermoëns om die 1994-verkiesing te wen, verwed.
Terwyl die Britse koerante wat oor sowel Lancaster-huis as Kemptonpark met sterre in hul oë oor "die koms van demokrasie na Suider-Afrika" berig het, deesdae die skrif aan die muur sien, is FW de Klerk nog besig om die Britse rympie van 1990 op te sê.
Indien die Afrikanervolk binne die volgende paar jaar finaal – soos die blanke Rhodesiërs – uit sy geboorteland verdryf word en daar as gevolg van die absurde grondhervorming hongersnood ontstaan, sal FW de Klerk persoonlik daaraan aandadig wees.
Het dit nie tyd geword dat De Klerk sy papegaairympies staak wat deesdae so anachronisties op die oor val nie?
Voordat hy hom roem op enige fiktiewe "suksesse" in die land, behoort hy sy eie – historiese en groteske – mislukking te erken.
