Helen Suzman was vir baie jare 'n eensame verdediger van liberale waardes in die Suid-Afrikaanse parlement, het die FW de Klerkstigting Donderdag ná die liberale politikus se afsterwe gesê.
"Sy het haar vreesloos uitgespreek en aktief gewerk vir die vryheid en regte waarin sy met soveel passie geglo het. Sy het gelewe om te sien hoe baie van haar ideale waarhede geword het in die tussentydse grondwet in 1993 en ons huidige grondwet in 1996," het FW de Klerk in 'n verklaring gesê.
De Klerk het gesê hy en Suzman was vir jare lank politieke opponente, maar het mekaar altyd gerespekteer.
"Ons het wel verskil oor die behoefte om gemeenskapsregte en minderheidsregte te beskerm. Helen Suzman het geglo dat sulke regte die beste beskerm kon word deur individuele regte te waarborg, terwyl ek geglo het dat hulle spesifieke beskerming nodig gehad het."
Hy het gesê dat in onlangse jare, deur die stigtings wat hulle name dra, hulle verenig was in hulle gesamentlike doel om die regte en instellings te verdedig wat deur die grondwet beskerm word.
"Helen Suzman het 'n groot bydrae gemaak tot die totstandkoming van ons konstitusionele demokrasie en die bevordering van 'n nie-rassige regstelsel in Suid-Afrika."
