Praag-lesers behoort reeds bewus daarvan te wees dat die Afrikaanse Taalraad (ATR) berigte oor Afrikaans afkomstig uit bv Die Burger en Beeld op sy webwerf herpubliseer. Op die 14de het dit bv die teks van Leopold Scholtz se rubriek in Die Burger (13 deser) hergepubliseer en op dieselfde dag ook ‘n ander berig wat in Beeld (14 deser) verskyn het.
Ek vestig vervolgens die aandag op laasgenoemde berig, wat met die opskrif “Afrikaans en wil net hier bly” in sowel Beeld as op die ATR-webwerf gepubliseer is. Dié teks is deur Lourensa Eckard geskryf. Dit handel oor bevindings van die maatskappy FutureFact. Ek herhaal (om redes wat hieronder duidelik sal word) net die inligting wat direk op Afrikaans betrekking het en nie die ander (bv suiwer politieke) gevolgtrekkings nie. Stellings soos die volgende word gemaak:
- “Afrikaanssprekendes voel net so deel van Suid-Afrika as hul Engelssprekende en Afrikataalsprekende landgenote.”
- “Afrikaanssprekendes is ook net so toegewy aan Suid-Afrika soos hul nie-Afrikaanssprekende landgenote.”
- “Sowat 93% [Afrikaanssprekendes] meen woorde wat ander rasse as beledigend mag ervaar, behoort nooit gebruik te word nie.”
Nou kom ek by ‘n myns insiens baie interessante waarneming. Lourensa Eckard se berig is op 14 deser ook in Die Burger (p 3) gepubliseer, met hierdie opskrif: “Afrikaans, ‘maar beslis van SA’.” In hierdie geval is die volgende twee paragrawe bygevoeg:
“Altesaam 66% van alle Afrikaanssprekende ouers verkies dat hul kinders in Engels onderrig ontvang.
Die meeste bruin Afrikaanssprekende ouers (88%) verkies ook dat hul kinders in Engels onderrig ontvang. Die meerderheid van die Afrikaanse kinders is tans in Afrikaanse skole.”
Op 12 deser het Danny Titus in Beeld inligting oor die 2011-sensusstatistiek verskaf. Daarvolgens was daar 2 710 461 blankes, 3 442 164 bruines, 58 700 Asiate en 602 000 swartes wat Afrikaans as moedertaal het. Volgens FutureFact se bevindings is net 34% van hierdie ouers Afrikaans-getrou deur onderrig in Afrikaans vir hulle kinders te verlang. Die Afrikaans-ontrouheid van die wittes, Asiate en swartes word nie afsonderlik gespesifiseer nie, maar in die geval van bruines is net 12% Afrikaans-getrou. Asiate en swartes is myns insiens hoogs waarskynlik heelwat minder Afrikaans-getrou as blankes. Uit die groot verskil tussen die genoemde 34% en 12% volg my afleiding dat blankes in ‘n massiewe mate meer Afrikaans-getrou as bruines is; in so ‘n mate dat daar in werklikheid baie meer wit as bruin Afrikaans-getroues is. Dit is moontlik om hierdie rede dat daar in die berig polities korrek nie gespesifiseer word presies hoe groot die gaping tussen die dislojaliteitspersentasie van wittes en dié van bruines is nie; ‘n mens mag deesdae mos eintlik nie waag om wittes gunstiger as bruines voor te stel nie.
Die weglating van die aangehaalde twee paragrawe in Beeld en hulle byvoeging in Die Burger kan moontlik daaraan toegeskryf word dat Beeld min(der) bruin lesers het, terwyl bruines ‘n beduidende sirkulasie- en maatskaplike faktor in Die Burger se invloedsfeer is.
Maar die interessante vraag wat by my opgekom het, is: Waarom het die ATR gekies om die Beeld-berig te herpubliseer en nie die vollediger berig wat in Die Burger gepubliseer is nie? Die ATR herpubliseer immers gereeld berigte wat in hierdie twee koerante verskyn. Die redaksie van die ATR-webwerf neem dus op ‘n deurlopende grondslag kennis van wat hierdie koerante oor Afrikaans publiseer. Dat die korter Beeld-berig doelbewus (dus nie toevallig nie) vir herpublikasie gekies is eerder as Die Burger se berig kan nie aan ‘n gebrek aan ruimte toegeskryf word nie. By elektroniese publikasie is ruimte ‘n baie geringer faktor as by gedrukte publikasie op papier. Ook sou die langer berig in Die Burger die lesers van die ATR-webwerf beter oor ‘n belangrike aspek van Afrikaans ingelig het.
My gevolgtrekking is dat die ATR nie hou van wat in die twee paragrawe staan wat hierbo laaste aangehaal is nie. Die ATR verkies dus dat sy lesers nie hiervan kennis neem nie. Dit is bekend dat die ATR van die herhaaldelik uitgesproke standpunt uitgaan dat die toekoms van Afrikaans in groter mate van bruines as wittes afhang omdat daar meer bruin as wit Afrikaanssprekendes is.
Hierdie suiwer kwantitatief-gebaseerde standpunt ignoreer doelbewus die kwaliteit van die Afrikaans wat gebesig word. Daarom beskou die ATR die mengeltaal Kaap sonder meer as ‘n variëteit van Afrikaans. Wat die ATR betref, maak dit skynbaar nie saak hoe grondig of buitensporig Kaaps met Engels (bv woorde, frases, anglisistiese uitdrukking, sinsbou) besoedel is nie.
Die ATR se oordrewe beklemtoning van die rol van bruin Afrikaanssprekendes gee ook woema aan die oproepe om die herstandaardisering van Afrikaans. Myns insiens is die ATR se standpunt dat sodanige herstandaardisering veral die vorm van die verbruining en die gelyktydige ontwitting van Afrikaans moet aanneem.
Die fundamentele probleem wat die ATR met daardie gewraakte twee paragrawe het, is tweeledig. Enersyds bevestig dit by implikasie dat bruines in groter mate as wittes dislojaal teenoor Afrikaans is. Andersyds verwater dit die ATR se kwantitatief-gebaseerde argument dat die toekoms van Afrikaans by uitstek van die bruines afhanklik is. My standpunt, daarenteen, is dat blankes in ‘n massiewe mate meer Afrikaans-getrou as bruines is; dat daar in werklikheid meer wit as bruin Afrikaans-getroues is. Hieruit volg hierdie belangrike gevolgtrekking: Die toekoms (soos die verlede) van Afrikaans, selfs sonder inagname van die gehalte daarvan, is ongetwyfeld in die hande van blankes. In die praktyk is die heil van Afrikaans nie primêr aan bruines uitgelewer soos die ATR ons so graag wil wysmaak nie.
Hoe sal ons die gedrag van die ATR, met verwysing na die weglating van daardie twee paragrawe, karakteriseer of etiketteer? Byvoorbeeld, as sensuur of as sluheid? Ten slotte ook hierdie fundamentele vraag: Behoort ons die heil van Afrikaans aan die ATR toe te vertrou?
