Die polisie sal na verwagting meer verdagtes in hegtenis neem in verband met die moorde op drie jong mans van Bloemfontein.
Tien verdagtes tussen die ouderdomme van 19 en 29 is Vrydag in Bloemfontein vir die moorde in hegtenis geneem.
Die lyke van Lefa Soaisa, Vuyani Makhapela and Mojalefa Fransis is op 1 Februarie in ‘n oop stuk veld langs die nuwe Lemo-winkelsentrum in Dr Belcherweg, Heidedal deur ‘n verbyganger gevind. Daar was verskeie steekwonde aan hul bolywe.
Polisiewoordvoerder, Thandi Mbambo, sê die tien verdagtes wat Vrydag in hegtenis geneem is, het gister in die plaaslike landdroshof op ‘n klag van moord verskyn.
Sy sê hulle sal na verwagting op 20 Februarie vir borg aansoek doen. Die verdagtes bly intussen in aanhouding.
Die omstandighede wat gelei het tot die moorde is nie bekend nie. Dit kan moontlik verband hou met etniese twis.
