Nuwe generasie internasionale terreur ontbloot?

In die laat 70’s en die 80ger jare van die vorige eeu het regerings wêreldwyd hul hande vol gehad met terreurbewegings soos die Rooi Brigades, Montenero’s, die Bader-Meinhoff’s, Japannese Rooi Leër, Swart September en ander wat met Carlos (die Jakkals) as fasiliteerder internasionaal hande gevat het.

Die volgende ernstige generasie transnasionale terreur het van Osama bin Laden se Al Kaïda gekom, en het in hoofsaak ‘n radikale Islamitiese grondslag.

Pas het ‘n Spaanse regter keel skoongemaak en beskuldigings gedoen wat op internasionale samewerking dui waar ideologie terugstaan vir een raakvlak – geweld.

Regter Eloy Velasco het ‘n stappie verder gegaan en die Venezuelaanse regering van pres,. Hugo Chavez van steun aan die samewerking beskuldig.

Die beskuldiging spruit uit die verhoor van ses lede van die Baskiese ETA-beweging en sewe lede van die Colombiaanse beweging, FARC, op aanklagte van onder meer terrorisme en sameswering tot moord.

Volgens regter Velasco werk dié twee terreurorganisasies reeds sedert 1993 saam, en het ETA-lede opleiding in FARC-rebellekampte in Colombia ondergaan.

FARC-lede het weer by geleentheid na Spanje gereis om met ETA se hulp ‘n vorige Columbiaanse president, Andres Pastrana en die huidige regeringshoof, Alvaro Uribe in Spanje te vermoor.

Dié samewerking word skynbaar gefasiliteer deur ‘n ETA-lid wat nou in Venezuela woon, Arturo Cubillas Fontang. Fontang het voorheen ‘n pos in Chavez se regering beklee, maar sy huidige posisie is onbekend.

Chavez is bekend vir sy rewolusionêre leerstellings en vriendskap met lande soos Kuba, en dat hy sy land se olierykdom mildelik aanwend. Waarnemers wat meer sinies is, meen Chavez se pro-rewolusionêre standpunte is bloot ‘n rookskerm om sy eie diktatoriale optredes, soos skerp inkorting van mediavryheid en ander demokratiese instellings te probeer verdoesel.

Vir ETA kan die openbaarmaking van bande met FARC en Chavez baie slegte nuus inhou. ETA het by baie ‘n bietjie sentimentele “kapitaal” omdat Spanje kopsku is om aan die volle selfegeringsverwagtings van baie Baske te voldoen. Hierdie sentiment spruit volledig uit nasionalistiese sentimente vir minderhede wat tradisioneel aan onderdrukking onderwerp is. In daardie geledere is daar gewoonlik min ooghare vir anti-demokratiese terreurgroepe wat ‘n Marxistiese streep weg het.

Boonop verdien FARC volgens militêre waarnemers jaarliks in die orde van $300 miljoen deur onwettige aksies, waarvan 65 % dwelmbedrywighede behels. Trouens, FARC word as een van die wêreld se belangrikste eksponente van die internasionale dwelmkartel beskou.

Meng jou met die varke…

расчет гидроаккумулятораФильчаков прокуратура харьков

Mediawoelinge in Biskaje

Die selfegeringstatus wat die Baske na Franco se dood van Spanje verkry het, het nie alle probleme opgelos nie. Dit word goed deur die lot van twee koeante in hierdie gebied gedemonstreer.

Aan die een kant het die aanklaers nou, na sewe jaar gevra dat die vyf Baskiese joernaliste wat tereg staan dat hul koerant, Egunkaria, die Baskiese terreurgroep, ETA, gesteun het, nou vrygelaat word. Die aanklaers voer aan dat daar ‘n gebrek aan bewyse bestaan. Die koerant is sedert 2003 nie meer toegelaat om te verskyn nie.

Pas het ‘n vermeende ETA-bom by nog ‘n dagblad afgegaan, ‘n meter dik muur – juis versterk teen moontlike bomaanvalle – verwoes en ‘n deel van die gebou se dak het ook in die slag gebly. Hierdie koerant, El Correo (Die Koerier) verskyn in Spaans.

Verslaggewers sonder Grense het op beide insidente gereageer. Dié organisasie vra dat die regter die vyf joernaliste vryspreek en dat die koerant toegelaat word om weer te verskyn. Die uitgerekte verhoor en verdagings jaar na jaar was as onwaardig van ‘n lidland van die Europese Unie beskryf. Die vermeende ETA-aanval op El Correo is ook veroordeel.

Die Baskiese gebied – dit wil sê waar die Baskiese owerheid oor ‘n mate van selfregering beskik, bestaan uit die provinsies Biskaje, Alava en Guiposcua. Pogings om Biskaje op staatkundige gelyke voet met die res van Spanje te plaas en die reg op afskeiding word veral in Spanje teengestaan. Intern is die Baske ook nie volkome eendragtig nie. Die talle dialekte van Baskies en die teenwoordigheid van verskeie klein minderheidsgroepe in Baskiese gebied het Spaans in sekere opsigte, veral hoër onderrig, ‘n voorkeurtaal gemaak. Eers teen die einde van die 20ste eeu is ‘n gestandaardiseerde Baskies, Batue, ingevoer wat die taal volwaardige wetenskaplike uitdrukkingsvermoë gee. Dit sal na verwagting die status van Baskies by sy eie sprekers baie bevorder.

happy townФильчаков прокурор отзывы