Plaasuitsettings is ’n menseregtekwessie, sê die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming Gugile Nkwinti en hy gaan ‘n ondersoekspan ontplooi na “brandpunte”.
Nkwinti het gereageer op berigte oor plaasuitsettings in die Wes-Kaap. Hy het aangekondig dat die span die stand van plaasuitsettings in die provinsie sal bepaal.
Die span senior amptenare sal uitsettingsbrandpunte in Suid-Afrika identifiseer. Die Wes-Kaap is een van die brandpunte.
Die onsekerheid oor die Esta-wetgewing (die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg) wat strenger verblyfreg vir plaaswerkers voorstel, is glo die wortel van die probleem.
Nkwinti het tydens die parlementêre portefeuljekomitee se vergadering oor landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, en Nosey Pieterse, voorsitter van die plaaswerkersvakbond Bawusa het skrywes in dié verband aan hom gerig.
Winde wou volgens Nkwinti bewyse hê van die 247 plaasuitsettings sedert 1 April vanjaar in die Wes-Kaap waarna Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, drie weke gelede verwys het. Skwatsha het toe ook ’n moratorium op uitsettings versoek.
Intussen het Costau boere in die Wes-Kaap gedreig met plaasbesettings. Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van die vakbondfederasie het gesê plase in die provinsie gaan op groot skaal beset word indien boere nie ophou om werkers van plase uit te sit nie.
Dié dreigemente voorspel ‘n herhaling van oproer soos in 2012 toe arbeidskwessies in De Doorns opgevlam het.
Agri Wes-Kaap sê daar is nog nie genoeg inligting oor die uitsettings beskikbaar nie.
