Sterkste sikloon tref Suidelike halfrond

Toeriste het Maandag begin om van die sikloon-geteisterde Fidji te vlug nadat die dodetal tot 20 gestyg het.

Amptenare waarsku dat die syfer verder kan toeneem soos verslae van verafgeleë gebiede ontvang word.

Lugfoto’s toon dat verskeie afgeleë nedersettings heeltemal in puin gelê is deur die tropiese sikloon, Winston, wat Saterdagnag met windstorms van tot 325 kilometer per uur die eilandnasie in die Stille Oseaan, getref het.

Winston, die sterkste sikloon wat nog ooit in die Suidelike Halfrond aangeteken is, het huise platgevee, die infrastruktuur lamgelê en bevreesde inwoners genood­saak om skuiling in sentrums vir veiligheid te soek.

Hope brandhout is al wat van baie huise oor is en dakplate en meubels lê die wêreld vol besaai deur winde wat so sterk was dat dit die blare en takke van bome afgeruk het.

Internasionale toeriste, wat vasgevang was in die ramp, het begin om die eiland te verlaat nadat vlugte van die Nadi-lughawe hervat is, nadat die lughawe vir twee dae gesluit was.

VSA verhoog noodvoedsel na Ethiopië

Amerika het sy noodvoedselhulp aan Ethiopië met byna US$100 miljard verhoog om een van die ergste droogtes in dekades te bestry.

Volgens die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAID) is die hulp dringend nodig om ’n humanitêre krisis af te weer, het AFP berig.

Die VSA sê die droogte word deur die El Niño-klimaatverskynsel veroorsaak en het seisoenale reën beïnvloed.

Volgens USAID-administrateur, me. Gayle Smith, is die geld hiervoor nodig “nie waar dit moet wees nie”.

“Dit is die ergste El Niño in die geskiedenis en dit het veral die vasteland van Afrika, veral Ethiopië, geraak waar 11 miljoen mense betrokke is.”

Kwik styg na 40 in Gauteng

Alhoewel koeler toestande vir die suid-westelike dele van die Wes-Kaap voorspel word, sal Gautengers nog ‘n bloedige warm dag moet trotseer.

Die Kaapstadse weerkantoor sê daar is ook ‘n kans op reën, maar dit sal die naweek weer warmer in die provinsie wees.

Gautengers kan vandag rekord hoë temperature verwag. In sommige dele van die provinsie kan die kwik tot bó 40 grade Celsius klim.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê Johannesburg sal minstens 39 grade Celsius bereik, en in Pretoria kan dit tot 41 kan styg.

Indien die voorspellings korrek is sal dit die warmste dag op rekord vir die provinsie wees.

Woensdag het Bloemfontein en Kimberley hul warmste temperature ooit aangeteken met onderskeidelik 41- en 42 grade Celsius. ‘

Volgens die Weerdiens beteken die sterk El-Niño weerverskynsel dat normale weerstoestande eers teen April of Mei verwag word.

Boere, wat reeds gebuk gaan onder die ergste droogte in dekades, se hoop op uitkoms mag verydel word.