‘n Span van 20 Russiese kernfisici het vandeesweek met 50 Suid-Afrikaanse amptenare in die Drakensberg vergader, volgens ‘n berig in die Johannesburgse dagblad Beeld. Die groepie vergader blykbaar by die Champagne Sports Resort, wat as ‘n “luukse oord” beskryf word.

Die Suid-Afrikaanse groepering word aangevoer deur Zizamele Mbambo, adjunk-direkteur-generaal van energie, terwyl die Russiese span almal vir die staatskernkragmaatskappy Rosatom werk.
Volgens Beeld “verskyn Rosatom se naam egter nêrens in die hotelregister, op die Russe se naamkaartjies of op die plekaanwysings vir die verskillende konferensielokale nie”.
Ons het vroeër berig oor Rosatom se “verklaring… waarin bekendgemaak is dat hy ‘n ooreenkoms ter waarde van R100 miljard met die Suid-Afrikaanse regering gesluit het vir die toevoeging van ‘n kernkrag-vermoë van 9 600 megawatt”.
Wiktor Polikarpaf het blykbaar vandeesweek se byeenkoms in die Drakensberg bygewoon, aangesien sy naam in die hotelregister by chalet 27 verskyn. Hy staan aan die hoof van Rosatom se Suid-Afrikaanse kantoor in Sandton.
Beeld se verslaggewers, wat volgens die berig die hotel “geïnfiltreer het”, het twee Russiese gaste in “gholfhemde met Rosatom se naam daarop” by die ontbyttafel opgemerk.
Volgens Mbambo is dit bloot ‘n inligtingsessie waartydens die verkoopspan van Rosatom geleentheid gegee word om hul toerusting aan te bied. Ander lande se kernbedrywe sal ook so ‘n geleentheid gegun word. Frankryk en China sal volgende aan die beurt kom.
“Ander genooide lande, insluitend Suid-Korea en Amerika, sal hul voorleggings betyds reg moet hê as hulle vir die program oorweeg wil word,” het Mbambo gesê.
Die Russiese voorleggings was “omvattend”, het Mbambo gesê. Volgens hom is die geheimhouding nodig “om hierdie maatskappye se eiendomsreg” te beskerm. Toekomstige verkrygingsprosesse sal heeltemal deursigtig wees, het hy gesê.
Van die ander kernkragvervaardigers het egter gekla dat hulle nog nie genooi is nie.
‘n Fotograaf van Beeld, Rowan Philp, het hom as ‘n genooide amptenaar voorgedoen en vir 15 minute een van die werksessies bygewoon. Tydens die 15 minute is heelwat vrae oor die veiligheid van die reaktors vanaf Suid-Afrikaanse kant via ‘n tolk gevra. Die woord Foekoesjima, setel van die Japanse kernramp ná die tsoenami van 11 Maart 2011, is verskeie kere gehoor, maar soms nie getolk nie. Volgens die Russe is veiligheid ‘n hoë prioriteit by die ontwerp van Rosatom se kernkragsentrales. “Ons ontwerp verwyder hitte; ons hoofdoel is om veiligheid te verskaf”.
Die Russiese wetenskaplikes het egter erken dat hul kernkragsentrales slegs langs riviere en nie naby die see gebou is nie. Weens Suid-Afrika se gebrek aan groot riviere, sal seewater noodwendig, soos in die geval van Foekoesjima, vir verkoeling gebruik moet word.
