Verskeie regskenners het regter Thokozile Masipa se uitspraak in die Oscar Pistorius-moordverhoor gekritiseer nadat sy die paralimpiese atleet nie skuldig bevind het aan moord nie.
Masipa het daarna wel bevind dat Pistorius nalatig opgetree het toe hy Steenkamp op 14 Februarie verlede jaar by sy huis in Pretoria doodgeskiet het.
Die regter het in die eerste deel van haar uitspraak wat Donderdag gelewer is in Pretoria, bevind dat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat Pistorius sy vriendin Reeva Steenkamp met voorbedagte rade vermoor het nie.
‘n Regsverteenwoordiger, Llewellyn Curlewis sê daar is grys gebiede in die Suid-Afrikaanse regstelsel wat betref die toets vir bedoeling.
Bedoeling berus op die regsbeginsel dolus eventualis wat ‘n subjektiewe toets is.
Curlewis het gesê dit word tot ‘n groot mate aan die diskresie van voortsittende regter oorgelaat om die gemoedstoestand van die beskuldigde te bepaal.
Pistorius kan nog op aanklagte van strafbare manslag skuldig bevind word, of vrygespreek word. Die uitspraak word vanoggend om halftien in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria voortgesit te midde van groot mediabelangstelling.
