Regsbeginsel wat Oscar bevoordeel ‘n grys gebied

Verskeie regskenners het regter Thokozile Masipa se uitspraak in die Oscar Pistorius-moordverhoor gekritiseer nadat sy die paralimpiese atleet nie skuldig bevind het aan moord nie.

Masipa het daarna wel bevind dat Pistorius nalatig opgetree het toe hy Steenkamp op 14 Februarie verlede jaar by sy huis in Pretoria doodgeskiet het.

Die regter het in die eerste deel van haar uitspraak wat Donderdag gelewer is in Pretoria, bevind dat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat Pistorius sy vriendin Reeva Steenkamp met voorbedagte rade vermoor het nie.

‘n Regsverteenwoordiger, Llewellyn Curlewis sê daar is grys gebiede in die Suid-Afrikaanse regstelsel wat betref die toets vir bedoeling.

Bedoeling berus op die regsbeginsel dolus eventualis wat ‘n subjektiewe toets is.

Curlewis het gesê dit word tot ‘n groot mate aan die diskresie van voortsittende regter oorgelaat om die gemoedstoestand van die beskuldigde te bepaal.

Pistorius kan nog op aanklagte van strafbare manslag skuldig bevind word, of vrygespreek word. Die uitspraak word vanoggend om halftien in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria voortgesit te midde van groot mediabelangstelling.

16 thoughts on “Regsbeginsel wat Oscar bevoordeel ‘n grys gebied”

    1. Hierdie hele storie en al sy spelers is ‘polities korrek’ om vir die wêreld te wys hoe ‘reg en regverdig’ ‘n swart regter kan bevind oor ‘n wit man want sy is ‘geleerd’, maar die wit man in teenstelling is trigger-happy en vermoor nie net swartes links en regs nie, maar selfs hulle pragtige meisies. My opinie.

      1. Verseker speel dit ‘n groot rol.

        Jy weet…, ‘n mens hoef nie die reg te ken om tot ‘n “regsgesonde” slotsom te kom nie. Wat my “kronies” (Nie eens telkens) verstom laat, is die hoeveelheid inligting – wat hulle NIE aan (ge)raak het nie.

  1. Daar is ‘n Engelse gesegde wat lui: “Difficult cases make bad law”. Ek is bevrees dis ook hier die geval.

    Die feite in die Pistorius saak is dat hy vier skote deur ‘n toe toiletdeur gevuur het en sy metgesllin, Reeva Steenkamp, wat in die toilet was, gedood het. En dis omtrent al. Die ander vrae wat daarby kom, is meesal regsvrae eerder as feitevrae en dus aangeleenthede waaroor eindeloos geredekawel en hare gekloof kan word:

    In die loop van die saak het Pistorius die verweer geopper dat hy gemeen het daar was ‘n “rower” in die huis. Die hof het skynbaar min of geen waarde aan hierdie verweer geheg en dus het die saak hoofsaaklik gewentel om die gesindheid waarmee Pistorius vir Reeva geskiet het.

    Tersaaklike vrae was dus:

    Het Pistorius geweet Reeva is in die toilet? Dis omtrent die belangrikste vraag.

    Was dit sy bedoeling om Reeva te dood? (die opsetvereistge vir moord) Ook kardinaal.

    Moes hy redelikerwys geweet het Reeva is in die toilet? Dit word ter sake wanneer die antwoord op die eerste vraag nee is.

    As hy geweet het Reeva is in die toilet, moes hy redelikerwys voorsien het dat hy haar met vier skote kon dood? (die nalatigheidvereiste nodig vir strafbare manslag)

    Om strafbare manslag beter te verstaan: Ek en jy baklei. Ek gryp ‘n stok wat daar rondlê en gee jou ‘n flinke hou oor die kop, gladnie met die idee om jou dood te maak ne, maar net om jou so’n bietjie uit te kikker. Jy slaan neer en sterf op die toneel of later in die hospitaal. Blote aanranding.
    Die stok is egter besonder swaar met ‘n allemintige knop en enige normale mens sou verwag dat as jy iemand met so’n wapen oor die kop slaan, jy hom kan dood: Strafbare manslag.

    Wat betref Dolus Eventualis: Dolus Eventualis is die opsetvereiste in die soort gevalle waar ‘n persoon iemand wil doomaak maar dis eintlik vir hom om’t ewe watter persoon gedood word. Gevalle hiervan is legio in ons geskiedenis: Die Kerkstraatbom, die bomaanval op die winkelsentrum in Amanzimtoti, die aanval op gemeentelede van die St James Kerk, Robert McBride se bomaanval op die Magoo’s Bar. Dolus Eventualis is nie op Pistorius se saak van toepassing nie, want sy bedoeling was, volgens hom, nie om enige persoon te dood nie en die hof het ook nie bevind dat hy iemand wou dood nie. Daar was ook net een persoon in die toilet en dit was Reeva. ‘n Gewone mens sou kon vra, as hy Reeva ne wou skiet nie, wat wou hy dan eintlik doen?

    Ten slotte is daar nog ‘n aangeleentheid wat miskien eerder een van logika is van die reg. As Pistorius skuldig is daaraan dat hy Reeva uit nalatigheid geskiet het, het hy uiteraard geweet sy is in die toilet. Ek meen hy het dit ook metterloop erken. Nou, as hy geweet het Reeva is in die toilet, hoe kon hy haar uit nalatigheid, d.w.s. per ongeluk, geskiet het? Hoe is dit moontlik dat ‘n mens nalatig of per ongeluk vier skote op ‘n gillende vrou kan skiet, al is dit nou deur ‘n toe deur?

    1. Nog net een opmerking: Daar was in hierdie saak twee maniere vir die hof om Pistorius se bedoeling of opset te bepaal. Die een is die feit dat Pistorius gesê het dat hy nie die bedoeling gehad het om Reeva te dood nie en die ander is sy gedrag self nl. die feit dat hy vier skote gevuur het op iemand wat hy ken in ‘n klein ruimte agter ‘n geslote deur. Die hof het in hierdie geval skynbaar Pistorius se woord aanvaar.

    2. ” ………….Wat betref Dolus Eventualis: Dolus Eventualis is die opsetvereiste in die soort gevalle waar ‘n persoon iemand wil doomaak maar dis eintlik vir hom om’t ewe watter persoon gedood word.”
      En wat van die situasie waar ‘n persoon wat bv ‘n vuurwapen afvuur in die rigting van ‘n ander persoon, geen bedoeling het om hom te dood nie maar tog die moontlikheid daarvan kon voorsien het of dit redelikerwys van hom verwag kon word om dit inderdaad te kon voorsien het.
      ‘n Voorbeeld wat ek nog uit my studiejare kan onthou is die geval van ‘n persoon wat na eende op ‘n dam skiet terwyl daar iemand anders aan die ander kant van die dam hengel.
      Jy trap bietjie klei met jou uiteensetting van dolus eventualis. Behalwe vir die aanhaling hierbo ook die voorbeeld van die kierie wat jy bybring met nalatigheid is ‘n voorbeeld.
      Dan beskryf jy die kierie asof dit ‘n swaar stok is. Nogal ‘n verskil veral as mens dink waar die voorval na bewering sou plaasgevind het. In ‘n mens se huis kan daar ‘n kierie wees maar dit is darem nou nie elders geredelik beskikbaar nie.

      1. Hallo Johan. Vra jy my of sê jy my? As jy my vra, dan antwoord ek jou so: (Terloops ek is nie ‘n regsprofessor nie, hoor!)

        Jou voorbeeld van die persoon wat ‘n vuurwapen afvuur in die rigting van ‘n ander persoon sonder die bedoeling om hom te dood, maar tog die moontlikheid daarvan kon voorsien het dat hy hom sou dood, of redelikerwys van hom verwag kon word om te voorsien dat hy die persoon sou dood : Hierdie is ‘n klassieke voorbeeld van nalatigheid en dus van strafbare manslag. Die dader het geen bedoeling gehad om die slagoffer te dood nie (skuldvereiste vir moord), maar hy het skynbaar nie die nodige versigtigheid aan die dag gelê wat van ‘n redelike mens verwag kan word nie. Hy was dus nalatig waardeur iemand sy lewe verloor het, maar geen sprake van moord nie.

        Die persoon wat na eende op ‘n dam skiet en dan iemand wat aan die ander van die dam hengel, raakskiet of doodskiet: Dieselfde beginsel is hier van krag. Daar was duidelik geen bedoeling om die hengelaar dood te skiet nie, maar het die jagter die nodige versigtigheid aan die dag gelê wat van ‘n redelike mens verwag word? Indien nie, was hy nalatig en skuldig aan manslag.

        Die storie van die kierie verskil nie hiervan nie.

        As ek die beslissing in die Pistorius saak reg verstaan, was dit bevind dat hy nalatig was, m.a.w. hy was in die posisie van die eendejagter in die voorbeeld hierbo: . sy optrede het uitgeloop op ‘n ongeluk. Na my beskeie en eerbiedige mening was dit nie die geval nie en is die saak verkeerd beslis.

        My uiteensetting van dolus eventualis is korrek. Dolus het betrekking op opset d.w.s. in hierdie konteks die skuldvereiste vir moord. Die dader het die bedoeling gehad om iemand te dood. Daar mag in die Pistorius saak van dolus eventualis sprake wees indien Pistorius nie geweet het wie in die toilet was nie, maar in elkgeval die bedoeling gehad het om wie ookal daar was te dood en nie omgegee het wie dit was nie. Maar soos gesê die feite dui nie hierop nie en ek twyfel of hierdie leerstuk in Pistorius se geval van toepassing is.

        Let wel egter, ek oordeel nie Oscar Pistorius nie soos ‘n Praagleser my dit elders voor die deur lê. Ek gee net ‘n beredeneerde mening waarvan enigiemand welkom is om te verskil.

        1. Karel, die enigste, na my mening, verskil tussen ons is dat dolus eventualis inderdaad ook opset aandui wat tot ‘n bevinding van moord kan lei.
          Toegegee, ek moes in my kommentaar (op joune) uitgebrei het op dwaling. OP het moontlik die bedoeling gehad om te dood maar gee voor hy het gedwaal.
          Ek deel jou sentiment dat jy nie OP oordeel/veroordeel of wat ookal nie. Jou kommentaar handel oor, wat vir my een van die egte grysgebiede van die strafreg is.
          Ek het in een van my vorige kommentare dit gestel dat Roux daarop ingestel is om ‘n skuldigbevinding aan strafbare manslag te verkry. Hy het geslaag.
          Die problematiek soos ook in jou kommentaar uiteengesit, onderstreep die punt dat ‘n aangeklaagde nie altyd of noodwendig aan die ter las gelegde misdaad skuldig bevind hoef te word nie. Hy kan aan ‘n mindere misdaad skuldig bevind word met ewe vernietigende resultate vir hom ongeag die vonnis.
          ‘n Oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand is soms ‘n baie genadige straf maar minder regverdig.

  2. Ek het beslis nie geoordeel nie en bloot ‘n beredeneerde mening uitgespreek. My betoog kom daarop neer dat dit moeilik is om enigiets anders as bedoeling om te dood af te lei uit Pistorius se gedrag. Vier skote namekaar op ‘n vrou wat skree, waarvan ek meen drie skote haar getref het. Die feite dui dus daarop dat, in teenstelling met wat jy sê, die kanse dat hy haar sou tref eintlik drie teen een is. Dis die feite. My kommentaar is in eenvoudige, helder en duidelike Afrikaans en daar is niks “fancy” aan nie. Jy sê “almal weet en hy het erken hy het haar geskiet”. So wat is die probleem? Opset is ‘n geestestoestand en dit is bykans onmoontlik om dit in enige saak te bewys. Opset word uit die omstandighede afgelei. Vir my dui die omstandighede daarop dat hy bedoel het om haar te skiet en dit inderdaad gedoen het. Los maar onsinnighede soos “x-ray eyes” (x-straal oë in Afrikaans), ons is grootmense hier. As jy simpatiek staan teenoor Pistorius is dit jou goeie reg, maar onthou net hy leef nog en Reeva is dood.

  3. “bloot ‘n beredeneerde mening uitgespreek” – dis al wat Karel Combrinck gedoen het.

    @Chris van Rensburg: “So wees versigtig om te oordeel , sodat jy nie geoordeel word nie.” … wees so gaaf om asb. wanneer jy die Bybel aanhaal dit korrek te doen.

    Mat 7:1-2 “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”

  4. Jammer as ek teem. Die storie wil my net nie los nie. Miskien is ek die enigste een wat nog nie verstaan nie! Kom ek probeer weer:

    Ons bepaal ons by die moordsaak alleen.

    In enige strafgeding moet die staat bo redelike twyfel bewys dat die beskuldigde bedoel het om die bepaalde misdaad te pleeg. Die regsgeleerdes praat van dolus. Dit geld uiteraard ook vir moordsake.

    As ‘n persoon die bedoeling gehad het om ‘n mens se lewe te neem en dit inderdaad gedoen het, is hy skuldig aan moord.

    In die onderhawige saak het die hof beslis dat op grond van die beskikbare feite en getuienis die staat nie bo redelike twyfel bewys het dat Pistorius die bedoeling gehad het om iemand te dood nie. En daarmee is die moordsaak gesluit. Geen bedoeling, geen skuld, geen moord. Einde van storie.

    Om nou hier dolus eventualis by die hare by te sleep is totaal oorbodig en verwarrend daarby. Dolus eventualis beteken by doodslag nog steeds skuld, dit wil sê die doelbewuste veroorsaking van die dood van ‘n mens. Om te wil vra of Pistorius die bedoeling gehad het om persoon B (Reeva) te dood, terwyl reeds beslis is dat hy nie die bedoeling gehad het om persoon A (die rower) te dood nie , is gewoon onsinnig. Dolus eventualis sou van toepassing wees indien die beskuldigde die bedoeling gehad het om ‘n persoon te dood en die dood van enigiemand anders wat in die gevaarsone verkeer het, op die koop toe te neem. Niks hiervan is van toepassing nie.

    Netso met dwaling wat ook hier en daar genoem word. Dwaling sou eers ter sprake wees wanneer beslis is dat die beskuldigde die bedoeling gehad het om ‘n bepaalde persoon te dood, maar dinge het skeefgeloop en hy het iemand anders, as’t ware per ongeluk, gedood. Dis duidelik ook nie hier die geval nie.

    Dus: Pistorius het op grond van die feite en die getuienis nie die bedoeling gehad om iemand te dood nie. Die hof beslis dat Pistorius onskuldig is aan moord aangesien hy geen bedoeling gehad het om iemand te dood nie, maar dat hy wel nalatig is en nie die versigtigheid wat ‘n mens van ‘n redelike mens kan verwag, aan die dag gelê het nie. Die dood van Reeva was dus te wyte aan ‘n ongeuk en niks anders nie.

    ‘n Gewone mens sou kon vra watter bedoeling Pistorius dan eintlik kon gehad het deur vier skote deur ‘n toe deur te vuur waarvan drie die slagoffer getref het, maar ‘n geregshof is nie die plek vir gewone mense nie.

Maak 'n opvolg-bydrae