Die Menseregtekommissie se vreemde uitsprake

Sedert sy instelling het die Menseregtekommissie of van sy lede verskeie kere met uitsprake en opmerkings gekom wat wenkbroue hoog laat lig het. Ernstige bedenkinge is geopper oor die organisasie se basiese benadering tot hierdie kwessie.

Die jongste in ‘n hele reeks vreemde uitsprake het gekom in ‘n nogal belangwekkende beraad wat die MRK gehou het om die probleem van misdaad en die impak daarvan op mensregte te bespreek.

Te midde van die besprekings is opmerkings deur lede van die MRK gemaak wat ‘n mens slegs kan laat wonder of die instansie dan nie aanvalle en moorde op plaasboere as ernstige misdaad en ‘n growwe skending van menseregte beskou nie.

Die landbouorganisasie, AgriSA, het syfers op die beraad voorgelê wat dit baie duidelik maak dat plaasaanvalle ‘n uiters sorgwekkende probleem is. Volgens hulle syfers was daar sedert 1991 9 600 plaasaanvalle waarin 1560 mense vermoor is. Meer as twee-derdes van die slagoffers van plaasaanvalle was wit wat dui op ‘n belangrike rol wat ras in die aanvalle speel. Daar is ook kommer oor die wyse waarop boere deur sekere nie-regeringsorganisasies en ook openbare amptenare uitgebeeld word, het die organisasie daar aangevoer.

Dit was egter nie voldoende rede vir Judith Cohen, ‘n kommissielid van die MRK, om dit as vergrype van menseregte te beskou nie. Inteendeel, sy het AgriSA skerp gekritiseer omdat hy aanvoer dat haatspraak ‘n sterk faktor is in plaasmoorde.

Nie alleen word hierdie syfers oor plaasmoorde betwis nie, het sy gesê, maar as daar mooi na die landbouorganisasie geluister word, is dit duidelik dat hulle net begaan is oor wit plaasbewoners. Intussen kom daar steeds uitsettings van werkers van plase voor en word plaaseienaars nie hieroor skuldig bevind nie, het sy verder aangevoer.

Die implikasie van mev Cohen se opmerkings is mos duidelik vir enigeen: aanvalle en moorde op wittes op plase word nie deur die MRK as vergrype van menseregte gesien nie, maar wel vermeende uitsettings van plaaswerkers.

In haar stelling oor afsettings wat steeds dikwels voorkom, het sy eenvoudig bewerings van hierdie aard deur onder meer die minister van landbou en ander ANC-leiers klakkeloos herhaal sonder om stawende syfers of ander bewyse te gee.

Dit is juis hierdie soort benadering tot feite en die werklikheid wat ‘n mens uiters bekommerd laat oor die regering en sy instansies, soos die MRK, se werklike erns om misdaad en die aantasting van mense se reg op lewe en veiligheid aan te spreek.

Daar kan ‘n goeie saak uitgemaak word dat mev Cohen se opmerkings as ‘n herhaling van die uitsprake van sekere nie-regeringsorganisasies gesien moet word en dus by implikasie as haatspraak teen blanke boere beskou kan word.  Maar dit sal niemand help om te probeer om ‘n klag teen haar in te bring nie want die MRK wat veronderstel is om sulke haatspraak te veroordeel en vas te vat, sal mos nie een van sy eie kommissielede oor so iets skuldig bevind nie.

En die plaasaanvallers en moordenaars dink hulle kan maar lustig met hulle wrede en bloedige dade voortgaan want wittes het duidelik in die oë van die regering en sy instansies nie menseregte nie.

ремонт компрессоров воздушныхФильчаков прокурор