Die gevare van demokrasie

In die laat tagtigerjare het die destydse Afrikaner-establishment wat uit die NP-Broederbond-Naspers-triade saamgestel was die Britse siening van Afrikapolitiek huidjie en muidjie oorgeneem.

Daarvolgens kan al die ekonomiese, etniese, politieke en ontwikkelingsprobleme op die vasteland opgelos word deur 'n stelsel van eenvoudige meerderheidsregering soos dié wat tans in Suid-Afrika geld.

Anders as wat die moderne sendelinge in Whitehall egter glo, het demokrasie tot dusver nie die wondermiddel vir Afrika geblyk te wees wat voorspel is nie. In die onlangse verlede het ons gesien hoe 'n demokratiese magstryd in Kenia en Zimbabwe tot konflik in beide lande gelei het. Voorheen was daar die Ivoorkus waar 'n verkiesing insgelyks tot burgeroorlog en die ineenstorting van die land se ekonomie gelei het.

Op 4 Augustus vanjaar het ons voorspel dat Zuma en die hofsaak teen hom 'n grondwetlike krisis gaan veroorsaak. Hoewel die korrupsiesaak teen hom voorlopig laat vaar is, het die magsentrum in die land reeds na die ANC-hoofkantoor in Luthuli-huis verskuif. Die land word reeds deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC regeer, pleks van die kabinet en die parlement.

Trouens, hoewel die nuwe president wat vandag aangewys sal word Kgalema Motlanthe gaan wees, is die hele land daarvan bewus dat Jacob Zuma die werklike leier verteenwoordig met Motlanthe wat eenvoudig sy sitplek vir hom gaan warm hou.

Die verafrikanisering van Suid-Afrika vorder met rasse skrede, want die verval van die Westerse institusionele raamwerk terwille van mag wat rondom 'n persoon sentreer, is byna volkome. Demokrasie, net soos elders in Afrika, is besig om in ons land 'n opvoering of 'n siniese klug te word wat veronderstel is om Brittanje en Amerika of beleggers op die aandelebeurs te beïndruk, maar wat vir die mense van die land byna geen voordeel meer inhou nie.

In hul voortgesette naïwiteit is daar mense en instansies wat glo dat 'n skeuring in die ANC en die ontstaan van twee groot swart partye wat mekaar by die stembus beveg vir Suid-Afrika net vrede en voorspoed kan bring.

Die potensiaal vir onstabiliteit en 'n uiteindelike meedoënlose geveg wat tot onluste en wapengeweld aanleiding kan gee, gaan by dié mense verby. In die roes van "demokratisme" soos die Amerikaanse senator Pat Buchanan dit al bestempel het, sien hulle geensins die tekens van naderende spanning en die verval van demokratiese instellings raak nie.

By gewone Afrikaners heers daar reeds kommer – selfs vrees – oor die moontlikheid van 'n uitgerekte magstryd tussen die Mbeki- en Zuma-faksies wat uiteindelik deur massas ondersteuners op voetsoolvlak met geweld uitgespook gaan word.

'n Scenario soortgelyk aan dié van ander Afrika-"demokrasieë" soos die Ivoorkus, Kenia en Zimbabwe het in Suid-Afrika baie moontlik geword.

Dis dringend noodsaaklik dat Afrikaners moet hergroepeer en hulself moet organiseer ingeval geweld en wanorde tydens aanstaande jaar se verkiesing sou uitbreek.

Demokrasie, anders as wat Brittanje en haar napraters in die SA media voorhou, lei meer dikwels tot konflik in Afrika as wat dit blywende vrede en voorspoed veroorsaak.

Dat Suid-Afrika tans 'n spanningsvolle en eventueel rampspoedige tydvak betree, sal net wêreldvreemdes en veral Afrikavreemdes ontken.

купить ползунки для новорожденных недорого киевФільчаков Олександр Васильович