Supersport het die voormalige Springbokrugbykaptein Joost van der Westhuizen as aanbieder afgedank ná sy erkenning dat hy in ‘n seksvideo opgetree het waarin hy insgelyks dwelms gebruik.
Dié bekentenis vind in sy nuwe biografie, “Joost: Spieëlbeeld” plaas.
“SuperSport het na uittrekesels uit Joost van der Westhuizen se biografie gekyk… en gesprekke met hom gevoer,” het ‘n verklaring gelui wat Sondag uitgereik is.
“Na aanleiding van dié gesprekke het SuperSport en Joost gesamentlik besluit om sy vryskut-kontrak te beëindig,” het Supersport se woordvoerder, Clinton van der Berg, gesê.
“SuperSport bedank Joost vir sy bydrae as kommentator en aanbieder en wens hom sterkte vir die toekoms toe. SuperSport sal geen verdere kommentaar lewer oor die saak nie,” het hy gesê.
SuperSport het Joost se dienste in Maart opgeskort ná die 24-jarige Marilize Van Emmenis erken het dat sy die vrou was in die seksvideo waarin Van der Westhuizen verskyn het.
In daardie stadium het hy ontken dat dit hy was wat in die video te siene was, en hy het selfs die privaatspeurder Mike Bolhuis ingespan om sy bewering te staaf.
Hy het onlangs egter teenoor Rapport erken dat dit wel hy was in die video. “En ek is baie, baie jammer dat ek gelieg het,” het hy in die onderhoud gesê.
“Vergewe my asseblief,” het hy gevra.
Volgens Rapport gee Joost in sy biografie al die besonderhede van die “hel” waardeur hy sedertdien is, wat hom “van binne opgevreet en verteer” het.
Hy het erken dat hy nie net vir die publiek gelieg het nie, maar ook vir sy vrou, die gewilde sangeres Amor Vittone.
