
Omdat farmaseutiese maatskappye in die VSA weier om verder middels vir gebruik tydens die doodstraf te verskaf, poog regslui vir twee terdoodverooroordeelde swart mans tans om die voltrekking van hul vonnisse verder uitgestel te kry. Clayton Lockett en Charles Warner sal onderskeidelik op 22 en 29 April deur die deelstaat Oklahoma tereggestel word.
Die owerheid het gister die kombinasie van middels waarmee die twee swartes tereggestel gaan word, vrygestel. Slegs ‘n enkele ander Amerikaanse staat maak van dieselfde kombinasie gebruik.
Volgens ‘n woordvoerder van Oklahoma se prokureurgeneraal, Scott Pruitt, sê die twee swartes sal met die kalmeermiddel midazolam ingespuit word, asook pankuroniumbromied en potassiumchloried, wat die slagoffers sal verlam en hul harte sal laat ophou klop. Die deelstaat het ook bekendgemaak dat ‘n apteek die midazolam en pankuroniumbromied sal verskaf, maar die naam van die apteek is nie genoem nie.
Warner se regsverteenwoordiger, Madeline Cohen, meen sy is bekommerd oor die gebruik van die mengsel vir die teregstelling, veral omdat die dosis midazolam wat deur Oklahoma se protokol voorgeskryf word veel kleiner is as dié wat deur Florida gebruik word. “Tot dusver het Oklahoma geen aanduiding gegee dat mediese kundiges oor die metode geraadpleeg is nie,” sê Cohen.
“Dié kombinasie van middels is in ‘n hand vol teregstellings in Florida gebruik en het vrae laat ontstaan omdat midazolam nie ‘n narkotiese middel is nie en dit daarom onduidelik is of dit ‘n gevangene genoegsaam sal narkotiseer vir die tweede en derde middels, wat ongetwyfeld pyn en lyding by iemand sal veroorsaak wat nie genoegsaam onder narkose verkeer nie,” gaan Cohen voort.
Volgens haar “hou die protokol ‘n wesentlike risiko in dat die veroordeelde gevangene ‘n uitgerekte marteldood weens versmoring kan sterf, vanweë die uitwerking van beide midazolam en pankoriumbromied”.
Die prokureurgeneraal het intussen gister ‘n brief aan Warner se regsverteenwoordiger geskryf waarin hy sê dat hoewel die nuwe middels van ‘n apteek afkomstig is, ‘n kwalitatiewe ontleding aangevra is wat oor ongeveer twee weke voltoot sal word en aan die gevangenes se prokureurs beskikbaar gestel sal word. Volgens die brief “word die middels op ‘n wyse geberg wat strook met behoorlike berging en sorg”.
“Boonop sal Oklahoma se departement van korrektiewe dienste u van ‘n ontledingsertifikaat betreffende die basissbestanddele wat in die nuwe amalgaam van midazolam en pankuroniumbromied gebruik gaan word,” skryf die staat.
Die groot farmaseutiese maatskappye – waarvan sommige ook in Europa gesetel is – weier om voortaan aan gevangenisse en korrektiewe departemente te verskaf; vandaar die kwessie rondom die middels wat in die teregstelling deur ‘n dodelike inspuiting gebruik gaan word.
Tien dae gelede het Oklahoma sy uitvoeringsprosedure verbreed om aan die departement van korrektiewe dienste meer opsies te bied.
Lockett en Warner het die deelstaat in Februarie gedagvaar vir meer inligting aangaande die middels wat gebruik gaan word om hulle dood te maak. Hulle en hul prokureurs het aangevoer dat die staat sy teregstellingsmetodes, waaronder die middels wat gebruik gaan word en die bron van sodanige middels, verdoesel het.
Die distriksregter van die Oklahoma-graafskap, Patricia Parrish, het verlede week beveel dat die aangehoudenes oor die reg beskik om meer oor die middels te weet. Parrish het ook ‘n hofbevel toegestaan waarin sy die geheimhouding rondom die prosedure ongrondwetlik bevind, aangesien die staat nie in die hof sy verskaffer kon bekendmaak nie.
Diane Clay, die woordvoerder vir die prokureurgeneraal se kantoor, het gesê dat, hoewel die vertroulikheidsklousule deur Parrish ongrondwetlik bevind is, is die bevel nie finaal totdat alle appelle uitgeput is nie.
Lockett gaan op 22 April tereggestel word vir die skietmoord op ‘n 19-jarige vrou van Perry in 1999. Warner is die doodstraf opgelê omdat hy in 1997 sy vriendin se 11 maande oue baba verkrag en vermoor het.
Intussen poog die regsverteenwoordigers van die twee swart mans om in die Oklahoma-appèlhof die teregstellings gestuit te kry. – Amerikaanse nuusdienste
