Wêreld se gewildste sangeres twiet vir Palestyne

Die popsensasie Rihanna, ‘n vurige Duitse sokkerondersteuner, ondersteun ook die Palestyne. Sy is een van die gewildste sangsterre in die wêreld en veral in die Midde-Ooste.

Sy moes egter noodgedwonge ‘n twiet uitvee na dreigemente van Joodse groepe.

Rihanna het glo “#FreePalestine” getwiet voordat sy dit agt minute later vinnig moes verwyder.

Volgens Beeld is dit “heel moontlik” dat sy afgeraai is omdat haar “CD-verkope” daaronder kan ly.

Agt minute was egter te laat. Die gewraakte twiet was teen daardie tyd al 7 000 keer hertwiet.

Volgens ʼn bron na aan Rihanna het die sangeres nooit bedoel om die twiet te stuur nie.

Sy was glo besig om op te lees oor die konflik toe sy per ongeluk op die hutsmerk gedruk en dit gestuur het.

Rihanna het later getwiet: “Kom ons bid vir vrede en ’n vinnige einde tot die konflik tussen Palestynse inwoners en Israel. Is daar enige hoop?”

Sy het die Duitse span Sondag in hul kleedkamer gaan gelukwens na hul oorwinning oor Argentinië.

Obama se gunsteling ster, Beyoncé is ‘n kommersiële flop in vergelyking met haar grootste mededinger Rihanna.

Rihanna het meer digitale verkope as enigiemand in die geskiedenis (100 miljoen en sy tel nog) en het 3,2 miljard YouTube-kykers.

Die musiektydskrif, die Rolling Stone beskryf haar as ‘n “Top 40 Genghis Khan”.