Calvinisme: ‘n Tweede opinie

Ek wil nie graag ’n Godsdiensdebat op Praag voer nie. Ongelukkig het Martin Labuschagne sy eie teologiese beskouinge (’n gedeformeerde vorm van fatalistiese “Calvinisme”) as vertrekpunt geneem en dit vertolk as die kernoorsaak van die afgelope 30 jaar se Afrikaner-verlamming.

Ek het ook probleme met die huidige hoofstroom “gereformeerde” Afrikaner kerke se teologiese en volksbeskouinge. Om die huidige slap Afrikaner houdinge aan die Calvinisme toe te skryf en spesifiek die uitverkiesingsleer daarvoor te blameer, is darem bietjie dik vir ’n daalder en openbaar ’n gebrek aan kennis en oor die rol wat die Calvinisme die afgelope eeue gespeel het om juis die teendeel van verlamming te bewerkstellig.

As kerke, en baie van hulle lidmate, vandag hierdie soort beskouinge huldig dan verander dit nie ’n duit aan hul afwykende teologie om eintlik hul eie liberale politieke beskouinge te regverdig nie.

Die woorde “gereformeerd” en “Calvinisties” het hier by ons, net soos vandag in die VSA, feitlik geen ander betekenis as ’n historiese naam wat met gepaardgaande “futlose” belydenisskrifte deel van hulle papierwerk is. Van die aanvaarding daarvan het net niks behalwe hul eie geskiedenis oorgebly nie.
 

Die PCUSA in die VSA is ’n voorbeeld hiervan. Al is hulle nog nie sovêr nie, is die Sinodale besluite van die NGK hier te lande die ekwivalent van die PCUSA.

Ek noem kortliks ’n paar grepe uit die geskiedenis om die dryfkrag van Calvinisme toe te lig:

  * Calvyn se stryd in Genève teen die libertyne en die stadsowerheid wat ook gelei het tot sy sterk beskouing dat Kerk en Staat geskei moet word en elkeen wat werk betref in sy eie kring sonder inmenging van die ander moet kan opereer

  * Die tagtigjarige oorlog van die Nederlanders teen die Spanjaarde. Indien hul fatalisties was, sou hulle vroeg reeds opgehou het en elke nederlaag as ’n deterministiese wegwyser vertolk het

  * Die Groot Trek wat in 1838 begin het om onder die Engelse bewind uit te kom. Die Kaapse Sinode het in 1837 hierdie trekkers ten sterkste veroordeel omdat hulle teen die owerheid in opstand gekom het. Hulle was almal Calviniste en het dit saam met hulle na die binneland geneem waar hulle teen alle “tekens” en terugslae volgehou het

  * Die besluit om die magtige Zoeloeryk met sowat 460 man aan te pak. Op die oog af ’n sinnelose besluit wat tot uitwissing en ’n mislukking van die Groot Trek kon lei

  * Die Calvinisme het ook gelei tot die Gelofte. Daar was geen determinisme in hierdie besluit nie. Hulle het nie reg gemaak vir ’n “wonderwerk” nie. Hulle het beplan vir ’n groot geveg en van meet af aan daarvoor voorberei

  * Hoewel hulle op ’n Sondag sou wou veg nie, toe dit blyk dat dít die dag van die geveg sou wees, het hulle sonder huiwering oorgegaan tot die geveg

  * Dit was Calviniste wat die Britse ryk, tóé die magtigste ryk op aarde, die oorlog aangesê het. Hulle wat skaars meer as 120 000 onopgeleide burgers in die veld kon stoot. Engeland het uiteindelik 450 000 soldate aangewend om die twee Republiekies te verslaan. Geen Arminiaan of bloot intellektuele sou dit aanpak nie. Dit was hul Calvinisme en begeerte om nie weer onder Britse bewind te staan wat die dryfkrag was. Indien fatalistiese determinisme die kenmerk van die Calvinisme is, dan sou daar definitief geen stryd gewees het nie

  * Die stigting van die NHK in die ZAR omdat die Kaapse Kerk (NGK na 1842) hul in die steek gelaat het en hulle nie weer van hulle predikante wou gehad het nie, getuig ook nie van die soort determinisme wat aan die Calvinisme toegedig word nie

  * Die GRA en die stryd van Afrikaans teen die magtige Engelse taal, is ook hoofsaaklik deur mense met ’n Calvinistiese en gereformeerde lewensbeskouing aangepak en gedryf. Wat ’n kans het so ’n klein nuwe taal? In terme van ’n deterministiese beskouing absoluut niks! Tog het Calviniste teen alle kanse in die taak aangepak

  * Die Afrikaners het egter die afgelope 30 jaar al hoe meer ongereformeerd geraak. Die groei van die AGS en die charismatiese kerke het teen ’n ongekende stroom plaasgevind. Meer as 95% van hul huidige lidmate het nog familie in of was tot onlangs nog lidmate van ’n gereformeerde kerk

  * In Amerika was teen die vorige eeuwisseling (1900) sowat 90% van gelowiges Presbiteriaans. Vandag is dit sowat 10%

  * In naam is die Afrikaner-gelowiges nog nie daar nie, maar in werklikheid is ons al baie naby, veral as afwykings van die Dordtse Kerkorde in ag geneem sou word

  * Terloops, Die afgelope 100 jaar het daar wel wêreldwyd ’n défaitisme in kerklike geledere ingetree. Die gedagte van ’n oorlewende i.p.v. ’n oorwinnende kerk het die eskatologie begin oorheers. Dit is hoofsaaklik uit Arminiaanse kringe aangeblaas en die Amerikaanse dispensationaliste , wat meer as 85% van hul gelowiges se beskouinge verteenwoordig, is oorheersend. Sowat 90% van boeke in Christelike boekwinkels alhier is deur dispensationaliste geskryf en dien as die leesstof vir “gereformeerdes”. Onthou egter, hulle is uiters Arminiaans en nie Calvinisties nie!

Wat wel waar is, is dat die oorgawe aan die ongelowige en kultuurvreemde swartes deur mense wat die Calvinisme “bely” (o.a. FW De Klerk, Pik Botha, Roelf Meyer, die Broederbond en andere) beplan en bewerkstellig is. Maar hulle Calvinisme is nie dié van die strydende Nederlanders en Voortrekkers nie!

игрушки для детей 1 годаФильчаков прокурор харьков