Nog reën word oor die Oos-Kaap verwag waar voorbereidings getref word vir die begrafnis van Mandela Sondag op Qunu.
Dit reën reeds sedert Maandag in groot dele van die provinsie en die weerdiens sê dat dit oor die naweek sal voortduur.
‘n Voorspeller, Gartrh Sampson, sê die reënweer sal eers ná die begrafnis begin opklaar, het RSG berig.
Buitelandse staatshoofde en hooggeplaastes sal nie gekeer word om Mandela se begrafnis in Qunu by te woon nie, maar word aangeraai om nie te gaan nie, het die minister in die Presidensie Collins Chabane vroeër gesê.
“Niemand sal verhoed word om dit by te woon nie…, maar gegewe die grootte en die omvang van die onderneming en die grootte van die afvaardiging en die beperkte infrastruktuur in die gebied, kan ons dit afraai,” het hy aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
Die plek in Qunu waar Mandela Sondag sal begrawe word kan slegs 5 000 mense akkomodeer.
Hy het gesê buitelandse gaste moet “die raad baie ernstig opneem”. Die hele delegasie uit die VSA, waaronder vier presidente, het reeds teruggekeer na hul land.
Die UDM-leier, Bantu Holomisa, wat ook ‘n goeie vriend is van die Mandelas, sê in weerwil van die aanhoudende reën, vorder die voorbereidings vir die begrafnis volgens plan.
Die familie het Holomisa gevra om ‘n oog daaroor te hou. Hy het almal bedank wat die reënweer trotseer om te verseker dat Madiba ‘n waardige begrafnis kry.
Die Mandela-familie het in ‘n verklaring gesê hulle is diep geraak deur die duisende mense wat die gedenkdiens Dinsdag in nat weer by die ENB-stadion bygewoon het.
Duisende mense het by die diens opgedaag ondanks deurdringende reën. Die familie het hul waardering uitgespreek vir almal wat daar was om hulde aan Madiba te bring.
