Vrou in Botaniese Tuine aangeval

Vyf swartes is in hegtenis geneem nadat hulle Dinsdag glo ‘n 26-jarige vrou beroof het terwyl sy met haar honde in die Johannesburgse Botaniese Tuin in Emmarentia gestap het.

“Die polisie het vyf verdagtes, tussen 23 en 33 jaar oud, in hegtenis geneem in verband met die rooftog,” het sers. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die vrou is met messe gedreig en haar waardevolle besittings is gesteel.

Veiligheidswagte het die polisie ontbied en het die vrou se selfoon en ander items in die verdagtes se besit gevind. Hulle het ook messe by hulle gehad.

Die groep sal binnekort in die Hillbrowse landdroshof verskyn op aanklag van gewapende roof en die besit van gevaarlike wapens.

Die polisie het ‘n beroep gedoen op stappers wat onlangs in die Botaniese Tuin aangeval is om onverwyld na vore te kom om ‘n uitkenningsparade by te woon aangesien die verdagtes moontlik aan vorige misdade verbind kan word.