Die bebloede lyk van ‘n 11-jarige meisie is die afgelope naweek in ‘n plakkershut in Limpopo gevind, het die polisie Dinsdag gesê.
Die meisie se vriendin, wat aan ernstige beserings ly, is ook in die plakkershut gevind.
Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het in ‘n verklaring gesê ‘n 27-jarige man sal Dinsdagoggend in die Bolobedu-landdroshof verskyn in verband met die voorval.
Otto het gesê die 11-jarige Hermanda Masia en haar vriendin het by nóg ‘n vriend en ‘n 20-jarige vrou in Bokhuta gaan kuier.
“Die 20-jarige vrou het die huis vroeg Sondagoggend verlaat om kerk toe te gaan, maar toe sy terugkeer, was die huis se deur afgebreek en albei meisies was vermis.
“Nadat sy rondgevra het, het sy inligting ontvang dat die meisies in dieselfde gebied by die plakkershut van die 27-jarige verdagte gesien is.”
Toe die vrou by die plakkershut ingaan, was albei meisies vol bloed en het nie beweeg nie.
Hermanda is later dood verklaar en haar vriendin is na ‘n hospitaal geneem.
Die eienaar van die plakkershut staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering en huisbraak.
‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om vas te stel of die kind ook verkrag is.
Die meisie wat die aanval oorleef het, sal ondervra word sodra sy met die owerhede kan kommunikeer. – Sapa
