Klipgooiers beskadig 18 busse in Pretoria

klipgooieryByna 18 busse wat aan die Pretoriase Busdiens behoort, is gedurende die week onder die klippe gesteek, het die stad gister laat weet.

“Busse van die stadsraad is sedert Maandag onderworpe aan klipgooiery wat sowel bestuurders as passasiers beseer het,” het die woordvoerder Blessing Manale in ‘n verklaring gesê.

Manale het gesê leë en volgelaaide busse is lukraak deur skares met klippe op verskeie plekke en tye geteiken.

Ander busoperateurs, waaronder Putco, Starline en Gautrein, is nie geteiken nie, het Manale gesê.

“Party van die bestuurders en passasiers is erg beseer en moes dringend hospitaal toe geneem word,” het hy gesê.

Die motief vir die klipgooiery is nie bekend nie. Die daders is ook nog nie geïdentifiseer nie.

‘n Saak van kwaadwillige saakbeskadiging is by die polisie aangemeld. – Sapa