Afrikaner-aktivis lê beslag op 80 rekenaars by SA Polisiehoofkantoor

'Met trane in sy helder blou oë' lê Jaap Kelder op die rekenaars in die SA Polisiehoofkantoor beslag
‘Met trane in sy helder blou oë’ lê Jaap Kelder op die rekenaars in die SA Polisiehoofkantoor beslag

Mnr. Jaap Kelder, die verbete munisipale aktivis en voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie, het so pas op 80 rekenaars in Wachthuis, die polisie se hoofkantoor in Pretoria, beslag gelê. Die beslaglegging kom nadat ‘n polisievoertuig in April 2007 in die motor van mev. Elke Kelder, Jaap se gade, vasgery het.

Die hof het mev. Kelder gelyk gegee dat dit die polisie se skuld was en dat sy op R10 800 skadevergoeding geregtig was. Maar intussen het die polisie gesloer om uit te betaal en daarom het mnr. Jaap Kelder reeds verlede jaar ‘n beslagleggingsbevel namens sy vrou teen die polisie se rekenaars verkry.

Intussen het die polisie egter weer probeer om ‘n hofsaak te maak, maar dit is met koste van die hand gewys.

Mnr. Jaap Kelder sê: “Intussen het een of ander slimkop besluit dat hulle sal my prokureurskoste betaal maar dat dit eintlik my skuld was en ek in die polisie voertuig vasgery het. Die saak het verlede jaar weer in die hof gedraai maar op die verhoordatum was die polisie se regsverteenwoordiger nie eers teenwoordig nie.   Hulle saak is toe met koste van die hand gewys.”

Kelder is nou vasbeslote om die polisie se rekenaars te verkoop. “Nou is daar weereens op die polisierekenare beslag gelê en hierdie keer gaan hulle betaal of die rekenare sal verkoop word,” sê hy.

“Die aanvanklike skade was ‘n raps oor die R 10 000 terwyl die huidige getakseerde bedrag reeds R 22 000 beloop en die vermorste regskoste, wat reeds betaal is, meer as R 13 000 beloop het.

“Nou vra ek met trane in my helder blou oë hoe ‘n land vooruit kan gaan met sulke kabouters in beheer?”