Kaapse rowers dra nou polisie-uniforms

saps5‘n Huisrooftog is in Ridgeworth, Kaapstad, uitgevoer deur gewapende mans waarvan een ‘n polisie-uniform en ‘n ander ‘n weerkaatsbaadjie gedra het. Hulle het by die huis ingestorm en gevra om met “mnr. Sjieng” te praat.

‘n Ooggetuie, Andrew Galant, meen die rowers was op soek na sy werknemer wat Koreaans en voorsitter van die Koreaanse vereniging van Kaapstad is. Die voorval het plaasgevind ‘n week nadat ‘n Nissan Sentra wat aan die huiseienaar se seun behoort in Pinelands gesteel is. In die motor was ‘n boek met vertroulike inligting oor Koreaanse inwoners van Kaapstad.

Volgens Galant het die rooftog op 27 Mei plaasgevind. Hy sê: “‘n wit Nissan Trida het in die inrypad ingetrek. Ek was besig om in my woonstel op die erf ontbyt te nuttig, en my werknemer was besig om in die huis koffie te drink. Skielik het vyf mans uitgespring. Een was in ‘n polisie-uniform en ‘n tweede het ‘n weerkaatsbaadjie gedra. Hulle het voorgegee dat hulle polisiemanne is.”

Sy Koreaanse werknemer het daarna die mans tegemoet gegaan en gevra of hy hulle kan help. Volgens die “polisiemanne” was hulle op soek na mnr. Sjieng. “Hulle het gedink omdat my baas Koreaans is, is hy mnr. Sjieng. Oplaas het ons vir hulle ons paspoorte gewys om te bewys wie ons is. Daarop het hulle hul weg in my woonstel se aparte ingang oopgedwing en geëis dat hulle tot die hoofwoning toegelaat word, wat ons geweier het.”

Volgens Galant het een van die valse polisiemanne by die eienaar gestaan terwyl die res sy woonstel geplunder het. Daarop het ‘n tweede voertuig, insgelyks ‘n wit Nissan Trida, opgedaag.

“Die ouens klim toe uit die voertuig uit. Die eerste wat na my baas toe loop, lyk asof hy die leier is (hy het ‘n volle polisie-uniform aangehad en het beweer dat sy naam sersant Warren is) en vra toegang tot die hoofwoning.

“Die huiseienaar kom toe na die agterdeur toe en binne sekondes storm die ‘polisie’ in die huis in. Nog ‘n voertuig daag in die inrypad op, en die insittendes storm die aparte ingang binne. Van die aparte ingang dring hulle die huis binne. Ek is ook gedwing om in die huis in te gaan, tesame met die eienaar, sy vrou en hul seun.

“Terwyl ons in die kombuis staan, gaan ‘n paar van hulle by die eienaar se seun se kamer in. Hulle eis toe toegang tot die kluis maar het nie so ver gekom nie.”

Volgens hom het die hele voorval ongeveer 40 minute geduur en was daar omtrent 18 mense by betrokke. Slegs ‘n Galaxy-tabletrekenaar, ‘n iPhone en ‘n Zippo-aansteker is gesteel.

Die swartmans het ‘n taal gepraat wat Galant nie kon verstaan nie.

“Alles het so wettig gelyk weens die manier waarop hulle hulself aangebied het. Vier van hulle was in polisie-uniforms geklee en die ander in gewone klere. Van almal, was daar net twee sonder vuurwapens.”

Kaptein Fienie Nimb van die Bellevillese polisiestasie het bevestig dat vier Tanzaniërs wat soos polisiemanne aangetrek was, laat op 27 Mei in hegtenis geneem is, maar hulle kon nie met die voorval in Ridgeworth verbind word nie.

Kaptein Nimb sê: “Die misdaadvoorkomingsbeamptes en dagskofoffisiere is in kennis gestel oor die huidige neigings en verdagte voertuie en persone. ‘n Wit Nissan Tiida is vermeld as ‘n verdagte voertuig waarmee verskeie sakerooftogte in Kaapstad, Milnerton en in die gebied van vier ander polisiestasies in die Wes-Kaap gepleeg is.

“Die verdagtes teiken juwelierswinkels waar hulle juweliersware en edelgesteentes steel. Inligting is ontvang dat dié Nissan Tiida deur ‘n buitelander bestuur word en dat die verdagtes goed gewapen is en tydens die rooftogte polisie-uniforms, asook tweerigtingradio’s dra.”