Die bekende liberale politikus, Helen Suzman, wat op Nuwejaarsdag oorlede is, is Sondag in 'n privaat Joodse seremonie begrawe wat deur toppolitici en goeie vriende bygewoon is.
Onder die roubeklaers was 'n voormalige SA president, F.W. de Klerk, die huidige president Kgalema Motlanthe, Winnie Mandela en die leier van die opposisieparty, Helen Zille.
"Ek het met haar gepraat 'n paar weke voor haar dood en sy was baie bekommerd oor die huidige toestand van die politiek in die land," het F.W. de Klerk gesê.
"Sy was een van Suid-Afrika se grootste ikone," het hy bygevoeg.
Suzman, die dogter van wit Joodse immigrante, het in die Suid-Afrikaanse wetgewer gedien van 1953 tot 1989 – 'n eensame stem wat in die parlement teen minderheidsregering gestry het.
Sy is rustig oorlede by haar huis in Illovo in Johannesburg.
"Suzman was my mentor gewees, sy was gekant teen die vergrype deur die ou regering, sy was ook gekant teen die huidige magsvergrype deur die ANC-regering," het Helen Zille gesê.
Die prominente linkse advokaat, George Bizos, wat voormalige president Nelson Mandela verteenwoordig het by sy hoogverraadverhoor, het Suzman beskryf as 'n ikoon wat aanhoudend gestry het vir gelyke regte gedurende 'n moeilike tydperk.
"Sy het geweet dat sy nooit al die land se probleme kon oplos nie, maar sy het nooit moed opgegee nie," het Bizos gesê.
Die kleinerige Suzman is gebore in Germiston, oos van Johannesburg op 7 November 1917, die dogter van Samuel en Frieda Gavronsky, beide Joodse immigrante vanuit Litoue.
Sy het haar debatte benut om teen gedwonge verskuiwings te stry, asook rasseongelykhede, die erosie van die wet, die doodstraf, marteling, sensorskap, polisiewreedheid en ander kenmerke van "wit minderheidsregering".
Sy is twee keer genomineer vir die Nobelvredesprys en het in 1978 die VN-toekenning vir menseregte ontvang.
'n Openbare gedenkdiens ter ere van haar sal oor 'n paar weke gehou word, het haar familie gesê.
