Pous pleit vir afskaffing van doodstraf, oop grense

Die Pous het ‘n oproep ter afskaffing van die doodstraf wêreldwyd voor die Amerikaanse Kongres gedoen. Hy het ook ‘n pleidooi vir oop grense geloods.

Dit is die eerste keer dat die leier van die Rooms-Katolieke kerk ‘n gesamentlike vergadering van Kongres toespreek.

“Die Goue Reël herinner ons ook aan ons verantwoordelikheid om menslike lewens te beskerm en te verdedig in elke stadium van sy ontwikkeling,” het die Pous in sy toespraak gesê.

“Dit het vir my oortuiging gelei, vanaf die begin van my bediening, om te pleit op verskillende vlakke vir die globale afskaffing van die doodstraf. Ek is daarvan oortuig dat hierdie manier die beste is, want elke lewe is heilig.”

Die 78-jarige Argentynse pous het ook die kwessie van immigrasie verdedig.

“Ons is nie bang vir buitelanders nie, want die meeste van ons was eers buitelanders,” het die pous Donderdag gesê, en bygevoeg dat die kwessie van immigrasie verdelend is en nie nasiebou bevorder nie.

Pous Franciskus het beklemtoon hoe belangrik dit is om immigrante te verwelkom. Hy het ‘n beroep op samelewings gedoen om ideologiese verdeeldheid opsy te skuif.

Hy het gepraat by ‘n gesamentlike byeenkoms van die Amerikaanse kongres, waar hy verwelkom is deur meer as 500 kongreslede, regters en regeringsamptenare.

Die Roomse leier is op ‘n driedaagse besoek aan die VSA.

Die pous het Woensdag in Amerika aangekom. Hy het ‘n beroep op mense gedoen om te besef hoe belangrik dit is om menseregte te beskerm.