ANC-koukus wil DA-LP geskors hê omdat sy langs Paul Kruger-beeld afgeneem is

Die ANC se parlementêre koukus het vandag die swart leier van die DA, Mmusi Maimane, uitgedaag om van al die “rassiste” in sy party ontslae te raak deur die Afrikaanse LP, Anchen Dreyer, te skors. Sy word daarvan beskuldig dat sy verlede jaar by ‘n kartonafbeelding van Paul Kruger afgeneem is met die boodskap, “Lekker verjaar, Oom Paul.” Volgens die ANC getuig dit van “rassisme”.

Die ANC se parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, het in ‘n verklaring gesê dat me. Dreyer se “skaamtelose bewondering” vir Paul Kruger neerkom op “instemming met die misdade wat sy bewind teen swart Suid-Afrikaners gepleeg het”.

“Enigeen wat Kruger as ‘n held sien, is ook ‘n rassis wat alles deel waarvoor hy gestaan het, waaronder die geloof dat swartes minderwaardige barbare is wat die ongehoorde lyding wat hulle jare lank onder kolonialisme en apartheid verduur het, verdien,” het Mothapo gesê.

Hy het voortgegaan deur te verklaar: “Hy (Maimane) beskik nou oor die geleentheid om die dapper verbintenis wat hy voor die hele nasie aangegaan het, uit te voer. Die vraag is of hy sy ambisieuse onderneming gestand sal doen en Dreyer sal uitskop, of gaan hy ons vermoede dat sy toespraak niks anders as ‘n sinnelose foefie was nie bevestig?”

In reaksie op Mothapo, het die DA se woordvoerder, Phumzile van Damme haar eie verklaring uitgereik waarin sy sê dat Mothapo se opmerkings ‘n “desperate” plan was om “Suid-Afrika volgens rassegrense te verdeel”.

“Suid-Afrika beskik oor ‘n ryk en ingewikkelde geskiedenis, wat nie weggewens kan word nie. Eerder moet die onregte van die verlede erken en daaruit geleer word. En diegene wat die regte van ons mede-Suid-Afrikaners geskend het, moet ook vir daardie misdaad onthou word,” het Van Damme gesê.

Volgens haar neig Mothapo se verklaring daarna om Suid-Afrikaners in kampe uiteen te jaag en standpunte te verhard wat versoening in die wiele ry.

“Die ANC het duidelik dié belangrike projek laat vaar, wat bepaal hoe die geskiedenis onthou moet word. Dis omdat hulle voortdurend verdere kiesersteun verloor, en daarom na strooihalms gryp om weereens ter sake te probeer word in die lewens van die miljoene Suid-Afrikaners wat hulle in die steek gelaat het,” het sy gesê.

Op Twitter het die rasaanhitsers soos die “skrywer” Eusebius McKaiser teen sowel Anchen Dreyer as die DA uitgevaar.

Ene Lwazistos het McKaiser op Twitter gesteun deur te sê:

Front Nasionaal verwerp DA se pseudo-taalpatriotisme

Vanoggend se debat op Radio Pretoria: v.l.n.r. Francois Cloete (Front Nasionaal), Anchen Dreyer (DA) en Pieter Mulder (VF Plus)
Vanoggend se debat op Radio Pretoria: v.l.n.r. Francois Cloete (Front Nasionaal), Anchen Dreyer (DA) en Pieter Mulder (VF Plus)

“Afrikaners in die DA verteenwoordig gedekultureerde jingo’s wat deelneem aan die etniese reiniging van Afrikaanse straat- en plekname, veral in die Wes-Kaap. Die party is volledig tot anglosentriese idees verbind en kyk na ons land se geskiedenis deur die oë van Britse neomarxiste.” Só sê dr. Dan Roodt, onderleier van die Front Nasionaal, in reaksie op ‘n debat wat vanoggend op Radio Pretoria gevoer is en waarin me. Anchen Dreyer van die DA haar party se verbintenis tot “veeltaligheid” probeer verdedig het.

Volgens Roodt “verstaan die DA onder ‘veeltaligheid’ eintlik Engelseentaligheid en die voorsetting van die Brits-koloniale hegemonie in Suid-Afrika. Die party gebruik slegs Engels as voertaal. In Kaapstad het die DA Afrikaanse name voor die voet na ANC-name verander, onder meer dié van mnr. Coen Steytler, wat ontdaan was van politieke konnotasies en bloot ‘n bydrae tot die infrastruktuur van Kaapstad gemaak het.” Ander naamsveranderings wat deur die DA voorgestel is, is: Andries Pretoriusstraat na Orangestraat, Coen Steytlerlaan na Walter Sisululaan, De Waal-rylaan na Phillip Kgosana-rylaan, D.F. Malanstraat na David Poole-straat, Frans Conradie-rylaan na Acrestraat, Hans Strijdomlaan na Albert Luthuli-laan, Hendrik Verwoerd-rylaan na Beyers Naudé-rylaan, Hertzog Boulevard na Nelson Mandela Boulevard, Jan Smutsstraat in Athlone na Dullah Omar-rylaan en Jan Smutsrylaan in Simonstad na Fred Carneson-rylaan, Oswald Pirowstraat na Christiaan Barnard-rylaan en Nico Malanstraat na David Rabkinstraat.

Front Nasionaal het gister aangekondig dat hy teen Vrydag ‘n eerste gebied in Pretoria gaan bekendmaak wat as ‘n Afrikaanse taaleiland afgebaken sal word. Soortgelyk aan Québec en Vlaandere, sal die taaleiland bedeel word met spesiale regte om Afrikaans van ondergang te red. Die party sal hom op beide die SA grondwet en die internasionale reg beroep om dié eerste stap na kulturele selfbeskikking te neem.

“Afrikaans verkeer in ‘n krisis,” sê Roodt. “Sowel die DA as die ANC werk daaraan mee om ons taal uit te wis en van Engels die enigste openbare, tegniese, handels- en kultuurtaal te maak. Reeds tydens die sogenaamde Kodesa-onderhandelinge het die DP, die DA se voorganger, Engels as enigste amptelike taal voorgestaan en sedertdien was daar kwalik verandering in die party se vyandigheid jeens Afrikaans en die Afrikaanse kultuur.”

Tydens ‘n vorige radiodebat op RSG het dr. Roodt die DA, ANC en EFF as “Boerehaatpartye” bestempel. Volgens hom “verteenwoordig Boerehaat die enigste konsekwente ideologiese standpunt van die DA. Die party val rond tussen neomarxisme, Slovoïsme (na Joe Slovo, die SA kommunisteise leier), sosialisme, grondgryp en ‘n soort lippediens aan ‘liberalisme’ waaronder die DA eintlik neomarxisme, nasionalisering en meedoënlose rasstellende aksie verstaan.”