Amerika is g’n leier nie

Indien daar ooit rede was om te vermoed dat die VSA nie hulle leierskapsrol in die wêreld begryp nie, was gister se stemuitslag wat die hulppakket sou goedkeur om die wankelende finansiële stelsel te red, 'n goeie rede om te glo dat die reus nie opgewasse is nie.

Tydens die debat het kleinlikhede oor partyverskille geseëvier en Bush se besondere swak leierskap is uitgelig nadat sy pleidooie aan die Republikeine om die pakket goed te keur, met twee-derdes verwerp is. Terwyl die wêreld asem opgehou het vir Washington om die vallende kaartehuis te keer, het partypolitieke eiebelang oorheers.

Politieke loopbane is voorop geplaas en danksy die gebrek aan leierskap, kon die nee-stemmers nie tot ander insigte gebring word nie. John Boehner, voorsitter van die Republikeine in die huis van verteenwoordigers, het glo emosioneel geraak soos hy sy party probeer aanspoor het om die hulppakket in te stem.

Toe hy sien dat sy party sy versoeke ignoreer het hy die skuld op die Speaker, Nancy Pelosi, geplaas vir haar eensydige toespraak. Pelosi het al die stemme wat sy belowe het, gebring, maar dit was nie genoeg om die reddingsplan deur te dra nie.

Senator John McCain en Senator Barack Obama, die twee kandidate wat beplan om oor te neem, was nie eens naby Washington nie, en was soos ware akteurs besig om hulle persoonlike aansien elders te poleer sonder om daaraan te dink dat een van hulle die gevolge van die stemmery eersdaags sal moet behartig.

Nie een van die twee het blykbaar oor die aangeleentheid kommentaar gelewer nie. McCain wou nie reageer nie en het op sy vliegtuig geklim na Iowa sonder om met die media te praat. Obama het 'n paar woorde gesê maar sy ondersteuning vir die hulpplan was ten beste louwarm. Sy veldtogbestuur het opgemerk dat hy nie enige druk op Demokrate uitgeoefen het om die pakket heelhartig te steun nie.

рваные джинсы на мальчика купитьФільчаков прокурор