In die vorige eeu is talle toekomsscenario’s oor Suid-Afrika gepubliseer. In daardie stadium was daar rede om te dink dat die land ‘n blink toekoms kon hê. Maar daar was ook pessimiste wat pleks van ‘n utopie ‘n distopie voorsien het. Ek het reeds Arthur Keppel-Jones s’n bespreek (Praag 16 Maart). Vandag gaan ek die aandag op nog twee voorbeelde, Adamastor en Raka, vestig omdat pessimisme deesdae meer vanpas as optimisme is.
Beskawing in Suidelike Afrika dank sy begin aan die ontdekkingsreise wat Europese seevaarders onderneem het. Die Portugees Luis Vaz de Camoëns (1524-1580) het in 1572 sy epos Os Lusíadas (Die seuns van Lusus) gepubliseer; dus 80 jaar voor die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap. Lusus is volgens oorlewering die held van Lusitania (die Romeine se naam vir Portugal) van wie alle Portugese afstam. Sowat ‘n tiende van hierdie verhalende gedig (kanto V, stansas 37 tot 60) handel oor die suidpunt van Afrika. Dit verwys na Vasco da Gama (1469-1524) se wedervaring met die mitiese figuur Adamastor toe Da Gama in 1497 om die Kaap van Storms gevaar het. Die konteks is die Portugese ontdekkingstogte. Camoëns het self in 1553 in stormagtige weer om die Kaap na die Ooste gereis en by sy terugkeer van 1567 tot 1569 noodgedwonge tyd in Mosambiek verwyl.
Camoëns was bewus van die teenspoed wat sommige seevaarders getref het. Bartholomeu Dias (1450-1500) het in 1488 om die Kaap gevaar. Die weer was op sy heenreis so stormagtig dat hy die Kaap eers op sy terugreis gesien het. Hy het dit Cabo Tormentoso (Stormkaap) genoem. Dias het as lid van Pedro Alvares Cabral (1457-1520) se ekspedisie na die Ooste naby die eiland Tristan da Cunha in ‘n storm verdrink. Francisco d’Almeida (1450-1510) het saam met 57 ander Portugese tydens ‘n skermutseling met inboorlinge in Tafelbaai gesterf. Die Portugese skip Sao Joao het in 1552 op sy terugvaart van Indië aan die Natalse suidkus gestrand. Meer as 100 van die meer as 600 mense aan boord het verdrink. Manuel de Sousa de Sepúlveda (1505-1553), sy vrou, hulle twee kinders en ander oorlewendes het besluit om na Delagoabaai in die noorde te stap. By die Komatirivier is hulle deur inboorlinge van al hulle besittings beroof. Net sowat 200 van die opvarendes het die tog oorleef. Sepúlveda en sy vrou is onder diegene wat omgekom het. Van vroeg af het Europeërs dus nie lewenssekerheid in Suidelike Afrika gehad nie.
My uiteensetting is gebaseer op OJO Ferreira se boek, Adamastor, Gees van die Stormkaap (Hatfield: Die outeur, 1995, 64p). Vir Camoëns was die gierende wind die stem van die grusame Adamastor. Nadat die seenimf Thetis geweier het om Adamastor se liefde vir haar te beantwoord, het die gode hom “in ‘n skurwe berg aan die suidpunt van Afrika verander, waar hy die suidelike see moet bewaak en die dood moet bring aan die seuns van Lusus [dus die Portugese] wat hom wou omseil. Dit is Adamastor se lot dat hy vir ewig omring word deur die see, tegelyk die ryk wat hy wou verower en die tuiste van sy geliefde wat hom verwerp het” (p 27). Dit herinner aan die lot van Afrikaners wat deesdae verworpe voel al het hulle eeue lank hierdie land lief gehad.
Adamastor het “die beliggaming geword van die gevare en verskrikkinge waarmee seevaarders te kampe gehad het” (p 7). Camoëns was intens bewus van “die magte en gevare wat die Portugese kultuur in die vreemde bedreig het … So het die reus Adamastor waarskynlik in sy ontstelde gemoed gestalte gekry” (p 7). Afgesien van die klaarblyklike verwysing na Adam kan die naam Adamastor afgelei word van die Griekse woord adamastos wat “ongetem” of “wild” beteken. Hierdie monster word “die verpersoonliking van die gevare van die see” (p 17) en ook van die kontinent.
“Wanneer Vasco da Gama en sy vloot die Kaap van Storms nader, steek ‘n donker en vreesaanjaende wolk bo hulle hoofde op wat die vorm van ‘n gespierde en monsteragtige wese aanneem … In ‘n lae en vreesaanjaende stem het hierdie reus die seevaarders verwyt wat op die see vaar waar hy so lank geheers het … Hy voorspel dan ook onheile, strandings en lewensverlies vir diegene wat die Kaap van Storms sou omseil” (p 19). Daar word gewag gemaak van “‘n duister toekoms” (p 35), dat “paal en perk” aan die Afrika-vasteland gestel word en “my rampspoed sou ewig duur” (p 36).
Hieruit volg die siening dat “die binneland van Afrika boos, donker, wraaksugtig en ongeskik vir menslike bewoning is” (p 47). Volgens sommige is Adamastor “‘n simbool van die mens se uittarting van die natuurelemente” (p 48). Volgens ander is hy ‘n “simbool van al die rampspoed en gruwels van die Portugese seevaartgeskiedenis” (p 49). Wat duidelik is, is dat Europeërs kwalik kan verwag om ‘n veilige tuiste in (Suidelike) Afrika te vind.
Soos verwag kon word, het Camoëns se epos neerslag in die Suid-Afrikaanse letterkunde gevind. Roy Campbell (1901-1957) het ‘n bundel Engelse poësie, Adamastor (1930), gepubliseer terwyl hy in Engeland gebly het. Later het hy lank in Spanje en Portugal gewoon. In die Afrikaanse poësie maak Dirk Opperman (1914-1985) in sy bundel Negester oor Ninevé (1947) melding van “Adamastor, wat skuil in die wier, in die mis, bruin mensies en eenhoring-dier” (Ferreira, p 31). “Eenhoring-dier” verwys na die mitiese aard van Adamastor. Hoe ‘n mens by “bruin mensies” kon uitkom, word deur André P Brink in sy novelle, Die Eerste Lewe van Adamastor (Kaapstad: Saayman & Weber, 1988, 78p), aangetoon. Die Kaapse slawe van eeue gelede is seker Brink se voorkeuronderwerp; nie ‘n aktuele onderwerp soos plaasmoorde nie.
Brink noem dat verwoesting, wanhoop en dood deel is van die skipbreuke en ander katastrofes in Camoëns se “somber profesie” (p 3). Camoëns maak melding van Adamastor se swart mond en geel tande. Dit gee aanleiding tot verontwaardiging by Brink, wat toe nog in sy oorverligte stadium was: “Liewe Here, ek protesteer teen die blatante rassisme” (p 2). Brink borduur voort deur te skryf dat ‘n mens “vandag swaar sluk aan die verwronge rassevooroordeel wat spreek uit daardie bepaalde beeld van die magtige Kaap, geheim en groots, met sy negroïede skedel en boosaardige swart liggaam” (p 4). (Van Wyk Louw se beskrywing van Raka is veel erger, soos ek hieronder aantoon.)
Brink se novelle neem die vorm aan van wat hy noem ‘n “oerteks” waarmee hy Camoëns se “16de eeuse, Europees gesentreerde weergawe” met ‘n (Suid-Afrikaanse) 1980’s-weergawe wil vervang (p 4). Dan volg sy verhaal van ‘n swart Adam, T’kama Grootvoël, en ‘n wit Eva, wat Khois deur T’kama genoem word. Nou is die tafel vir Brink gedek om oor een van sy gunstelingonderwerpe te skryf, naamlik seks oor die kleurgrens heen. In haar resensie maak Joan Hambidge melding van die “snydende kommentaar op kolonialisme en die witman se onbegrip vir die Afrika-kultuur” (Beeld, 18.07.1988, p 8). Brink haal TS Eliot (1888-1965) aan: “This is the use of memory: for liberation … from the future as well as the past” (p v). Maar ‘n mens kan byvoeg: daar moet liefs nie selektief onthou word nie.
Brink se storie begin in Algoabaai (deesdae dikwels, na aanleiding van die metropoolnaam, verkeerdelik Nelson Mandela-baai genoem). Daar word gemaak asof die Kwaaimense, of Xhosas, soos die Khoi en San, reeds “ontelbare tye al daar” is (p 5). Die verhaal is Khoi-San-gesentreerd. Hulle het glo “meestal goed klaargekom” met die Xhosas (p 35). Vir hulle lyk wittes “almal eenders” (p 6). Die wittes kom met skepe en gee dan rook-, kou- en drinkgoed aan die inboorlinge om hulle sag te maak, maar “die vreemdelinge nie net tevrede is met presente gee nie: hulle wil ook hê. En eerste wat hulle wil hê, is vrou” (p 9). Hulle wil ook vee hê.
Die inboorlinge word positief en die wittes negatief uitgebeeld. Wanneer die inboorlinge die wittes gewaar, sit hulle hulle pyle eenkant sodat die wittes moed kan skep (p 8). Die wittes is dom of bang of albei (p 8). Wanneer ‘n wit vrou haar alleen en kaal in die water was, tel T’kama haar klere op met die edele doel om dit vir haar aan te gee: “ek is mens nes sy” (p 13). Sy vlug na ‘n roeiboodjie maar sy kom nie weg nie. Hy dra vir haar geskenke aan en vat aan haar skouer “om haar tot bedaring te bring” (p 16). Sy takel hom met die roeispaan, waarop hy dit uit haar hande pluk “en haar ‘n hou teen die kant van die kop moker” (p 16).
T’kama sien niks verkeerd daarin om hierdie vrou vir hom te eien nie, want die wittes “het toe mos al hoeka van ons s’n gehad” (p 16). Spoedig skiet die wittes nie net op die mans nie, maar ook op die vroue en kinders (p 17). Wanneer ‘n witte skrams met ‘n pyl getref word, “het hy soos ‘n bobbejaan tekere gegaan” (p 21). T’kama is so voorbeeldig dat hy keer as sy mense die wittes se lyke wil stroop (p 21). Die vier skepe vertrek sonder die wit vrou. Maar “dat dit nog lank nie die end was van bloed nie” (p 19).
Hierna trek T’kama met die wit vrou, Khois genoem, en sy volgelinge die binneland in. “Hier sal ons nie kan bly nie. Die kus is aangerand, ‘n jongvrou is ingeneem. Ons moet oppak en trek die land in” (p 24). Die inboorlinge is skepties oor die wit vrou se teenwoordigheid. “Sy is nie van ons nie” (p 27). “Jy moet ‘n vrou onder jou eie mense uitsoek” (p 38). T’kama se taak of probleem is: “Hoe ek haar makgemaak sou kry” (p 26). Die storie draai om T’kama se bynaam, Grootvoël: “Dit was agter hom aan dat ek geloop het” (p 34). Heelwat later sê die wit vrou: “Ek verstaan niks van jou of jou mense of hierdie godverdomde land nie. Waar kan ek heen? My eie mense is weg … Wat soek ek hier?” (p 58). ‘n Kulturele verskil wat uitgewys word, is: “Onder ons was daar niemand wat kon swem nie, dis nie ons aard nie” (p 63). [Waar gaan Fikile Mbalula 60% swartes vir die nasionale swemspan kry?]
Mettertyd keer T’kama met Khois en hulle kind terug na Algoabaai. In die binneland het hulle swaar gekry. “In hierdie angsaanjaende landskap het selfs die klippe gebars om te groei” (p 61). “Is die hele land nie eintlik been wat maar net effentjies toegemaak het onder ‘n lagie grond en klip en boom en bos nie?” (p 70). Een van die volgelinge se gesig was “soos ‘n landkaart wat gewys het waar hy oral was” (p 66). Die wit vrou is in Algoabaai terug “na die naaste skip” (p 71). “Dis waar sy vandaan kom, dis waar sy hoort” (p 74).
Vergesogte vertolking is, volgens Brink, “wat met die werklikheid gebeur wanneer skrywers dit beetkry” (p 3). ‘n Vergelyking van sy teks met dié van Camoëns toon dat sy vertolking so vergesog is as wat kan kom. Hy kon sy novelle goedskiks sonder verwysing na Adamastor geskryf het. Brink het eintlik maar uitdrukking aan sy destydse oordrewe liberalistiese en humanistiese oortuigings gegee. Wat Brink tog by my as leser tuisbring, is dat daar kwalik van Europeërs verwag kan word om Afrikane te word. Daarvoor is die kultuurverskille te groot.
Die tweede toekomsscenario is in NP van Wyk Louw (1906-1970) se boek, Raka (Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 8ste druk, 1958, 32p), wat in 1941 verskyn het. Hierdie epiese gedig vertel die verhaal van Raka en Kokie en hulle stryd, wat by nabaat in sommige maar beperkte opsigte (soos ek hieronder aantoon) met onderskeidelik Nelson Mandela en FW de Klerk geassosieer kan word. Die konteks van Louw se verhaal is swartes in (Suidelike/Suid-) Afrika.
“Raka, die aap-mens, hy was nie kan dink, wat swart en donker is, van been en spier ‘n lenige boog, en enkeld dier … het êrens deur die groot moerasse gekom … Hy was geen boorling van die ruim gebied” (p 5). Hy het “‘n vreemde dans gevoer uit sy land” (p 6). Sy oë is “diep uitgehol, die mondgat uitgegrawe en skewerig vol wit doringtande, en skaamteloos groot die skaamte … ‘Raka, die sterk man’ … tot alles voor Raka se voet gebreek gelê het en trug in die klei geweek waaruit dit gehaal was” (p 11).
Daarteenoor is daar Koki wat “vermoed dat daar veel kwaad in aantog deur die bloed van sy besete mense was” (p 8-9). “En uiteindelik het Koki aan sy hart gewaar dat hy hier aan ‘n grens was, ingeperk teen iets wat donker is en dom en sterk” (p 13). “Tot voor hom op ‘n sestig tree lank en swart, Raka gestaan het … die Swarte het bloed aan bors en bek gehad, en by sy voete ‘n sebra op die vertrapte plaat – die fraai dier van die wit daeraad … toe hy Koki gewaar, het hy aapagtig in die gras baljaar, gebuitel met swart bene in die lug” (p 14).
“Koki het stil die vriendelikheid aanskou en koud geril, en van die ding se sotheid omgedraai – want sonder skild en skerp asgaai het hy die veld gekies -; maar agter hom het hy verwoede snork en voete hoor kom toe hy wegdraai; hy ‘t omgespring – en in sy steë het die groot ding bly steek en grynsend truggetree, verwoed, maar bang, en half verlee oor iets wat so ver buite die begrip van sy swaar brein was, en die swart lip het weggekrul van die wit tande; so ‘t Koki rugwaarts uit die lande van die swart dierlikheid gekeer” (p 15).
Koki het gesê: “Raka, die groot dier, moet dood … Die swart dier sal nie van julle wyk; … tot niemand meer wild is vir sy bot hand; maar dan sal jul hek se rieme en bande op ‘n vreemde nag slap word en los, en Raka sal uit die bose bos kom en tussen ons vure sit en bly. Moet hy hier wees? Ken Raka … ons fyn, fyn net van die woord …? Ken hy die vuurgeheim? Het hy die vaal drade van die katoen leer spin en weef en in die kleurpot week? … Die snel dier moet dood of hy sal heers oor ons, en groot en lang pyn bring” (p 16).
“By die vure was woorde … van ‘Raka is vreedsaam,’ ‘Raka is nie sleg,’ ‘Soos hy gekom het, gaan hy ver weg en geeneen sal weer van hom weet'” (p 18). “Net Koki … het … stil begin gaan die pad wat geen mens terug kan loop” (p 19). “En toe ‘t hy die blink asgaaie se punte oor die gladde slypsteen laat draai … en aanhoudend het hy die sterflied van sy stam, nie die krygslied, gesing, want Raka ‘t hy geweet was ‘n vreemde ding, meer as ‘n dier, maar nog nie mens” (p 23). “Hier ‘t hy die nat spoor gekry in die modder en gevolg en verloor in die poele en weer gekry – die swaar ding se sleepsel waar hy breek en plas en dring deur die hoogste riete … maar toe hy kyk na sy vingers en die yl bloed wat die snyruigtes gelaat het, het die groot dier skielik, geluidloos, uit die warm wier en slik opgestaan en wit gelag” (p 26).
“Dié nag het … Raka … skreeu-skreeu gekom tot kort teen die kraal … sy skreeu was woes van pyn en wraak … digby mekaar langs die wal van die breë water af het die skaar na Koki gesoek. Teen die skemering … ‘t hulle hom gekry in die verskeurde papkuil en die poel waar hy, half in die modder getrap, op die skag van sy stukkende spies gelê ‘t, en die krag en die woede van die swart dier kon hulle sien aan die liggaam en die spore en die pap riet en die skild wat geskeur was en diep ingetrap in die koue klei … maar bloed het ook getap en bruin gestol op waterplant en blaar langs die sleepsel waar die Swarte swaar deur die moeras gebreek het na die digte woud; toe het hulle haastig vir Koki wat koud en styf was soos ‘n bok, op die skouers gelig en die kraal gesoek” (p 27-28).
Die oudste van die vroue het “gesing van die ver tyd toe Koki se vader ‘n sterk man was” (p 28) “en toe ‘t sy die swart dier genoem wat lê in die nag … en Koki se moed … hoe hy uitgedans het om in die swart woud te stry teen iets wat beestelik en magtiger is … van verlore menslikheid; van die klein kraal wat in die swart bome lê en snags straal met sy vure; en sy ‘t gekla: wie hom nou sal red teen die groot dier wat wag, wie sal belet dat hy inkom en heers? … dat die edelste wagter koud lê langs sy vuur, en sy stam lê oop soos ‘n ou kraal in die gras” (p 29).
Terwyl een skreeu van Koki se krag en ratsheid (p 30) het ‘n ander gesê: “Maar Raka was sterker … Die swakste moet buig” (p 31). “Toe was Raka met sy apespring skielik groot in die lae vure se kring: die hek se rieme was slap gebind waar die Swarte reeds in die vrou en kind en die woord van die manne se liedere was … die swart lied is saamgegil met die eerste krete, toe ‘t die bloed geloop … en daar waar Koki se liggaam koud en stil in die gras was, die harder gebrul van die nuwe woede, wat die hutte vul, en die breek en die skeur” (p 31).
“In die môre vroeg het hy naby die hek gelê … en opgestaan later toe dit warm word, en uit die potte die water gedrink en weer by die hek gaan wag” (p 31-32). Later het Raka “hulle maar gedwee en sku om water en kos laat gaan; en Raka, die skelm dier, het opgestaan en hulle laat loop, en self naby gaan jag; maar niemand het gewaag om met een slag die smal hek ooit weer teen hom te sluit” (p 32).
Die Adamastor- en die Raka-verhaal toon talle ooreenkomste. By albei is daar sprake van bloedvergieting, van kultuurbedreiging, van skeptisisme teenoor vreemdelinge. Albei die hooffigure het groot skaamtes. Die kleur van sowel Adamastor as Raka se tande word genoem, maar anders as Adamastor se geel tande wat Brink aanstootlik vind, is dit darem onwaarskynlik dat Raka se wit tande maklik rassisme genoem sou word. Maar die beklemtoning van Raka se swart kleur sal deesdae deur baie as rassisme gebrandmerk word. In die openbare pers word die kleur van nie-wit misdadigers polities korrek tans nooit genoem nie. As ‘n nie-witte presteer, word sy/haar kleur egter uitdruklik genoem: eerste swart man wat dit bereik; eerste swart vrou wat dat behaal, ens.
Die politieke klimaat by Brink en Louw verskil hemelsbreed. Louw het sy teks aan die begin van die 1940’s gepubliseer en Brink syne aan die einde van die 1980’s. Daarby was Louw se politiek (in hedendaagse perspektief) regs en gematig, terwyl Brink s’n links en radikaal was. “Ek glo vas dat geen behoorlike storie ooit vertel kan word sonder ‘n politieke dimensie nie” (André P Brink, ‘n Vurk in die Pad, Kaapstad: Human & Rousseau, 2009, p 226).
Die verskille in die twee tekste is meer opvallend as die ooreenkomste. Die Brink-verhaal stel die wittes as dom voor, terwyl dit in die ander verhaal die swart Raka is wat dom genoem word. In eersgenoemde gaan die witte soos ‘n bobbejaan tekere, terwyl dit Raka is wat aapstreke uithaal. In Louw se teks, anders as by Brink, is daar ‘n duidelike kwalitatiewe voorkeur vir ontwikkelde kultuur, naamlik vir taal en die vermoë om vuur te maak en te weef. By Brink is dit die wittes wat uit die land moet padgee, terwyl die swarte, naamlik Raka, gekom het om te bly. (Die “wit daeraad” verwys na ‘n dooie sebra; nie na goeie vooruitsigte vir blankes nie.)
Meer as sewentig jaar na die verskyning daarvan wil ek nie te veel van die hedendaagse plaaslike politieke werklikheid in Louw se teks lees nie. Maar in daardie opsig bied die teks ongetwyfeld baie moontlikhede. “Oor die vraag wat Van Wyk Louw met hierdie grootse gedig wil sê, is daar heelwat gespekuleer … Louw self het by geleentheid gewys op ‘die biologiese feit dat die vergeestelikte mens wat op ‘n hoër kultuurtrap staan, in die algemeen veel stadiger aanwas as die minderbevoorregte … en dat hierdie proses op die lange duur ‘n groot bedreiging vir die geestelike beskawing van die Westerse mens kan beteken” (JC Kannemeyer, Die Afrikaanse Literatuur, 1652-1987, Pretoria: Academica, 1988, p 139-140). Louw was dus bewus van die swart gevaar en daar was by hom geen sprake van die gelyk- of eendersverklaring van alle mense nie.
Van deurslaggewende belang is dat Raka ‘n dier is en nie ‘n mens nie, sodat ‘n regstreekse analogie uit is. Tog herinner die teks ‘n mens aan die grootskaalse gatswaai wat ons die afgelope twee dekades in die plaaslike politiek, veral onder blanke Afrikaanssprekendes, aanskou het. Byvoorbeeld, hoe baie Broederbonders en soortgelykes nou dieselfde deuntjie as die nuwe heersers sing: “Raka is vreedsaam, Raka is nie sleg.” Daar was aanvanklik ook dieselfde valse optimisme, wat sedertdien selfs by Brink gekwyn het. Bowenal is daar die “verlore menslikheid,” die verlaging of verdwyning van beskaafde standaarde, die naakte geweld en brutalisering van die openbare lewe.
Samevattend kan gesê word dat Adamastor onheil en ellende vir blankes in Afrika voorspel het; dat hier geen veilige tuiste is nie: “My rampspoed sou ewig duur.” In Louw se teks is Koki ‘n gevalle held. In die hedendaagse politiek is FW de Klerk ‘n gevalle anti-held wat toegelaat het dat Nelson Mandela “groot en lang pyn bring.” De Klerk het ‘n pad geloop “wat geen mens terug kan loop.” “Die swakste moes buig.” Noam Chomsky het in 1991 ‘n artikel gepubliseer met die titel: “The weak shall inherit nothing.” Dit is De Klerk wat die rieme eers slap gemaak en daarna die hek heeltemal oop gelos het. Die swart gevaar het die land van Robbeneiland af binnegekom. “Niemand het gewaag om … die smal hek ooit weer teen hom te sluit.” Daar is ‘n noodlottige finaliteit in die laaste sin. ‘n Afrikanerheld sal êrens moet opstaan om te kom help en eerder vroeër as later.

