Blankes het grond gesteel sê Westonaria se grondbesetters

landgrabInwoners van Bekkersdal glo grond wat die goudmyn-maatskappy Rand Uranium behoort, kan “wettig” beset word.

Onbeboude grond in Bekkersdal aan die Wes-Rand is gesteel deur blankes, sê die Groter Westonaria se Concerned Residents’ Association.

“Ons vra nie om verskoning vir die grondbesetting nie. Ons glo dit behoort aan ons [swartes]. Dit is gesteel deur die blankes,” het ‘n woordvoerder Mbulelo Koyana gesê.

Hy het gesê dat die regering versuim het om die inwoners te voorsien van huise.

“Toe mense in 1994 gestem het, het hulle nooit geweet dat hulle magteloos sou wees as hulle aan bewind kom nie,” het Koyana gesê.

Nog ‘n gemeenskapsleier het Woensdag gesê: “Die gemeenskap glo die grond behoort regmatig aan hulle. Hulle sê [die besetting] is nie onwettig nie,” het Thabang Wesi aan Sapa gesê.

Die Citizen berig dat meer as ’n duisend inwoners Dinsdag met grawe en pikke opgedaag het om huise te begin bou.

Die proses om die grond “wettig” oor te neem en uit te deel, is ‘n “administratiewe detail”, het Wesi gesê.

Die Citizen het vroeër berig die Westonaria- plaaslike munisipaliteit en Rand Uranium ‘n aansoek om ’n hofinterdik ingedien het teen die onwettige besetting.

Die saak sal Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor word.

Die munisipaliteit voer aan dat hulle nie die finansiële las kan dra van dienste waarvoor nie beplan of begroot is nie.

Die munisipaliteit sê ook die gebied is vir landbou-doeleindes geskik, aangesien dit geologies onstabiel is en sinkgate daar voorkom.

Wesi het nog nie op die hofstukke gereageer nie.

Regering stel plaaswerkers se werk in gevaar

landbouwerkTLU SA het die Minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersen, versoek om haar uit te spreek oor haar kollega van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se ideologiese proses om blanke grondeienaars van hulle regmatige eiendom te ontneem.

TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, noem minister Nkwinti se planne “konstruktiewe ontneming van blanke grondeienaar, indien dit nie doodgewone gewettigde grondgryp is nie”.

Mnr. Meintjes het Minister Joemat-Petterson in ‘n brief gevra of haar kollega se beleid dan regeringsbeleid is, en of sy, in wese ook as die minister wat ‘n direkte belang by voedselsekerheid het, kan saamgaan met daardie ideologiese benadering wat kommersiële landbou totaal gaan vernietig.

Terselfdertyd is Minister Nkwinti per brief ingelig dat totdat hy en sy departement die ordentlikheid aan die dag lê om op korrespondensie te reageer, TLU SA nie deel sal wees van die NAREG-proses of enige van sy ministeriële werksessies nie, en dat TLU SA sy optrede nie erken as deel van openbare deelname proses nie en dat dit ook nie voldoen aan administratiewe vereistes nie.

Mnr. Meintjes het ‘n beroep gedoen op Minister Joemat-Petterson om toe te sien dat die planne en voorstelle van grondhervorming, nie soveel reg aan werkers gee dat voedselsekerheid in gedrang kom nie, want in terme van daardie voorstelle sal boere uiteindelik geen besluite meer op hulle eie plase kan neem sonder arbeiders se goedkeuring nie.

“Hierdie voorstelle plaas die Regering effektief in beheer van alle landbou-eiendomme. Dit  is ‘n kommunistiese benadering wat gevolg word, en sal TLU SA geen ander keuse hê as om boere aan te moedig om  binne die korste moontlike tyd maatreëls in plek te kry om sonder arbeid hulle bedrywe voort te sit,” sê mnr. Meintjes.

Sou hierdie voorstelle in wetgewing vervat word sal dit die totale ekonomie negatief beïnvloed en voorspel ons hongersnood in Suid Afrika.