Afrikanerkundiges kraak kragkrisis

Die nuwe Suid-Afrika se bekendste probleem is ‘n nuwe probleem sonder apartheidspresedent, naamlik: die gebrek aan, en erg eskalerende koste van krag.

Elektrisiteit hou nie maar net die liggies aan nie, maar is die kardinale lewenstroom van ‘n nywerheidsland soos ons s’n wat oor minerale, smelterye en diep myne beskik.

Boonop is die Kaapprovinsies, wat vroeër ‘n onafhanklike kolonie gevorm het, energie-afhanklik van die Nkandla-bewind weens te min kernkrag vanaf Koeberg.

Dr Anton Eberhard van die Universiteit van Kaapstad is lid van die “National Planning Committee” in mnr Trevor Manual se Ministerie van Ekonomiese Beplanning. Dr Eberhard en die “National Development Plan” is egter skepties oor ‘n nuwe kernkragprogram in SA.

President Jacob Zuma het onlangs die “National Development Plan” in die parlement tot nasionale hoofplan verhef. ‘n Selfs nog groter verrassing was die aankondiging van ‘n massiewe 10 000MW-kernkragprogram vir hoofsaaklik Kaapse kusstede ver van steenkoolvelde, by monde van die geagte Kgalema Mothlante.

Oud-apartheid-Suid-Afrika beskik oor die grondstowwe en tegniese vermoë om weer uraan vir elektriese energie te verryk.

Uraanverrykingsvermoë, soos oorskotkrag, sal soos in die verlede groot gesag aan Pretoria in Afrika verleen, asook die moontlikheid om ‘n “uitbreekbom” te bou. Laasgnoemde verleen aan ‘n land supermoondheidstatus in sy streek.

Uraanverryking en brandstofvervaardiging was inherent deel van Eskom se korrelbedreaktor. ‘n Soortgelyke reaktor word vanjaar (2013) in China in bedryf gestel.

Suid-Afrika se mediese en nywerheidsisotoopreaktor is reeds wêreldberoemd, en gebruik al vir dekades lank ou Afrikanerkernbomuraan as brandstof.

Eskom se effektiewe en relatief eenvoudige kernkragprogram het in 2009 plotseling op die rotse geloop, toe die voltooide ontwerp dramaties gewysig is om die Amerikaanse mark se verlangde toepassing van stoom- en proseshitte te pas.

Eskom se eenvoudige reaktor sou slegs sonder stoom- en proseshitte krag kon lewer. Die Amerikaanse maatskappy Westinghouse het egter ‘n aandeelhouer in Eskom se kernkragprogram geword, en alhoewel die Suid-Afrikaanse mark slegs krag nodig gehad het, het Westinghouse onwrikbaar op stoom- en proseshitte vir die Amerikaanse mark aangedring.

Die eskalerende kapitaalkoste en onopgeloste tegniese probleme weens hoër reaktortemperature en die toevoeging van ‘n ingewikkelde water- en stoomketelstelsel – spesifiek vir die Amerikaanse proseshittemark – was die Eskomreaktor se onmiddellike doodsteek.

Die Amerikaanse mark het boonop duur dubbele-dopbeskerming vereis, om hulle unieke plaaslike probleem van Boeings wat in baie hoë geboue vasvlieg, aan te spreek. Die Eskomreaktor was egter maar 20 meter hoog.

Jaco Kriek het waarskynlik die ANC-regering in 2009 ge-adviseer om Westinghouse en sy Amerikaanse mark uit te sluit, en eerder eksklusief op die akute kragbehoeftes van Suid-Afrika, Afrika en BRIC-lande te konsentreer. Destyds was Suid-Afrika egter nog nie deel van die BRIC-groep nie.

Kgalema Mothlanthe was destyds slegs tydelik staatspresident, en die magsituasie in Suid-Afrika gevolglik uiters onseker, wat geleentheid geskep het vir die Amerikaanse droom van hoë proseshitte vir die verwerking van olie- en teersand, om die Eskomreaktor se alreeds voltooide kraggerigte konfigurasie terminaal te beïnvloed.

Die eerste Eskomreaktor sou nou by Koeberg krag gelewer het, gegrond op die beproefde direktekragsiklus met heliumgasturbine, soos onder andere aan die voormalige Afrikaneruniversiteit van Potchefstroom gebou en getoets is.

Hoewel Suid-Afrika nie soos Japan op die lewensgevaarlike tektoniese “Ring-van-Vuur”-plaat gebou is nie, het die onlangse Foekoesjima-ramp ‘n groot uitwerking op die boukoste van waterverkoelde kernkragreaktors regoor die wêreld gehad. Die gevolglike verhoogde kapitaalkoste van konvensionele waterverkoelde kernkragreaktors bevoordeel die handelsmededinging van die onverkoelde Eskomreaktor beduidend.

Die Eskomreaktor is tsoenamibestand, en by wyse van plaaslike spreke selfs “Boerebestand”. ‘n Boer en sy handlangers sou byvoorbeeld die Eskomreaktor op ‘n plaas in die Limpopo kon bedryf, sonder om reaktorsmelting te hoef te vrees.

Nie eers Eskomkragonderbrekings en die berugte Koebergbout-sabotasie-tipe-instandhouding, kan ‘n Eskomreaktor laat smelt nie. Vir praktiese doeleindes is die Eskomreaktor dus ook “Eskombestand”.

Die nuwe Medupi- en Kusile-stoomketels van Eskom se nuwe steenkoolkragstasies moet spesiaal vir superkritiese hoëdrukstoom gesweis word, en is daarom riskant in Afrika-omstandighede met korrupte sweissertifikate. Die Eskomreaktor sonder Amerikaanse spesifikasies het nie ‘n stoomketel nie.

Anders as die Franse Koebergkernkragstasie met sy lae beskikbaarheid weens branstofruilings, word die Afrikaanse Eskomreaktor aanlyn met brandstof gelaai.

Die Eskomreaktor kan ook baie beter die wisselende kragaanvraag navolg.

Eskomreaktors kan insgelyks in die binneland gebou word, omdat geen waterverkoelingspoele, soos oseane, groot riviere of damme benodig word nie.

Konstruksietye vir die modulêre 165MW (elektriese) eenhede sonder stoomketels is 50% korter as dié van steenkoolkragstasies. Die modulariteit van die Eskomreaktors verminder ook finansieringskostes en projekrisiko.

Die ANC se nuwe kernkragbouprogram behels 9 600MW vir die eerste fase. Dit is gelyk aan 60 (sic!) plaaslik vervaardigde Eskomreaktors, wat ‘n monteerbaan in die Coega- Industriële Sone regverdig.

Volgens Barbara Hogan, voormalige Minister van Openbare Staatsondernemings:

It was originally envisaged that Eskom would be the PBMR’s anchor customer, with a possible purchase of up to 24 reactors as part of the country’s expansion of its electricity generation capacity to meet increasing demand with a first demonstration PBMR to be constructed on the Koeberg Nuclear Power Station site. However, between 2005 and 2009, it became increasingly clear that, based on the direct-cycle electricity design, PBMR’s potential investor and customer market was severely restricted and it was unable to acquire either; hence government has been constrained to make decisions about the future of the project.

It is absolutely clear from all the high-level reviews that have been undertaken that there is no doubt about the validity of Pebble Bed Technology itself. The main feature of the Pebble Bed Reactor is that its safety features are inherent in the physics of the design, as opposed to add-on engineered safety features as found on current Light Water Reactor (LWR) nuclear plants. In the PBMR original design, the system is a so-called direct cycle where the reactor coolant which is helium in our case, passes through the turbo generator plant without an intermediate system such as a boiler.

This arrangement promised greater thermal efficiency and safety, hence its attractiveness as a future nuclear generation technology. Both the United States and China are actively engaged in further developing this technology, with South Africa earning a reputation as having been at the cutting edge of these developments. This is a remarkable achievement for a developing country and something of which we are justifiably proud.

Die kapitaalkoste van die Eskomreaktor is dubbel dié van Medupi en Kusile, maar die ingevoerde kostekomponent is kleiner, wat buitelandse valute bespaar, en die lopenderekeningstekort verminder.

CO2-belasting is nul, en brandstofkoste ‘n breukdeel van steenkool- en steenkoolvervoerkoste. Bedryfs- en kragproduksiekoste is dus laer.

Die berging van gebruikte brandstofballe is meer ongewingsvriendelik en minder gevaarlik as met konvensionele kenrkragstasies.

Die Eskomreaktor is reeds volledig ontwerp, en plaaslike branstofbalvervaardiging getoets. Tydens die Eskomreaktorprojek, het die ANC-regering by monde van NECSA aangekondig dat uraan weer by Pelindaba verryk sal word.

Brandstofbalbeheer, brandstofbaltemperatuurbeheer, en brandstofbalvloeibeheer met die bedryf van soortgelyke reaktors in Duitsland met ‘n kapasiteit van 46MW(t) en 300MW(t), is in die Afrikaanse weergawe deur middel van ‘n smaller reaktortenk vervolmaak.

Die twee Duitse reaktore is uit bedryf gestel, nie alleen weens klepflaters, baltoevoer- en vloeiprobleme, sowel as Tsjernobil se besoedeling nie, maar omdat Duitsland na Russiese gas toe oorskakel volgens die Poetin-plan, wat kernkrag dus geheel en al uitsluit.

Suid-Afrika se kernprogram is egter nou ‘n gegewe, net soos China se Eskomtipe-korrelbedreaktor. Die 800 hoofsaaklik Afrikaners wat in die voormalige Verwoerdburgstad aan die Eskomreaktor gewerk het, kan egter weer vanuit China en die VSA teruggelok word na hul tuisland met behulp van die bekende “Coming-Home”-program.

President Poetin en Rusland het die Eskomreaktor en brandstofbalvervaardiging met die plaaslike verryking van uraan ondersteun, en sal dit weer doen, soos by die BRICS-vergadering in Durban, naby Nkandla, belowe is.

Lesers is welkom om hierdie artikel aan Jaco Kriek en ander kernkragkundige Afrikaners te stuur. Sou Jaco Kriek met President Zuma en Minister Gigaba hieroor kommunikeer, is dit moontlik dat ons tradisionele Zoeloepresident die voordele van die plaaslike vervaardiging van die Afrikaner- en Afrikaankundige Eskomreaktor weer sal oorweeg, as ‘n sprekende “Proudly-South-African”-projek.

Met Westinghouse nou ‘n Japannese maatskappy en dus uit die prentjie, en gegewe die groot mark in Suid-Afrika, Afrika en BRICS, sowel as Suid-Afrika se Spesiale Strategiese Venootskappe met China en Rusland, het die tyd nou aangebreek vir die plaaslike produksie van die Eskomreaktor in groot getalle, met Suid-Afrika self as ankerkliënt.

Indië sal uiteindelik ook honderde Eskomreaktors koop, aangesien die Eskomreaktor anders as konvensionele reaktors, ook op thorium kan loop.

Met die Nkandla-bewind se openbare verbintenis tot plaaslike minerale hulbronverryking, plaaslike vervaardiging, werkskepping, volhoubare groen energie, CO2-belasting en veilige Afrika-kernkrag, het presies die regte oomblik vir die Eskomreaktor en beskikbare Afrikanerkundigheid nou aangebreek.

Aangesien die Eskomreaktor, heliumturbine en kernbrandstofballe reeds volledig en in besonderhede ontwerp, gekwalifiseer, geteken en deur NECSA gelisensieer is, en die Afrikanerminister Marinus “Kortbroek” van Schalkwyk reeds die omgewingsimpakstudie en konstruksieterrein amptelik goedgekeur het, kan die eerste modulêre Eskomreaktor binne 5 jaar gebou en in bedryf gestel word.

Met ‘n regeringsmandaat kan Jaco Kriek binne 6 maande die PBMR-span weer bymekaarbring. Die Suid-Afrikaanse PBMR-maatskappy benodig R20 miljard vir 5 jaar se bedryfskostes en die bou van die eerste reaktor by Koeberg, en daardie bedrag is deesdae kleingeld in die staat se Eskombegroting. R50 miljard is tans goedgekeur vir son- en windkrag, wat slegs elektrisiteit lewer wanneer die son skyn of die wind waai, vandaar die lae 35%-benuttingsvlakke, wat geen nywerheidsbasisaanvraag kan bevredig nie.

Die Eskomreaktorproduksielyn is reeds vir die Coega- Industriele Zone naby Port Elizabeth beplan.

Tans is die Kongolese Inga III en Grand-Inga-kragprojekte op die amptelike presidensiële projeklys van Suid-Afrika. Die Afrikaanse Eskomreaktor se finansiële, militêre, tegniese, omgewingsimpak- en tydsrisikos is veel laer as die van die gevaarlike Kongolese Inga-projek.

Die Inga-projek vereis ‘n volledig toegeruste Suid-Afrikaanse Weermag in Angola en die DRK, soos tydens die Angolese Oorlog.

President Zuma was onlangs waagmoedig genoeg om die Inga-projek op papier te loods, deur ‘n ekonomies-militêre alliansie-ooreenkoms met president Joseph Kabila van die DRK te onderteken. Die Nkandla-bewind sal dus uiters versekerd en tevrede wees met die plaaslike gelisensieerde Eskomreaktor en bewese Afrikanerkundigheid.