Werklikhede is dikwels baie anders as die Utopia wat politici voorhou, en kandidate wat tydens ‘n verkiesingsveldtog op ‘n golf van gewildheid kon ry, is dikwels kort na hulle tot die tuig verkies is baie ongewild.
Die jongste voorbeeld is pres. Barack Obama wat ‘n jaar na sy verkiesing reeds in meningsopnames druip. Tot die Tea party, ‘n konserwatiewe beweging wat onlangs tot stand gekom het, vaar in peilings beter as pres. Obama se Demokratiese Party.
Iemand wat egter loshande die gewildheidstoets oorleef het, is oud-pres. Nelson Mandela. Hy word steeds wyd – internasionaal en plaaslik – as ikoon voorgehou. Vandag, twintig jaar na sy vrylating, is koerante vol artikels waarin menings gehuldig word oor hoekom hy die status van grootsheid kon verwerf.
In werklikheid was hy ook ‘n regeringshoof met voete van klei. Onder sy grootste flaters was ‘n hele rits baie swak ministers waarvan die sleurkrag in departemente soos Binnelandse Sake, Onderwys, Verdediging en verskeie ander gesien kan word. Swak aanstellings sedertdien het verseker dat sake in die reël nie verbeter het nie, en dikwels nog verder die kreeftegang gegaan het.
Hy het ook die onverpoosde misdaadgolf geloods met die vrylating van 9 000 misdadigers uit tronke in Suid-Afrika toe hy sy amp aanvaar het.
Om sake te vererger het Mandela ook klagtes wat moedelose mense en instansies oor hierdie swak ministers aan sy adres gerig het, as prosedure na daardie ministers verwys. Dit behoef geen Einstein om te besef hierdie prosedure het niks beredder nie.
Die euforie oor Mandela by ‘n groot deel van die publiek het tot gevolg gehad dat ‘n groeiende bewuswording dat die land ‘n grondwet vol leemtes het, eers in die Mbeki-era posgevat het. Die polarisasie wat later besonder opvallend sou word het ook eers in die Mbeki-era behoorlik ingesink. Anders as met Mandela het Mbeki roemloos ondergegaan en is byna dadelik vergeet.
Die Zuma-era het egter baie gou die grondwetlike leemtes ontbloot. Rubriekskrywers, kommentators, briefskrywers in koerante en vele meer probeer as’t ware mekaar oorbie in hul ywer om die langste lys gebreke op skrif gestel en gepubliseer te kry. Die kommentators uit die pro-Mandela-dampkring bly hoegenaamd nie agter by skeptici wat die huidige grondwetlike bedeling vanuit die staanspoor geopponeer het nie.
‘n Opvallende les is dat ‘n grondwet wat onder slegs een regeringshoof skynbaar slaag, geen geslaagde grondwet is nie. ‘n Grondwet moet die toets van geslaagdheid meer holisties kan deurstaan.
Tog het van die kommentators wat so die probleme lys steeds volgehou dat die grondwet goed is en op ‘n manier gebruik moet word om die probleme wat hulle lys aan te spreek. Oor die meganika hiervan was daar heelwat minder duidelikheid as oor die lys van probleme, en stellings is gemaak soos “deur harde werk”.
Pas het dit aan die lig gekom dat ‘n peiling in November aan Zuma ‘n gewildheid van 77 % gee, teenoor 70 % wat meen die regering vaar goed. Intussen is heelwat water die see in en het verskeie dorpe gebrand of brand steeds.
Dit lyk nogtans of diegene wat die land se probleme so lys, baie lank gaan wag dat die demokrasie onder die huidige grondwet die probleme gaan oplos.
Nou wag die land op die president se staatsrede.

Sedert die oorgawe van FW de Klerk en Roelf Meyer aan die ANC, asook die oorhandiging van die Suid-Afrikaanse Weermag aan die bevelstruktuur van Umkhonto we Sizwe, bevind die Afrikaner hom in die situasie van 'n oorheersde volk wie se grondgebied feitlik vanuit die Ooskusgebiede van Suid-Afrika deur ander groepe beset word.