praag.co.za

Tag: parool

  • CDL en twee ander hoor vandag oor parool

    Die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock en ‘n voormalige BSB-agent Ferdi Barnard, sowel as Clive Derby Lewis sal vandag weet of hulle op parool vrygelaat gaan word, het RSG berig.

    Die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Micheal Masutha sal vanoggend aankondig of die 79-jarige Derby-Lewis se aansoek om mediese parool toegestaan word.

    Hy sal ‘n aankondiging maak oor die ander twee se parool-aansoeke.

  • CDL hoor vandag oor sy parool-aansoek

    Die politieke gevangene, Clive Derby-Lewis, se regsverteenwoordiger sal na verwagting vanoggend in Pretoria ‘n aankondiging doen oor sy aansoek om mediese parool.

    Die onskuldige slagoffer van die moordaanslag deur ‘n Pool, Janusz Walus op die SAKP-leier, Chris Hani, is die afgelope meer as 20 jaar reeds in die tronk nadat hy deur “gratis regshulp” aangeraai is om nie te getuig om sy onskuld te bewys nie.

    Derby-Lewis het verskeie kere onsuksesvol om parool aansoek gedoen. Hy ly ondermeer aan kanker en is reeds twee keer in die tronk aangeval.

    Verlede maand het die Hooggeregshof in Pretoria beslis dat die mediese paroolraad Derby-Lewis se regspan teen Saterdag oor sy beslissing moet inlig.

    Sy regsverteenwoordiger, Marius Coertze, sê hy het intussen die nodige dokumente van die raad ontvang.

  • Selebi na koma dood

    Jackie Selebi, voormalige polisiekommissaris, is Vrydagoggend in die ouderdom van 64 oorlede, nadat hernude bespiegelinge oor sy paroolvrylating deur die omstrede regter Desai weer ter sprake gekom het.

    Die regter wat voorheen oor Selebi se siektetoestand moes besluit, Siraj Desai, het dié week bevind dat Sunette Bridges haatspraakkommentaar op haar blad vergoeilik het.

    Desai, ‘n Kaapse regter, is in 2004 van verkragting van ‘n vigswerker van Bela-Bela in ‘n weelderige hotelkamer in Moembaai verdink.

    Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het gesê dat die departement van korrektiewe dienste Selebi se dood bevestig het.

    Eyewitness News berig dat Schabir Shaik, Selebi se vriend, medeparoolvrygelatene en ywerige gholfspeler, eweneens vanoggend die nuus meegedeel is. Die twee het saamgewerk in Shellhuis in die vroeë 90’s.

    Selebi was glo die afgelope twee en ʼn half weke in ʼn geïnduseerde koma.

    Selebi is in 2010 skuldig bevind aan korrupsie en is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het in Desember 2011 by sy huis inmekaargesak nadat sy finale appèl misluk het.

    Selebi is in 2012 op mediese parool vrygelaat nadat hy volgens berigte met nierversaking, hoë bloeddruk en diabetes gediagnoseer is, maar is kort na sy vrylating in ‘n “kritieke toestand” opgemerk waar hy lustig en sonder bystand inkopies doen by ‘n besige winkelsentrum.

    Clive Derby-Lewis word steeds parool geweier, ten spyte van sy ernstig verswakkende gesondheidstoestand.

  • Gaye Derby-Lewis waarsku SAKP oor samesweringsteorie

    Clive Derby-Lewis se vrou, Gaye, het die SAKP en Chris Hani se weduwee gewaarsku teen bewerings van ‘n wyer sameswering oor Hani se moord in ‘n ope brief aan die party.

    Die SAKP en Limpho Hani sal na verwagting op 9 Januarie voorleggings aan die minister van justisie, Michael Masutha maak.

    Hulle moet redes gee oor waarom Derby-Lewis nie op mediese parool vrygelaat moet word nie. Hani se weduwee en die SAKP het in die verlede volgehou dat Derby-Lewis nie die volle waarheid oor Hani se moord onthul het nie.

    Die SAKP-leier is in April 1993 voor sy huis in Boksburg deur die Poolse immigrant, Janusz Walus doodgeskiet sonder Derby-Lewis se medewete.

    Derby-Lewis is daarna regshulp aangebied wat sy saak belemmer het deur aan te dring dat hy nie getuig oor sy onskuld nie.

    Dit het later geblyk dat getuies met die dood gedreig is om valse getuienis teen Derby-Lewis te versin wat hy nie kon weerlê nie omdat hy aangeraai is om nie te getuig nie.

    Die hof het Masutha opdrag gegee om voor 31 Januarie oor Derby-Lewis se mediese parool te besluit.

  • Becker van Waterkloof-vier uit op parool

    Christoff Becker, een van die sogenaamde Waterkloof-vier, is Dinsdag op parool vrygelaat.

    ‘n Woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê Becker is vrygelaat na ‘n bevel van die hooggeregshof in Pretoria.

    Sy prokureurs het vroeër dié maand ‘n dringende aansoek om parool in die hooggeregshof gebring. Dit is toegestaan.

    Die vier seuns van Waterkloofhoërskool, naamlik Becker, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt, het glo op 1 Desember 2001 ‘n hawelose swarte in Moreletapark, Pretoria, aangerand.

    Hulle is in Junie 2005 skuldig bevind aan moord.

    Die slagoffer is nooit uitgeken nie. Die vier is op 11 Februarie 2014 vrygelaat ná vyf en ʼn half jaar van die 12 jaar tronkstraf wat hulle opgelê is.

    Becker en Du Preez se parool is egter teruggetrek nadat ʼn selfoonvideo aan die lig gekom het wat glo wys hoe hulle partytjie hou in die tronk. Hulle is op 28 Februarie weer teruggestuur tronk toe.

    Becker is later na Kokstad oorgeplaas nadat ’n selfoon glo by hom gekry is. Du Preez kan eers weer in Januarie 2015 vir parool oorweeg kan word.

  • De Kock weer hof toe oor parool

    Eugene de Kock sal ‘n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria indien nadat die minister van justisie en korrektiewe dienste geweier het om aan hom parool toe te staan.

    Michael Masutha het in Julie De Kock se paroolaansoek afgekeur omdat die families van sy slagoffers nie daaroor geraadpleeg is nie.

    De Kock (65) het reeds 18 jaar tronkstraf uitgedien.

    Masutha het gesê daar moet in die volgende 12 maande ‘n nuwe paroolverslag en profiel oor De Kock opgestel word.

    De Kock, die voormalige Vlakplaas-polisiebevelvoerder, het hom in Mei tot die hooggeregshof in Pretoria gewend om Masutha te dwing om ‘n besluit oor sy parool te neem.

    Regter Thokozile Masipa het op 28 Mei beveel dat die minister 30 dae het – vakansiedae of naweke uitgesluit – om te besluit of De Kock op parool vrygelaat moet word.

    Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het glo in November verlede jaar al ‘n besluit geneem oor De Kock se parool. Die aanbeveling is aan Sbu Ndebele, die vorige minister van korrektiewe dienste, gestuur vir oorweging.

    Hy het egter nooit ‘n besluit geneem nie en De Kock moes gevolglik vroeër vanjaar die hof nader om hom te dwing om dit te doen.

    Die saak is as afgehandel beskou nadat Ndebele se regsverteenwoordigers aangedui het dat hy teen 12 Mei ‘n besluit sou neem. Weer is geen besluit geneem nie en nadat Ndebele sy pos ná die verkiesing verloor het, het De Kock weer die hof genader.

     

  • Piet Croucamp dreig Johan van der Merwe met ‘doodstraf’

    Piet Croucamp, die “akademikus” van die Universiteit van Johannesburg wat deurentyd Afrikanersangers en -meningsvormers verdag wil maak, het oud-genl. Johan van der Merwe vertel dat hy eintlik die doodstraf verdien.

    In ‘n e-pos aan Van der Merwe, die laaste blanke en Afrikaanse polisiekommissaris voordat die ANC en SAKP die land verower het, sê Croucamp:

    “Indien hierdie land nie ‘n demokrasie was nie, het jy aan jou nek geswaai. En, terwyl ek met my hele hart teen die doodstraf is, sou ek myself kon forseer om vir eens weg te kyk en gods water oor gods akker te laat loop.”

    Croucamp se reaksie geskied blykbaar na aanleiding van Johan van der Merwe se steun vir die vrylating van Eugene de Kock, soos hy dit in ‘n onlangse Ope brief aan Helen Zille oor Eugene de Kock gestel het.

    In die aanvanklike gedeelte van sy e-pos skryf Croucamp:

    “Johan, Vlok het vir Eugene kom vra daar in die gevangenis: Eugene, het ek jou ooit gevra om iemand dood te maak? Eugene se antwoord was, nee, maar jy het vir my medaljes gegee wanneer ek dit gedoen het. Jou een-dimensionele manier van na jou loopbaan kyk, maak van jou ‘onskuldig’ voor jouself en jou god. Maar, voor die mensdom is jy een van apartheid se politieke lafaards. Moenie Eugene betrek by jou drogredenasies nie.”

    Hierop wou Van der Merwe hom nie regstreeks antwoord nie, maar het in ‘n kort boodskap terug aan Croucamp verwys na Spreuke 26:4 wat lui: “Antwoord ’n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.”

  • Ope brief aan Helen Zille oor Eugene de Kock

    Geagte mev. Zille,

    Die verklaring deur mnr. James Selfe, die skaduminister van Justisie en Korrektiewe dienste van die DA, gister oor die weiering van parool aan Eugene de Kock, het die DA nie slegs in ‘n swak lig gestel nie, maar verlaag die DA tot op die vlak van die ANC waar besluite geneem en verklarings uitgereik word aan die hand van propaganda, persepsies en waninligting.

    Dit is nie duidelik of die verklaring deur mnr. Selfe letterlik op u webtuiste aangehaal word nie, maar die volgende stelling is so skeef en verwronge dat dit moeilik is om dit te glo:

    “The DA takes note of the decision by the Minister of Justice and Correctional Services, Mike Masutha, to deny parole to Eugene de Kock who was tried and convicted on 89 charges and sentenced to two life sentences and 212 years in prison after disclosing the full scope of his crimes while testifying before the Truth and Reconciliation Commission (TRC).”

    Mnr. Selfe se verdere verklaring dat Eugene de Kock in die gevangenis sit terwyl die persone wat die bevele gegee het op vrye voet verkeer, getuig van skokkende onkunde en is duidelik op propaganda en persepsies gebaseer. Daar is geen enkele geval waar Eugene de Kock tot gevangenisstraf gevonnis is waar daar enige feite bestaan dat hy in opdrag van ‘n meerdere gehandel het nie. Indien u of mnr. Selfe van so ‘n geval bewus is sal ek graag daarvan verneem. Die enigste geval waar daar twyfel ontstaan het, was die Maponyageval, waar amnestie juis op grond daarvan aan Eugene de Kock geweier is.

    Dit wil voorkom asof mnr. Selfe die gewone klakkeloos standpunt oor Eugene de Kock kwytgeraak het sonder om hom enigsins van die feite te vergewis of te bepaal wat al die regsaspekte behels. Hy het byvoorbeeld geen melding gemaak van die feit dat die regering sedert November 2013 kennis dra van die aanbeveling van die Nasionale Raad van Korrektiewe dienste onder leiding van regter Siraj Desai, die voorsitter van die Parool Appélraad, dat parool aan Eugene de Kock toegestaan moet word nie. Na verloop van 8 maande kondig minister Tshililo Machael Masutha doodluiters aan dat die Paroolraad ‘n fout begaan het om nie al die slagoffers in die geval van Eugene de Kock te raadpleeg nie. Daar sal nou gepoog word om dit binne ‘n jaar te doen. Dit getuig van skokkende nalatigheid en ‘n roekelose verontagsaming van die beginsels van reg en geregtigheid. Mnr. Selfe rep geen woord daaroor nie. Wetgewing dat die families van slagoffers geraadpleeg moet word alvorens parool aan ‘n veroordeelde moordenaar toegestaan mag word het eers gedurende 2003 van krag geword. Daar bestaan in regskringe ernstige bedenkinge of hierdie bepalings op die geval van Eugene de Kock toegepas kan word, maar mnr. Selfe swyg daaroor.

    In ‘n era waar korrupsie en wanbestuur aan die orde van die dag is en daar in regskringe ernstige bedenkinge bestaan oor die gehalte van ons regspleging, kan ‘n mens nie anders as om ‘n beklemming om jou hart te kry as die amptelike opposisie met so ‘n skaduminister van Justisie en Korrektiewe dienste sit nie.

    Ek heg graag hierby ‘n memorandum aan om meer agtergrond oor al die wesenlike aspekte te gee.

    Met agting

    Johan van der Merwe, Montana, Pretoria

  • DA verwelkom besluit om De Kock se aansoek af te keur

    Eugene De Kock sal ‘n aansoek by die Pretoriase hooggeregshof indien om die minister van justisie en korrektiewe dienste, se weiering van sy vrylating op parool tersyde te laat stel.

    James Selfe, DA-woordvoerder oor korrektiewe dienste, het egter die minister se weiering om parool toe te staan verwelkom en gesê die korrekte prosedure is die slagoffers se familielede geraadpleeg word.

    Dié proses móét vir De Kock gevolg word, het die DA gesê.

    Volgens De Kock se regsverteenwoordiger is hy “nie gelukkig” omdat sy parool afgekeur is nie.

    Die hersieningsaansoek behoort volgende week gereed te wees.

    Masutha het Donderdag op ’n mediakonferensie gesê die slagoffers se families is nie geraadpleeg in De Kock se paroolaansoek nie.

    Dit is in die slagoffers se belang dat die families kans kry om deel te neem aan die parool-oorwegingsproses, soos wetlik vereis word, het Masutha gesê.

    Daarom het hy nie parool vir De Kock in dié stadium goedgekeur nie.

    De Kock se regsverteenwoordiger het gesê die slagoffer-deelnameproses in parooloorweging het in 2003 van krag geword, en is nie van toepassing van vonnisse vóór 2003 nie.

    Dit is byna seker dat die families beswaar teen De Kock se vrylating sal aanteken.

    Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het De Kock se parool op 19 November 2013 aanbeveel by S’bu Ndebele, vorige minister van korrektiewe dienste.

    Dié raad staan onder voorsitterskap van regter Siraj Desai.

    In die volgende vyf jaar gaan sowat 5 000 mense wat tot lewenslange tronkstraf gevonnis is in aanmerking kom vir parool en dit is hoogs onwaarskynlik dat enige familielede van hulle slagoffers genader sal word deur die minister.

    Die aansoeke van De Kock en Clive Derby-Lewis het duidelik in ‘n politieke speelbal ontaard.

     

     

  • De Kock parool geweier

    Die oud-Vlakplaas-bevelvoerder, Eugene de Kock, sal nie op parool vrygelaat word nie.

    De Kock is in 2013 deur die paroolraad aanbeveel vir vrylating.

    De Kock se vrylating sal vermoedelik te veel van ‘n vernedering vir De Klerk en sy trawante wees en hul openbare posisies ondermyn.

    Die minister van korrektiewe dienste, adv. Michael Masutha, het die aankondiging Donderdagoggend gedoen.

    Die families van De Kock se “slagoffers” is glo nog nie “geraadpleeg” nie.

    De Kock is sedert 1996 in die tronk waar hy twee lewenslange vonnisse en nog 212 jaar tronkstraf uitdien nadat hy bevele van De Klerk en die NP-regering uitgevoer het.

    Sy vorige base het intussen die ANC omhels wat De Kock in ‘n netelige posisie stel en hom heeltemal uitgelewer het aan die genade van halssnoermoordenaars en terroriste.

    Luidens ’n inskrywing op die departement van justisie se webwerf het De Kock aan die WVK gesê NP-sekurokrate het gedurende apartheid voetsoldate gebruik om hul vuilwerk te doen.

    Hy het oudpres. FW de Klerk en genl. Johan Coetzee, voormalige polisiehoof, uitgesonder en gesê hulle het die polisie en die meeste wit mense in die land uitverkoop.

    In 1979 is Coetzee opdrag gegee om Seksie C1 op die polisieplaas Vlakplaas, aan die westelike buitewyke van Pretoria, te begin.

    Coetzee se swart askari’s het ANC-terroriste wat nie geweld wou afsweer nie en halssnoermoorde gepleeg het, aan die pen laat ry.

    In geen ander beskaafde Westerse land is iemand van sy status in dieselfde posisie geplaas nie.

    In Frankryk het generaal Paul Aussaresses wat honderde moorde in die Algeryne oorlog gepleeg het, en dit openlik erken het, slegs sy treinkonsessie van die staat verloor om gratis te reis.

     

  • Minister sal SAKP se aanbevelings oor Derby-Lewis oorweeg

    Minister sal SAKP se aanbevelings oor Derby-Lewis oorweeg

    protest-clive-derby-lewisDie minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Mike Masutha sê voorleggings van familielede en ander belanghebbendes sal in ag geneem word voor ‘n finale besluit oor parool vir Clive Derby-Lewis geneem word.

    Daar is aanbeveel dat Derby-Lewis parool toegestaan ​​word, het Masutha Maandag gesê.

    “Daar is ‘n positiewe aanbeveling, met ander woorde ‘n aanbeveling om vrylating op parool,” het hy aan verslaggewers gesê in Pretoria.

    Hy het vroeër bekend gemaak dat daar ‘n memorandum van die SAKP in die verband ontvang is.

    Masutha sê die “politieke en emosionele sensitiwiteit” oor die kwessie sal in ag geneem word.

    Die 78-jarige Derby-Lewis is onlangs twee keer in die gevangenis aangeval en met ‘n skerp voorwerp gesteek.

    Hy 25 jaar tronkstraf opgelê vir die dood van die SAKP-leier, Chris Hani in 1993. Hy het reeds meer as 20 jaar van die tronkstraf uitgedien, nadat twee aansoeke op parool reeds afgekeur is.

    Derby-Lewis het nie self die sneller getrek nie en het ook nie amnestie ontvang nie, ten spyte van sy bekentenisse. Talle massamoordenaars en terroriste wat burgerlike teikens om die lewe gebring het, het wel amnestie ontvang voor die WVK.

    Derby-Lewis het die geweer aan ‘n Poolse immigrant Janusz Walus gegee om die Kommunistiese Party se sekretaris-generaal Chris Hani in die oprit van sy Boksburghuis, aan die Oos-Rand, op 10 April 1993 dood te skiet.

    Hy word by die Kgosi Mampuru-sentraal in Pretoria in ‘n sel vol ander misdadigers aangehou en sy gesondheidstoestand is uiters kommerwekkend volgens sy vrou, mev. Gaye Derby-Lewis.

    Rian Malan het onlangs voorgestel dat mev. Derby-Lewis aan die ANC “erken” dat sy en haar man CIA-agente was wat die opmars van die kommuniste wou stuit deur die moord.

    Masutha het Maandag gesê voorleggings deur familielede van Hani sal in ag geneem word voordat ‘n besluit geneem word.

    Dieselfde geld vir die Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock.

    Verlede maand het die hooggeregshof in Pretoria gelas dat Masutha parool oorweeg vir de Kock.

  • Minister moet besluit oor Eugene de Kock

    Minister moet besluit oor Eugene de Kock

    Eugene de Kock
    Eugene de Kock

    Die Noord Gautengse Hooggeregshof het beslis dat die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Michael Masutha moet besluit of die voormalige bevelvoerder van die polisie se Vlakplaas-eenheid, op parool vrygelaat sal word.

    Regter Thokozile Masipa het beslis dat die minister die besluit moet neem of Eugene de Kok na twee dekades in die tronk op parool vrygelaat sal word.

    Die nuwe minister moet binne dertig dae besluit oor die kwessie.

    De Kock, wat in die Britsgesinde pers as Prime Evil bekend staan, is in 1996 skuldig bevind en tot twee-honderd-en-twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis.

    Verskeie vorige pogings om hom op parool te laat vrylaat, is reeds van die hand gewys.

    Die Nasionale Raad vir Korrektiewe Dienste het glo ‘n aanbeveling oor De Kock se parool in November verlede jaar ontvang.

    Die aanbeveling is gestuur na die destydse minister van Korrektiewe Dienste S’bu Ndebele, maar dié het versuim om ‘n tydige besluit te neem.

    Ndebele se regsadviseurs het onderneem dat die minister ‘n besluit sal neem teen 12 Mei deser.

    Geen besluit is gemaak voor die sperdatum nie en toe Ndebele sy kabinetspos na die Mei 7 algemene verkiesings verloor, het De Kock weer die hof genader vir ‘n beslissing.

    Die voormalige polisiekolonel, wat in beheer was van ‘n eenheid by Vlakplaas buite Pretoria, is in 1994 in hegtenis geneem.

    Baie van sy voormalige kollegas wat moord gepleeg het onder sy bevel het getuig in ruil vir vrywaring van vervolging.

    De Kock het self in detail voor die Waarheids-en-versoeningskommissie getuig, maar is amnestie geweier omdat die moorde glo nie “polities gemotiveer” was nie.

    Die woordvoerder van die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste, Manelisi Wolela, sê hulle wag nog vir die hofbevel.

  • FN-lede dreig om kommunistiese vlag voor DKD te verbrand

    FN-lede dreig om kommunistiese vlag voor DKD te verbrand

    Embleem van die nuwe politieke party
    Embleem van die nuwe politieke party

    Front Nasionaal het sy wanhoop uitgespreek oor die departement van korrektiewe dienste se gesloer met Clive Derby-Lewis se mediese parool.

    “Ons kom nou naby aan die 21-dae-ultimatum wat aan die departement van korrektiewe dienste gestel is tydens ons betoging op 12 April. Tot op hede het mnr. Clive Derby-Lewis nog nie enige mediese ondersoek deur die departement ondergaan nie,” sê dr. Dan Roodt, onderleier van die party. “Daarom gaan ons weereens ‘n memorandum aan die departement oorhandig op Vrydag 2 Mei om 12:00 by sy hoofkwartier in die Poyntons-gebou in Pretoria.”

    ‘n Stille betoging deur partylede wat plakkate dra, sal gehou word. Sekere partylede dreig om ‘n kommunistiese vlag te verbrand. “Ons begryp dat die hamer-en-sekel ‘n simbool van die Nasionale Demokratiese Revolusie is en deur Nelson Mandela en Joe Slovo gebruik is,” sê Roodt. “Maar sekere van ons lede is keelvol oor die onregverdige verlenging van Clive Derby-Lewis se straftydperk, dus is humeure besig om kort te raak.”

    Terselfdertyd sal die party die eerste gebied in Pretoria verklaar wat vir kulturele selfbeskikking kwalifiseer. Afrikaans sal as die oorheersende kulturele, handels- en openbare taal in dié eerste “taaleiland” herstel word. Die plaaslike taal Afrikaans ly tans onder diskriminasie en marginalisering onder die ANC-bewind.

    “Dis ongelukkig dat ons die term ‘taaleiland’, na die Duitse Sprachinsel, moet gebruik, maar in stryd met die SA grondwet is ons taal tot die status van ‘n dialek verlaag in ‘n openlik kolonialistiese, imperialistiese, verengelste Suid-Afrika,” sê Roodt. “In Johannesburg en in Kaapstad verwys vele mense beledigend na Afrikaans as ‘n “spreektaal” en ‘n “kombuistaal”. Drastiese stappe is nou nodig om die taal te bewaar, waaronder territoriale oplossings.”

    Sowel die verdere aanhouding van Derby-Lewis, ‘n siek ou man, as die ondergang van Afrikaans is te wyte aan die misbruik en sentralisering van mag in die hande van slegs enkele mense in Suid-Afrika, verklaar die party.

    “Ons gaan nie stilsit terwyl ‘n gerekende konserwatiewe denker soos Clive Derby-Lewis weens laakbare aanvalle en verwaarlosing in die tronk sterf nie. Insgelyks sal ons nie toelaat dat Afrikaans tot uitsterwing gedwing word deur beide die regering en groot sake nie,” sê Roodt.

  • Clive Derby-Lewis verkeer in doodsgevaar

    Clive Derby-Lewis verkeer in doodsgevaar

    cdlDie hoofstroommedia in Suid-Afrika probeer met alles waartoe hulle in staat is, die tweede aanval op mnr. Clive Derby-Lewis af te maak asof dit nou maar weer ’n toevalligheid is. Hierdie keer word dit voorgehou dat die aanvaller ’n jong lid van ’n bende is wat sy lidmaatskap moet bewys en regverdig deur iemand belangrik se bloed te laat vloei.

    Dit word nou aan Suid-Afrika voorgehou as die rede waarom die tweede aanval op mnr. Derby-Lewis plaasgevind het.

    Waarnemers en ontleders vertel egter ’n ander verhaal.

    Hulle meen dit is net te toevallig dat die volgende gebeure die een na die ander mekaar opgevolg het rondom Derby-Lewis.

    1 Met ’n parool aansoek is die opmerking gemaak dat Derby-Lewis in die tronk moet doodgaan

    2 Verskeie kere word parool aansoeke afgewys, te midde van die feit dat hy reeds etlike jare langer in die tronk is as enige ander oortreder van die wet, en reeds ten volle gekwalifiseer het vir parool.

    3 ’n Eerste aanval word op Derby-Lewis gemaak met die doel om hom om die lewe te bring, en die rede vir die aanval word aan die wêreld voorgehou dat die aanvaller versteurd is

    4 Die tweede aanval word geloods, slegs enkele weke na die vorige aanval, met die doel om te dood, en dit word weereens afgemaak met ’n flou verduideliking, hierdie keer asof dit ’n jong bendelid is wat homself moet bewys.

    5 Derby-Lewis word parool geweier, te midde van die feit dat hy ’n kankerlyer is en reeds jarelank ten volle kwalifiseer vir parool.

    6 Tydens die tweede aanslag op sy lewe, was dit nie korrektiewe dienste personeel wat tot sy hulp gekom het nie, maar mede gevangenis, waarvan Casper Greeff, ’n voormalige tandarts een was. Sulke “onwilligheid” van personeel laat ernstige bedenkinge.

    7 Die skynbare onwilligheid van tronkpersoneel om Derby-Lewis vinnig by die hospitaal te kry, spreek boekdele

    8 Toe Derby-Lewis besig was om sy bewussyn te verloor tydens die tweede aanval, was daar nie een personeellid wat hom te hulp gaan nie.

    9 Die feit dat die tronk-owerheid eers na die tweede moordaanslag op Derby-Lewis se lewe, besluit het om hom in ’n enkelsel te plaas, is verdag. Waarom toe eers?

    10 Die skielike verklaring dat Derby-Lewis se veiligheid beslis verseker word, is om die minste te sê, ongeloofwaardig.

    Die bostaande tien gebeure, kan onmoontlik as toevallige handelinge en optredes beskou word. Enige regdenkende weet dat die twee voorvalle om Clive Derby-Lewis om die lewe te bring, verdoesel word omdat een saak duidelik voorop staan:

    Hy moet in die tronk sterf!

    Die regspersone wat hierdie analise gedoen het, is oortuig daarvan dat die aanslag op die lewe van Clive Derby-Lewis van buite die tronk gereël is.

    Bron: Die Vryburger