Vier renosterstropers doodgeskiet

rhinopatrollVier vermeende renosterstropers is die afgelope naweek in die Krugerwildtuin doodgeskiet, het ’n woordvoerder vir Sanparke, Ike Phaahla, Maandag gesê.

Veldwagters het Saterdag op ses vermeende stropers in die wildtuin afgekom en ’n skietgeveg het uitgebreek.

“Drie verdagtes is doodgeskiet en die ander drie is in hegtenis geneem,” het Phaahla gesê.

’n Vierde vermeende renosterstroper is Saterdag naby die wildtuin se Krokodilbrug-ingang doodgeskiet.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie in Limpopo, het gesê vier stropers is Vrydag in Hoedspruit vasgetrek. – Sapa

Kruger-leeu eet wilddief

Twee vermeende wilddiewe is in hegtenis geneem en ‘n derde is glo verlede week deur ‘n leeu in die Krugerwildtuin opgeëet.

Volgens die twee mans wat in hegtenis geneem is, het die trio op die nag van 12 Maart na die park gegaan om lokvalle vir die diere te stel, het William Mabasa, ‘n woordvoerder van KNP in ‘n verklaring gesê.

“Hulle het op die nag van die 13de teruggekeer om te sien wat hulle gevang het. Op pad terug het hulle op seekoeie afgekom wat hulle aangeval het. Die mans het toe in verskillende rigtings gehardloop.”

Twee van die mans het veilig uit die park gekom, maar het bekommerd geraak toe hul vriend nie terugkeer nie.

“Een van die wilddiewe was die neef van die derde man en het aan sy ma vertel dat hy nie van die park teruggekeer het nie. Sy het toe die voorval by die polisie aangemeld,” het Mabasa gesê.

Die twee mans is by hul huis in Mkhuhlu naby Hazyview in hegtenis geneem. Hulle het toe die polisie na die plek geneem waar hulle die derde man laas gesien het.

“Bloed en geskeurde klere is gevind.”

Wildbewaarders het Saterdag ‘n menslike skedel in die Pretoriuskop-gebied van die park gevind. Daar word vermoed dat die derde man deur ‘n leeu geëet is.

Die twee mans wat in hegtenis geneem is, word by die Skukuza-polisiekantoor aangehou.

Die polisie in Mpumalangs kon nie onmiddellik die voorval bevestig nie.

детски игАлександр Фильчаков