Die Gautengse polisie het bekendgemaak dat ‘n vragmotor, wat uiters gevaarlike materiaal vervoer, Vrydag by Halfweghuis in Midrand gekaap is.
Die vragmotor het kalium-sianied vervoer. Die chemikalieë word onder meer in goudmyne gebruik en was na die Suid-Afrikaanse Munt onderweg.
Volgens die polisie het die opsporingsmaatskappy by Marlboro in Johannesburg kontak met die voertuig verloor.
Die polisie sê op die vragmotor is in blou en grys geskryf ” Krome Metal Chemicals”. Die registrasienommer is BX 62 XP GP. Kalium-sianied het ‘n wit kleur en het ‘n amandelreuk. Die stof is uiters giftig.
Enigeen wat die vragmotor gewaar is gevra om die polisie onverwyld te kontak. – RSG
