“‘n Mens kan nie sê die ANC gaan misluk omdat die NP misluk het nie. Die ANC en die NP het verskillende ideologieë gehad, want onder die NP het mense nie stemreg geniet nie,” het Zuma gesê.
Mulder het in Woensdag se toespraak gesê daar is soos onder die vorige bedeling ook spanning tussen die ideale wat die ANC koester en wat sy kiesers op grondvlak ervaar.
Mulder het as voorbeeld van die NP se dilemma die volgende aangehaal:
“In 1978 skryf prof. Gerrit Viljoen as Afrikaner-denker ‘n boek met die titel: “Ideaal en Werklikheid, (rekenskap van ‘n Afrikaner).” In die boek argumenteer hy hoe die ekonomiese en ander werklikhede van Suid-Afrika al hoe verder wegbeweeg van die ideale en drome van die Nasionale Party. (Hy maak dan voorstelle hoe die NP se ideale en Suid-Afrika se werklikhede nader aan mekaar kan kom.)”
Mulder het na enkele van die harde werklikhede van Suid-Afrika vir die ANC verwys en gesê die president beklemtoon hoe belangrik dit is om meer werkgeleenthede in Suid-Afrika te skep, maar in dieselfde asem kondig hy aan dat daar nuwe arbeidswetgewing kom wat sonder twyfel werkskepping gaan demp.
Mynbou bring meer as 30% van die land se uitvoer-inkomste in, maar dieselfde asem verwar Zuma buitelandse beleggers as hy Malema-taal gebruik oor die minerale rykdom wat aan alle Suid-Afrikaners behoort met die staat as voog (the mineral wealth of our country that belongs to all South African, with the State as the custodian.)
Mulder sê voorts in Zuma se toespraak beklemtoon die president dat korrupsie en die wanbesteding van belasting nie geduld gaan word nie. Die VF Plus sê hoor-hoor vir die spesiale eenheid wat wanadministrasie ondersoek en reeds R44 miljoen teruggekry het van staatsamptenare wat onwettige huissubsidies ontvang het. Maar dan moet mense in die koerante lees dat R100 miljoen wanbestee is op ‘n jeugfees.
Hierdie uitsprake en aksies stuur botsende boodskappe aan kiesers, aan die privaatsektor, aan die landbougemeenskap en moontlike beleggers.
Die Nasionale Party het van 1914 af met kongresse en debatte sy beleid gevorm. So was die nasionalisering van myne en die vasvat van die Oppenheimers gewilde NP-beleidstandpunte voor die party regeer het. Die harde werklikhede van Suid-Afrika het gemaak dat baie van hierdie beleidstandpunte na 1948, toe die NP begin regeer het, aangepas moes word.
Vandag sit die ANC met dieselfde dilemma. By Polokwane en ander ANC-kongresse word allerlei populistiese besluite deur ANC-lede geneem. Besluite wat gegrond is op die propaganda waarop ANC-lede oor jare geskool is. Omdat baie van hierdie besluite nie die Suid-Afrikaanse werklikhede in ag neem nie, kan dit nie prakties uitgevoer word nie.
Wat dit nog moeiliker maak, is dat die ANC uit baie faksies bestaan. Die ANC-leierskap moet sy wye ideologiese kerk bymekaar probeer hou. Dit lei daartoe dat elke faksie in die openbaar probeer voorgee dat hul beleid nie net die amptelike ANC-beleid is nie, maar ook dat dit president Zuma se ondersteuning geniet. Van hier die botsende boodskappe.
Mulder sê gewone partylede moet nie met populêre propaganda op ‘n politieke hongerdieet gesit word nie.
