Terwyl die regering nog kort-kort uitlatings maak oor die beskikbaarstelling van groot hoeveelhede kleinhoewes, sogenaamd om landelike armoede teen te werk, moet boere volgens die voorstelle in die wetsontwerp nou plaaswerkers toelaat om kommersieel op hul grond te boer.
Plaaswerkers kan dan ook beeste sonder die boer se toestemming aanhou.
Presies hoe groot moet die stukke grond wees wat elke plaaswerker kry om op kommersieel te kan boer? As die bedoeling is dat die plaaswerker daaruit ‘n inkomste gelykstaande aan die minumumloon te verdien, is die vereiste stuk grond in die meeste gevalle in die orde van sowat 300 hektaar. ‘n Boer wat tien plaaswerkers het, sal dus ‘n enorme plaas moet hê as hy self nog kommersieel daarop wil boer.
Dan is daar nog die gewese plaaswerkers en plakkers met hul vee waarmee ook rekening gehou moet word.
Sou die wetsontwerp so gefinaliseer word en die toets van grondwetlikheid deurstaan, is al manier om nog suksesvol besitreg op ‘n mens se eie grond te kan uitoefen ten einde ‘n kommersiële boerderybestaan daaruit te maak, om skuiwergate in die wet te soek. Dis ‘n hoogs onbevredigende situasie.
Die logiese is dus om voluit te kyk na waar die planne grondwetlike regte soos die reg op eiendom, en die vertolking wat die internasionale reg daaraan heg, te ondersoek. Hiermee saam die regte soos die reg op privaatheid, die reg om ‘n beroep te mag beoefen, die staat se plig om mense se menswaardigheid te handhaaf, selfs die reg op veiligheid.
Kommentare kan gestuur word na:
LandTenureSecurityBill@ruraldevelopment.gov.za
