Die grondkwessie

Dit is te hope dat daar in Suid-Afrika nie nog baie kwessies is waaroor daar soveel uiteenlopende sienings is nie as oor die grondkwessie.

Wanneer ‘n mediese dokter iets sê oor hoe hy ‘n operasie gaan uitvoer, sal die advokaat en die Telkom-tegnikus nie beter probeer weet nie.

Maar kom dit by ewe komplekse kwessies soos die joernalistiek en die politieke wetenskap, is elke Jan Rap en sy maat kundiges – probeer hulle voorskryf, weet hulle in hul eie oë meer. Veral in die staatsweë loop hierdie en ander vakkundiges hulle in hoofde vas wat niks van die ondergeskiktes se velde weet nie, maar met die gesag toebedeel is om opdragte te gee …dikwels met katastrofale gevolge.

So is dit ook met die grondkwessie. Om elke hoek en draai lewer die leek, die oningeligte, die politiek-bevooroordeelde uitsprake. Die probleem is dat van hierdie onkundiges en bevooroordeeldes oor mag beskik.

Een van die brandende kwessies is dat niemand presies weet hoe ‘n groot persentasie landbougrond in Suid-Afrika deur nie-wit boere besit word nie. Die enigste manier om dit behoorlik vas te stel, is deur ‘n grondoudit – iets wat voor die hand liggend is in ‘n land waar die regering sekere teikens stel. Intussen kan slegs van die mees betroubare beskikbare data gebruik gemaak word – en hiervolgens is dit selfs moontlik dat die 30 % doelwit reeds bereik is.

Dat totaal ander norme egter ingespan word is duidelik, en soms ook baie duidelik feitelik verkeerd. Verlede jaar nog het die Minister van Landbou ‘n artikel in Rapport geplaas waarin sy by die geykte 13 % in swart besit vassteek. Dit is, en was nog nooit die korrekte syfer nie. Dit is gebaseer op die persentasie grondgebied wat tussen die ou tuislande en die res van Suid-Afrika verdeel was. Teen 1994 het swart mense, onder andere in die vorm van stedelike erwe, reeds aansienlike grond buite die voormalige tuislande besit. Verder het ook bruin mense en Indiërs heelwat grond besit, en veral groot bruin landelike gebiede soos die Richtersveld, Mier en ander met baie groot oppervlaktes bestaan, weliswaar dikwels in betreklik droë en selfs baie droë gebiede. Tog maak die minister foutiewelik die stelling dat hierdie grond by die 13 % ingereken is.

Verder is dit laf, veral na 1994, om grond soos natuurgebiede, wildtuine, paaie en spooroppervlaktes, militêre gronde, en selfs staatsplase by die oppervlak te tel wat glo deur blanke grondbesitters besit sou wees.

Verlede jaar is ‘n grondoudit wat gehou gaan word, in ‘n stadium afgekondig.

Tog hou die politici en onkundiges vol om duidelik foutiewe syfers te gebruik. Vanoggend maak Johann Maarman, senior assistent-redakteur van die Burger, die stelling dat ons nog ver van die teiken van 30 % teen 2014 is en dat ‘n stywe drafstappie ingesit moet word. In dieselfde rubriek het hy dit oor misverstande.

So lank die werklike, aanvaarde feite nie op die tafel is nie, sal die grondkwessie, in Maarman se woorde, ‘n seer tand wees. Onder die probleme wat hy noem, tel onbevoegde grondkommissarisse. Dit is so, maar dit is die oortjies van die seekoei. Agri SA het onder meer ‘n saak na die Menseregtekommissie verwys waar boere minder aangebied en betaal is vir die grond as wat die departement se eie waardeerders bepaal het. Kort-kort was daar bewerings dat te veel vir ander grond betaal is dat ‘n wye reeks amptenare en ander belanghebbendes dan in die buit gedeel het.

By minstens een vergadering tussen boere en verteenwoordigers van die provinsie se kantoor van die Grondsake, is in die teenwoordigheid van die destydse adjunk-minister, wyle Dirk du Toit, ‘n resolusie aanvaar dat die betrokke kantoor voortaan korrespondensie van boere met wie onderhandel word sal beantwoord. By dieselfde vergadering het Du Toit gevra die boere moet ‘n versoek rig vir die vestiging van ‘n klagtedirektoraat in sy departement, want sy eie kantoor kan nie voorbly met klagtes nie.

Kort voor die verkiesing is dit dan ook te wagte dat populistiese retoriek sal deurslaan, wat die jongste voorgestelde wysigings aan die verblyfsekerheidswet hopelik is. Dit is so onrealisties geformuleer dat dit onmoontlik is om te dink dit is werklik iemand se erns om te implementeer, en daar is bepaald meer praktiese maniere om die lewensomstandighede van plaaswerkers te verbeter.

Onder die vrae wat gevra is oor die wetsontwerp se voorneme om plaaswerkers toe te laat om op hul werkgewer se grond kommersieel te boer en beeste sonder toestemming vee aan te hou, is die vraag of daardie plaaswerkers dan ook verplig gaan word om deel van die grondbelasting te betaal. Dit is immers ‘n logiese vraag as die boer dan, by wyse van spreke, op sy eie grond uitgeboer.

Dit sal eers na die verkiesing duidelik wees of die regering nou net verkiesingspraatjies maak. Na die verkiesing is nasionaliseringspraatjies en grondgrypstories hopelik in landsbelang in die doofpot – maar daar gaan weer verkiesings kom.

En so lank die regering met sy kaderontplooiingsbeleid volhou, so lank gaan basiese regeringspligte soos dienslewering erg gebrekkig wees – en sal weer na populisme teruggeval moet word om met vertroue stembus toe te kan opruk.

автоматическая насоснаяФильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae