Hierteenoor het die e-boekwinkel, Bol.com, in een en ‘n half jaar sy verkope van elektroniese boeke met 300 % opgestoot.
Die opkoms van elektroniese kommunikasie is ook vir outoritêre regerings ‘n klip in die skoen. Die val van die Tunisiese en Egiptiese regerings word tot ‘n groot mate aan die omvang van kommunikasie op Twitter toegeskryf.
In Iran, waar die Groen-opposisie groot optogte beplan om die suksesvolle Egiptiese revolusie te vier, het die regering nie net die optog verbied nie, maar verskeie joernaliste en aktiviste aangekeer, en bloggers kla dat hul toegang tot verskeie webtuistes geblokkeer is. In reaksie hierop het die Amerikaanse regering ‘n Twitterrekening in Farsi – die amptelike taal van Iran, geopen om dit vir die Iraniërs moontlik te maak om te Twitter. Die Amerikaanse ministerie van Buitelandse Sake het reeds verskeie Farsi-Tweets uitgestuur waarin die Iranse regering die kop gewas word.
In Mianmar het die militêr-oorheersde regering die staatsmedia aangewend om die opposisieleier, Nobel-vredespryswenner Aung San Suu Kyi, blatant te dreig dat sy en haar ondersteuners “tragies aan hul einde kan kom” as hulle voortgaan om die sanksies teen die land te steun. Omdat die internet-kommunikasie in Mianmar nog nie tot volle potensiaal ontwikkel het nie, sal die bewindhebbers waarskynlik reeds veel vermag deur die ouer konvensionele media te beheer.
