Bethlehem en kie

Johannesburgers wys nogal graag daarop dat daar in die VSA ook ‘n Johannesburg is, en dat dié boonop naby ‘n plekkie met die naam Randsburg is. Ook plekkies waar eens goud gedelf is.

Maar Bethlehem is Johannesburg eintlik een voor. Een van die VSA se Bethlehems het ‘n bevolking van sowat 100 000 – dus eintlik ‘n stad. Dis die ene in Pennsilvanië wat op Kersfees 1741 deur immigrante van die Morawiese Kerk gestig is.

Dit is ‘n groot staalsentrum.

Maar daar is ook ‘n paar vreemde ooreenkomste met onse Bethlehem hier in die Oos-Vrystaat. Nie te ver weg nie, het daardie Bethlehem ook ‘n New Castle, hoewel die staalskoen nou aan die ander voet is. Boonop is daar ‘n ent verder nog ‘n Harrisburg, die Yanks se weergawe vir Harrismith.

Maar die Amerikaners het op die oog af heelwat by die Afrikaners “afgekyk.” Hulle noem koolslaai “coal slaw,” ‘n erdvark noem hulle ‘n aardvark.

Die “Afrikaans” in die Amerikaners se Engels is natuurlik meer te danke aan die tyd toe New York nog Nieu-Amsterdam en ‘n Nederlandse kolonie was.

Hoewel die geskiedenisboeke dié era as eintlik baie onbelangrik afmaak, het dit tog ‘n groot impak gemaak.

Om te dink, as die Engelse dit nie kom afvat nie, was daar nog ‘n Walletjies, wat nou Wall Street is, maar wat voorheen ook Walle geheet het na aanleiding van ‘n wal wat gebou is om vyandige Indiane weg te hou. Die Nederlanders se goewerneur, Peter Stuyvesant, het nog die naasliggende Sweedse kolonie militêr ook vir die Nederlanders gaan inpalm.

So baie van die Nederlanders van Nieu-Amsterdam was Janne en Kese dat die Engelse na dié bure as die JanKese begin verwys het en Yankees gebore is. Die Nederlanders se geldeenheid was die Riksdaalder, en die Engelse bure het items met Riks Dollars kom aanskaf.

Natuurlik het daar ook ‘n deurmekaarspul gekom. Vandag nog lees ‘n mens in Afrikaanse ensiklopedieë en tydskrifte van hoe die Rooihuide voor die bleekgesigte se koms verwoed koring geplant het. Natuurlik het die Rooihuide nie koring geken nie, en mielies, saam met skorsies, bone, pampoene en vele meer geplant wat die Westerlinge by hulle aangetref het. Maar die Amerikaners neig om mielies “corn” te noem, wat ons ook hier in Engels as “sweet corn” herken, in plaas van maize of mealies, en siedaar, die “corn” word in Afrikaans met “koring” vertaal.

‘n Mens moet natuurlik die Engelssprekende Amerikaners jammer kry. Nederlands is nie ‘n maklike taal om dinge by aan te leer nie. Neem nou maar die woord “vaak” wat in Afrikaans iets soos die teenoorgestelde van wakker beteken, maar in Nederlands “dikwels.” En gaan lees maar op die internet in Nederlandse koerante hoe die Israeli’s en Palestyne mekaar met “rakketten” (vuurpyle) bestook.

Daar by Bethlehem.

стенды развал-схожденияОлександр Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae