Nederlandse navorsing wys etniese agterstand

Immigrante begin die laerskool in Nederland nog steeds met ‘n agterstand. Die skole kry sedert verlede jaar minder owerheidsgeld om die probleem die hoof te bied. Maar die uitgangspunt van die nuwe beleid klop nie, blyk dit nou uit navorsing.

Skole kry al jare ekstra geld vir kinders wat met ‘n agterstand hul skoolloopbaan begin. Tot 2006 het ‘n skool ekstra vir leerlinge met laagopgeleide ouers gekry, en nog ‘n bykomende bedrag as laaggeskoolde ouers ook immigrante was.

Volgens die destydse onderwysminister is dit uitsluitlik die opleidingsvlak van ouers wat bepaal of ‘n kind skool met ‘n agterstand begin, en speel sy etniese afkoms daar geen rol in nie. Daarom is besluit om eweveel geld te gee vir sowel inheemse as immigranteleerlinge met laaggeskoolde ouers.

Maar die uitgangspunt van die maatreël klop nie, blyk uit navorsing van die Kohnstamm Instituut aan die Universiteit van Amsterdam. Byna alle immigrantekinders loop aan die begin van die laerskool agter gemeet teenoor hul inheemse klasmaats. Selfs die swart kinders met die hoogste opgeleide ouers doen net effens beter as die wit kinders met die laagste opgeleide ouers. “Dit is dus nie waar dat etniese afkoms geen rol speel by skoolagterstand nie”, sê navorser Jaap Roeleveld.

Die nuwe beleid is stapsgewys ingevoer en is sedert verlede jaar volledig van krag. Daardeur kry skole met baie inheemse leerlinge met laagopgeleide ouers deesdae meer geld. Swart skole kry vir ‘n deel van hul vroeëre agterstandsleerlinge geen geld meer en moet dus met minder klaarkom.

free sotsАлександр Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae