As die rasseskoen aan die ander voet is

Die jaar 2010 is afgesluit met ‘n reuse openbare debat oor die rassekwessie. Dit het ook in peilings geblyk, ironies in dieselfde jaar waar ondersteuners van die huidige grondwet op sukses geroem het na aanleiding van die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat in Suid-Afrika aangebied is. Dit was op die oog af merkwaardig nadat die AWB-leier, Eugene Terre’Blanche nog in dieselfde jaar tydens ‘n plaasmoord vermoor is.

Reeds in die aanloopfase tot die toernooi het sielkundiges en sosioloë gewaarsku oor die post-euforiese depressie of selfs post-euforiese trauma wat ‘n ruk na die toernooi gaan inskop – dan wanneer mense weer met die harde werklikhede geslaan word. Skerp verhoogde kragtariewe was maar een so ‘n faktor. Plaasmoorde wat in alle erns hervat is, nog een.

Bykans elke insident en argument het op die rassekwessie uitgeloop, en die debakels wat gevolg het op uitlatings deur Annelie Botes en Steve Hoffmeyr was maar simptomaties.

Dit is meer as net ‘n tikkie ironie dat die debat na vanjaar sou oorloop. Vanjaar is dit immers presies 20 jaar sedert Suid-Afrika wetlik gesproke ‘n nie-rassige land geword het, toe die bevolkingsregistrasiewet as deel van ‘n pakket sogenaamde klein-apartheidswette ook in die slag gebly het.

Vroeg in die jaar was dit ook ‘n simboliese, hoewel erg omstrede figuur uit die verlede, wat die rasselont vir die jaar sou aansteek toe Winnie Madikizela-Mandela en haar lyfwagte na ‘n beweerde spoedoortreding voorgekeer is.

Hoewel die saak nog afgehandel moet word, is die rassekaart sommer hard gespeel omdat een van die twee polisiebeamptes wat die voorkeerwerk gedoen het, blank is. Hy sou glo rassisties opgetree het, wat sy swart kollega verontwaardig laat hoor het dat dit darem dik vir ‘n daalder is – hy is dan self swart.

Die aflosstokkie word nou eers aangegee na ‘n dissiplinêre verhoor in die polisie in die Vrystaat. Hier het die aangeklaagde, ‘n swart polisieman, uit ‘n dissiplinêre verhoor gestap nadat sy Popcru-verteenwoordiger gekla het die dissiplinêre paneel is te wit. Die wit paneellede het hierop ‘n siviele lastereis teen die Popcru-verteenwoordiger ingestel nadat hy hulle glo wit rassiste en konstitusionele misdadigers genoem het.

Die betrokke polisielid is intussen op aanklag van moord in hegtenis geneem nadat ‘n persoon wat hy glo aangerand het, dood is.

Dat die rassekaart steeds gespeel word nadat ras amptelik lank voor die aanbreek van die huidige bedeling afgeskaf is, hoef niemand te verbaas nie. Ras, as norm, is in oordaad deur die nuwe regering terug op die wetboeke geplaas. Dit raak iemand se status met werksoek, dit raak sy status met aansoek vir keuring, vir beursaansoeke – daar is grondhervormingsteikens. Organisasies soos die Black Lawyers Association, die Black Journalist Association, swart sakekamers en vele meer word gekoester.

Die towerwoord wat alles nie-rassig moet kleur, is “transformasie.” Dié woord is onlangs ook, skynbaar onnadenkend, deur Kovsies se woordvoerder gebruik om te motiveer hoekom God uit die universiteit se leuse gehaal is. So is ook dié kwessie in die rassekookpot gedompel en swart Christene onregstreeks beledig deur die afleiding dat dit gedoen is ter wille van rasseteikens.

Iemand wat met dinamiet werk, moenie met vuurhoutjies speel nie.

пескоструйная обработка металлатопкарго

Maak 'n opvolg-bydrae