Een van die mees fundamentele vrae wat elke mens homself kan vra, is: “Wat is die doel van my lewe? Waarom is ek hier? Dit baat jou nie veel om andere te vra wat die doel van jou lewe is nie. Hulle gaan jou antwoord uit hulle perspektief uit – wat hulle glo die doel van jou lewe behoort te wees.
Oor die millenia heen het verskeie profete ontstaan wat gepreek het wat die antwoord op hierdie vraag behoort te wees. Hulle het basies ‘n moraliteit probeer neerlê vir die mens. Hoe jy behoort te lewe, waaraan behoort jy jou lewe toe te wy? Uit die gedagtes van hierdie mense het daar basies drie gedagtestrominge ontstaan:
Eerstens: Jou lewe behoort aan God. Die goeie is om jou toe te wend en jouself op te offer in Sy diens. Daar is baie voorbeelde van mense wat deur die eeue hierdie waardestelsel tot die uiterste gevoer het, soos Moeder Theresa. Ek het ook ‘n NG predikant geken wat in die swart woonbuurt van Mamelodi gaan woon het, sodat hy tussen sy gemeentelede kon wees en soos hulle kon leef.
Ons het ook onlangs besoek ontvang van ‘n jong man wat hier in Amerika kom sendingwerk doen het vir sy doktorale studies in Teologie. Sy permanente woonplek is in Sunnyside in Pretoria tussen duisende Nigeriërs, omdat hy in sy hart geroepe gevoel het om hulle te bekeer to God se evangelie. Mense soos hy glo in hulle diepste wese dat hulle op aarde geplaas is om God te dien, en hulself op te offer in Sy diens.
Ek het respek vir hulle, omdat hulle die integriteit het om te leef volgens die waardestelsel waarin hulle glo. Maar daar is ook baie vals profete. Meeste van die predikante van die NG kerk het in die jare van apartheid die apartheidsdoktrine van die kansel af verkondig. Hulle het Apartheid in hulle kerke toegepas. Het hulle werklik geglo dat apartheid God se wil was, of het hulle dit bloot verkondig omdat hulle feitlik deur die bank aan die Broederbond behoort het, en dit die beleid van die Broederbond was?
Hulle het vir hulself praalpaleise vir kerke en wonings gebou waar hulle soos konings geleef het, terwyl die land vol armes was wat skaars kos kon bekostig. Toe die Broederbond besluit dat apartheid ‘n fout was, het hierdie ruggraatlose wesens op ‘n streep verskoning gevra vir apartheid! Het hulle in die eerste plek God gedien, of hulself? Was hulle weinig meer as lakeie van die Broederbond? Baie van die skoolhoofde van afrikaanse skole was ook lede van die Broederbond.
My dogter het my een aand vertel dat daar by die skool vir hulle gesê is dat God hulle in Suid-Afrika geplaas het met ‘n doel. As hulle deur die swartes vermoor word, was dit God se doel en hulle moet dit so aanvaar. Watter loutere Broederbond-snert! Dis die aand wat ek besluit het om te gee pad uit Suid-Afrika. Ek gaan nie my kinders opoffer aan Broederbond-propaganda wat sê dat dit God se wil was dat hulle moet sterf in Suid-Afrika nie.
Tweedens: Jou lewe behoort aan jou medemens. Die goeie is om jouself op te offer ter wille van die geluk van ander mense op aarde. Dit is Karl Marx en alle sosialiste se uitgangspunt. Jy moet opoffer ter wille van die meerderheid. Die regte van die meerderheid tel meer as jou persoonlike geluk.
Dit word foutloos weerspieël in hierdie aanhaling uit die politieke program van die Nasionale Sosialistiese Werkers Party van Duitsland (Nazis): “Die aktiwiteite van die indiwidu moet nie toegelaat word om te bots met die belange van die meerderheid nie, maar moet gerig wees op wat goed is vir almal.” Wie sou bepaal wat “goed is vir almal”? Die sosialiste natuurlik!
Dit is die uitgangspunt van die sosialiste wat vandag die ANC in Suid-Afrika opmaak. Die witmens in algemeen, en die Afrikaner in besonder, moet sy eie geluk opoffer ter wille van die meerderheid. Die Afrikaner moet nie agiteer vir ‘n Volkstaat nie, want dan sal hy homself nie langer opoffer ter wille van die arme, meerderheid swartes nie! Glo aan hierdie beginsel, dan jy glo dat jy soos een of ander slagdier op een of ander altaar aan jou medemens opgeoffer moet word! Verstaan die waardestelsel van die ANC en jy sal verstaan watter opdraende pad dit gaan wees om met hulle te onderhandel!
Derdens: Jou lewe behoort aan jouself. Jou eerste plig is teenoor jouself (en die mense wat lief het). Die goeie is om jou lewe te lei soos jy goed dink! Jou persoonlike geluk moet eerste kom in jou lewe. Is dit selfsugtig? Ja! Maar is dit nie net menslik om eerste vir jouself te sorg nie? As dit selfsug is, is daar eerbaarheid in selfsug!
Ten minste sover as selfsug beteken dat jy in die eerste plek jou persoonlike belange op rasionele wyse nastreef. (Om te roof en te steel is nie rasioneel nie.) Smag jy na ‘n Volkstaat waar die Afrikaner homself kan wees en sy kultuur kan bewaar? Wil jy nie jouself en jou kinders opoffer ter wille van die geluk van die massas minder bevoorregtes nie? Jy is selfsugtig! Maar daar is eerbaarheid in jou selfsug. Erken dit teenoor jouself en jy sal beter verstaan hoe om met die sosialiste in die ANC te onderhandel.
Wat is jou moraliteit? Aan wie behoort jou lewe? Dis ‘n vraag wat elke mens net vir homself kan antwoord. Besluit vir jouself en leef dan volgens jou eie waardestelsel. As jy voorgee om een waardestelsel te hê, en dan nie daarvolgens lewe nie, is jy ‘n ruggraatlose tweegesig. Maar aanvaar dat jy waarskynlik altyd in die minderheid sal wees as jy werklik volgens jou eie waardestelsel leef. As jy liewer in die meerderheid wil wees, volg al die Naspers koerante wat verkondig dat die Afrikaner nie ‘n aparte volk is nie, maar slegs Suid-Afrikaners is wat toevallig Afrikaans praat en ondersteun die DA!
Laat my asseblief toe om af te sluit met my gunsteling aanhaling van Ayn Rand: “For centuries the battle of morality was fought between those who claimed that that your life belongs to God and those who claimed that it belongs to your neighbors – between those who preached that the good is self sacrifice for the sake of ghosts in heaven and those who preached that the good is self sacrifice for the sake of incompetents on earth. And no one came to you to say that your life belongs to you and that the good is to live it.”
