Dit volg nadat ‘n brand vroeër die week die Pretoria Landdroshofgebou in puin gelaat het en ‘n brand vandag in die Hillbrow toring in Johannesburg ontstaan het.
Mnr Jaco Mulder, VF Plus LPW vir Gauteng het gesê dat die Department vir Infrastruktuur en Ontwikkeling, plaaslike owerhede en nooddienste in die provinsie ‘n gesamentlike ondersoek moet gelas na die standaarde van instandhouding, brandtoerusting en noodplanne.
Dit wil voorkom asof swak onderhoud, ongemagtigde toegang en gebrekkige noodplanne besig is om sy tol te eis, het Mulder gesê. Verskeie prominente geboue het gedurende 2010 alreeds in brande deurgeloop, onder andere die Pieter Wessels Tehuis vir Bejaardes in Nigel, die Waterford Sakepark in Johannesburg, twee geboue in Crown Mines, ‘n gebou in Marshalltown Johannesburg en die Krugerpark woonstelle in Pretoria.
Gedurende 2009 het die Johannesburg Poskantoor in Rissikstraat afgebrand en verskeie brande het by geboue in Randburg en selfs by die Pretoria Skou uitgebreek.
Dit het tyd geword dat die owerhede nou drasties optree om toe te sien dat verdere verlies aan infrastruktuur en geboue verhoed word.
