Afriforum trek haatspraakklag teen ANC terug

AfriForum het gisteroggend ‘n klag van haatspraak wat hy teen mnr. Julius Malema en die ANC ingedien het, teen die ANC teruggetrek.

Malema se verhoor sal na verwagting einde April volgende jaar voor regter Colin Lomont in die hooggeregshof in Johannesburg begin.

Die klag van haatspraak kom nadat Malema die woorde Dubul’ ibhunu (“skiet die Boer”) in Polokwane in Maart by ‘n studentebyeenkoms gesing het.

AfriForum het op 4 April ‘n interdik in die hooggeregshof in Pretoria teen Malema verkry wat hom verbied om die liedjie met dié woorde in te sing.

Volgens mnr. Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, is die saak teen die ANC teruggetrek omdat die party openlik kritiek teen Malema se liedjie uitgespreek het.

“Mnr. Malema was glad nie tegemoetkomend nie en het in geen stadium gesê hy het berou nie.” Volgens Spies het die ANC-jeugleier gesê hy gaan self ook in die saak getuig.

Volgens mnr. Siyabonga Mahlangu, wat die ANC verteenwoordig het, is dit “nie logies” om die saak teen die ANC, en nie teen Malema nie, terug te trek. “Malema was nog nie eens gebore nie toe daar al begin is om dié lied te sing.” Mahlangu is ook bekommerd oor die gevolge wat die verbod op ander liedere sal hê. “Elke tweede struggle-lied bevat elemente van dié lied.”

Volgens Spies is daar nie op die oomblik vaste wette oor haatspraak nie.

“Ons hoop om met dié verhoor die tafel te dek om op regsgronde te besluit wat is reg om te sê en wat nie.”

Daar sal ook na Malema se optrede die afgelope naweek, toe hy na me. Helen Zille, DA-leier, as ‘n “kokkerot” verwys het, in hul saak verwys word, het hy gesê.

турецкая баня хамам своими рукамиФильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae