“Veiligheidsmagte het ‘n vrou wat van die stuur van die twee pakketbomme verdink word, in hegtenis geneem,” het Jemen se ministerie van verdediging vroeër aangekondig.
Die vrou is ‘n mediese student aan ‘n universiteit in Sanaa, het ‘n Jemenitiese veiligheidsbeampte aan AFP gesê.
Volgens pres. Ali Abdullah Saleh het inligtingsdienste “wenke ontvang dat ‘n vrou die pakkies na twee vragmaatskappye gestuur het.” Die twee Amerikaanse vragdienste UPS en FedEx, het die pakkies glo hanteer.
Sy is egter vrygelaat. Die hoofverdagte is tans die bommaker van die onderbroekbom wat ‘n jaar gelede onderskep is voordat dit ‘n vliegtuig oor Detroit sou laat ontplof het .
Amerikaanse owerhede sê die twee pakkies was vir sinagoges in Chicago bestem. Ses-en-twintig ander gekonfiskeerde pakkies word tans ook ontleed.
Pres. Barack Obama het gesê hy glo dit is die werk van Al-Kaïda wat in Jemen bedrywig is – en het onderneem om die organisasie te vernietig.
Amerikaanse intelligensiepersoneel het aan die Sunday Telegraph gesê hulle probeer Jemen oorreed om ‘n onbemande vliegtuigbasis van die CIA op te rig soortgelyk aan die een in Pakistan om terreur te bekamp.
Duitsland en Frankryk, het intussen aangedui dat hulle lugvrag uit Jemen sal wegwys en Australië het aangekondig dat alle lugvrag uit Doha en Doebai sorgvuldig deursoek sal word.
Een van die twee kragtige bomme het byna deurgeglip ten spyte van die inligting tot ondersoekers se beskikking. Britse owerhede het aanvanklik geen plofstof in hul soektog deur die lugvrag by die lughawe gevind nie, sê Amerikaanse ondersoekbamptes.
Nadat die owerhede in Doebai dáár ‘n bom ontdek het, het Britse ondersoekers die lughawe van voor af begin deursoek en die tweede bom betyds opgespoor.
