Dit herinner aan die tyd toe ‘n eertydse premier van Mpumalanga, terwyl hy sy provinsie in die grond in regeer het, gesê het dit is in die haak vir politici om kluitjies te bak.
Wanneer ‘n verrassingsaanval op die vyand beplan word, en die suksesse en beperkte lewensverlies deur doeltreffende geheimhouding bepaal word, maar dit lek uit, is ‘n blatante leuen dalk een ding. Die slim ding is egter om die aanval af te gelas aangesien dit die vyand in die geval van ‘n lekkasie plaaslik tien teen een se ore ook sou bereik het.
Verder deug leuens net om ‘n regering se geloofwaardigheid te ondermyn, en kan ‘n positiewe ekonomiese groeikoers by voorbaat byna vir seker op die maag geskryf word.
Na talle regstreekse ontkennings oor ‘n kabinetskommeling, het ‘n ongewoon omvattende skommeling waartydens die snoeiskêr ook mildelik ingelê is wel plaasgevind. Sewe ministers is in die proses weggelaat, nog is geskuif en die geledere van adjunkministers is verder aangevul.
Terwyl van die weglatings, soos Siphiwe Nyanda by kommunikasie, Mayande Sibiya by vrouesake, gestremdhede en kinders, Membathisi Mdlalana by arbeid, Buyalwa Sonjica by water- en omgewingsake en Makhenkezi Stofile by sport duidelik onvermydelik was, is dit ongelukkig so dat daar nog ministers is wat eintlik in dieselfde bootjie moes wees. Verdediging, mynwese, die staatsdiens en plaaslike regering spring in die oog, maar kenners wys daarop dat die bekleërs sulke politieke swaargewigte is dat dit ondenkbaar is om hulle die trekpas te gee.
Of die weglatings, soos formeel verklaar is, enige impak op die regering se planne sal hê om spoedig miljoene werksgeleenthede te skep, is ‘n ope vraag.
Minstens lyk dit of die president nou besef dat die politieke beloning van kaders, en ‘n doeltreffende kabinet nie noodwendig dieselfde ding is nie.
Terwyl van die weglatings ook ‘n aanduiding is dat blatante nepotisme nie geduld sal word nie, is die boodskap nog verre van deeglik en omvattend genoeg verskaf. Die staat het juis vroeër die naweek ou mediasnoer-wetgewing ingespan om ‘n koerant te verbied om opvolgberigte oor beweerde nepotisme in veral die polisie se misdaadintelligensie-afdeling aan die groot klok te hang. Wat dit betref, word op die meeste ‘n gemengde boodskap verskaf.
Kenners meen ook dat Geoff Dodge en Barbara Hogan se afdankings eerder met aandrang van Cosatu as doeltreffendheid verband hou. Trouens, sommige kenners lees in die weglatings ‘n knieval na links.
Suid-Afrika het in die verlede al groot skade gely deur te volhard met uiters onbekwame ministers in sekere portefeuljes soos gesondheid, onderwys uit die Bengu-era, en binnelandse sake, wat agterna blyk dit bitter moeilik maak om die skip weer op koers te kry. Die tradisie van vasklou aan ‘n kader ongeag die gevolge, kan nie bekostig word nie. Minstens is daar nou ‘n kentering, hoewel nog gans te veel vrae onbeantwoord gelaat is.
Wanneer die kiesers binnekort stembus toe opruk, kan hulle gerus ook onthou dat hulle weer eens blatant vanuit die boonste gestoeltes belieg is. Dit laat beloftes oor sake van belang se geloofwaardigheid aan ‘n bitter dun draadjie hang.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.