Nuwe era met Henry Jeffreys New Age

Die nuus dat Henry Jeffreys, tot onlangs redakteur van Die Burger, die nuwe redakteur van die New Age gaan word, sal deur skeptici met valkoë dopgehou word.

Hoewel Jeffreys met sy aanstelling aangedui het dat die nuwe koerant “‘n unieke en onafhanklike geleentheid aan lesers van dagblaaie bied” sal min mense sy verwysing na die “onafhanklike” nou ernstig opneem.

Die eienaars van die New Age, die Gupta-familie, se bande met die ANC en pres. Jacob Zuma is gewoon te sterk. Boonop het die koerant ‘n eerste, en spesiale opgawe, gedruk met die bykans uitsluitlike doel om dit by die ANC se onlangse kongres in Durban te versprei.

Daardie uitgawe het saamgeval met ‘n waarskuwingsbrief oor persvryheid deur die internasionale persvryheidswaghond, Verslaggewers sonder Grense. Toe die ANC nie gehoor nie, het Suid-Afrika kort hierna vyf plekke op die internasionale persvryheidsindeks teruggesak, nadat die land vroeër reeds deur Freedom House tot land wat net gedeeltelik persvry is, geherklassifiseer is.

Om dan te midde hiervan ‘n knieval voor die ANC te doen, en boonop in verskeie opsigte die vlae van ‘n lyfblad te swaai, dui nie werklik op onafhanklikheid nie.

Wat, uit die persoon Jeffreys, kan uit die aanstelling afgelei word?

Jeffreys was redakteur van Beeld, en is maar is ‘n paar jaar gelede as redakteur van Die Burger herontplooi, waarheen hy deur minstens een kornuit gevolg is. By Die Burger het hy, en die adjunk-redakteur Zelda Jongbloed, egter in dieselfde koor begin sing, wat veral gemanifesteer het in dikwels hoogs omstrede rubrieke wat nie net in Die Burger nie, maar ook in van die ander susterkoerante geplaas is.

Skielik is beide saam weg, maar is as rubriekskrywers behou. Dié rubrieke het hul gebruiklike kwota omstredenheid behou.

Beide Jefferys en Jongbloed het geen geleentheid verpas om hul struggle-verlede aan die groot klok te hang nie. Veral Jongbloed het dikwels onsuksesvol die balanseertoertjie van transformasie onder die dekmantel van nie-rassigheid probeer in vee.

Jeffreys het ‘n ruk na sy onverwagse uittog by Die Burger ook nog as die voorsitter van Sanef aangebly. In hierdie hoedanigheid het hy gewoonlik die regte geluide gemaak.

In dié stadium is daar so ver bekend geen aanduiding dat Jongbloed of ander knievallers Jeffreys na die New Age gaan volg nie.

Dit sal interessant wees om nou te sien of Jeffreys en die New Age so sal saamspan dat die koerantwese in Suid-Afrika dieselfde kenmerke van polarisasie dra as dit wat peilings al hoe meer op die land se bevolkingsamestelling van toepassing maak.

Gaan die New Age bloot die naïewe erfenis van die struggle wat in die oë van sommiges erg ontspoor het, en in die oë van ander nooit eens op die spoor was nie, se lewe verleng, of gaan dit soos Malema en ander eis, by die koor van voortgesette revolusie inval?

Min waarnemers sal egter twyfel – die gevaar vergroot dat nog meer Suid-Afrikaners van die werklikhede vervreem gaan raak, en dat nog meer mense hul kruisies gaan trek sonder die vaagste benul van die inhoud van die sosiale kontrak wat hulle teken.

светильники купитьДанильченко Харьков

Maak 'n opvolg-bydrae