Suid-Afrika se verslag oor sy verbintenis tot die beëindiging van marteling en ander vorme van mishandeling in polisieselle en korrektiewe instellings, is nog steeds nie afgehandel nie.
Suid-Afrika is een van die 82 lande wie se verslae laat ingedien is. Die land het die Verenigde Nasies se Konvensie teen marteling in 1998 onderteken, maar dit nog nie ingevolge die wet tot ‘n misdryf verklaar nie.
Suid-Afrika se aanvanklike verslag is vyf jaar ná die sperdatum in 2005 ingehandig. Die Komitee teen Marteling het gevolglik dringende terugvoering oor ‘n aantal kwessies aangevra.
Die sperdatum hiervoor was drie jaar gelede. Die land moes verder ‘n periodieke verslag aan die einde van 2009 inhandig, maar nie die terugvoering óf die verslag is ingedien nie.
