Die dak van die ou Pretoriase landdroshof het inmekaargetuimel terwyl brandweerdienste Woensdag steeds onverpoos gewerk het om die vlamme te blus.
Die gebou moes dadelik ontruim word.
Volgens Johan Pieterse, woordvoerder vir die Pretoria-nooddienste, het die brand omstreeks 13:45 begin. Teen 17:00 was die boonste vloer van die gebou heeltemal verwoes.
Rookwolke het oor die stad gehang terwyl brandweermanne met gasmaskers probeer het om die vlamme onder beheer te kry.
Niemand is in die voorval beseer nie. Een brandweerman is egter na die hospitaal geneem weens rookinaseming.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Die nuwe landdroshof-gebou is nie deur die brand geraak nie.
Beide Pretorius- en Schubartstraat is tydelik gesluit. Na bewering was daar sowat nege brandweervoertuie op die toneel.
